(A001) Redding en weergeboorte
In die kort gedeeltes wat ek op video begin hanteer het, het ek besef dat ek dalk woorde en terme gebruik wat nie almal ken of verstaan nie en gevolglik het ek besluit om by die begin te begin en seker te maak almal is op dieselfde vlak.
God het die mens ontwerp met ‘n gees, siel en liggaam ons sien dit in –
1Ts 5:23 En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus!
- Gees – ons kan dit nie sien, voel of hoor nie. Hoekom het ons ‘n gees, want dit is wat ons aan die lewe hou, sonder die gees is die liggaam dood (Jak 2:26) en God is Gees en ons moet hom in gees aanbid (Joh 4:24), maw ons kommunikeer met God deur ons gees.
- Siel – gevoelens en kennis maw ons verstand of brein.
- Liggaam – Die deel wat ons kan voel en ons 5 sintuie – voel, reuk, hoor, sien en proe.
Aan die begin het God Adam en Eva geskape, hulle het egter nie na God geluister nie en gesondig.
Die gevolg was dat daar ‘n verwydering tussen die mens se gees en God gekom het en dit het die siel en liggaam beïnvloed wat oorgedra is na hulle nageslag en ons is deel van daardie nageslag.
God voorsien egter ‘n pad om hierdie vloek wat oor die mens gebring is uit die weg te neem.
God stuur Sy Seun Jesus aarde toe om mens te word en vir ons sonde as ‘n sondelose mens te sterwe.
Joh 3:16-18 God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. 17 God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. 18 Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie
Hoe word ons van ons sonde vrygemaak en ons gees weer met God gekoppel?
Rom 10:9-10 As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered.
Ons moet in ons hart glo en met ons mond bely dat Jesus vir ons sonde gekruisig is en deur God uit die dood opgewek is.
Wanneer ons glo en bely wat Jesus vir ons gedoen het, word ons vrygemaak deur God se genade.
Ons word dan weergebore en ons gees word nuut gemaak en geseël deur die Heilige Gees. (Ef 1:13)
Ons is slegs gered wanneer ons weergebore is en kan dan ook verklaar dat ons ‘n kind van God is.
1Joh 3:9 Iemand wat ‘n kind van God is, doen nie meer sonde nie, omdat die Gees van God in hom bly; en hy kan nie meer sondig nie, omdat hy uit God gebore is.
Na ons gees verseël is kan ons gees nie meer sondig nie, maar ons siel wat ons optrede beheer moet nou nuut gemaak word sodat ons volgens die wil van God kan lewe en dit kan slegs gebeur deur Woord van God (Rom 12:2).
In die volgende deel behandel ons die verskillende dope.