Basiese dissipelskap
Basiese dissipelskap
As nuut wedergebore kind van God is dit nodig dat jy ‘n dissipel gemaak word soos Jesus in Mat 28:19 Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.
Hierdie is ‘n uitvloeisel van “Basis van Christenskap” wat Alta opgestel het in ‘n maklike taal om dit selfs vir kinders moontlik te maak om te verstaan waaroor Christenskap gaan en wat jy moet weet om ‘n dissipel van Jesus te wees.
Inhoud
- Die Ewige Lewe – (Bladsy 2)
- Redding deur Genade – (Bladsy 3)
- Geregtigheid deur Genade – (Bladsy 4)
- Verhouding met God – (Bladsy 5)
- God se Karakter – (Bladsy 6)
- Bekering – (Bladsy 7)
- Vaste Verbintenis – (Bladsy 8)
- Waterdoop – (Bladsy 9)
- Identiteit in Christus – (Bladsy 10)
- Wanneer ‘n Christen sondig – (Bladsy 11)
- Integriteit van God se Woord – (Bladsy 12)
- God is nie Skuldig nie – Bladsy 13)
- Krag van ‘n Gees Vervulde Lewe – (Bladsy 14)
- Hoe om die Heilige Gees te ontvang – (Bladsy 15)
- Voordele om in Tale te Spreek – (Bladsy 16)
- Selfgesentreerdheid – (Bladsy 17)
Die Ewige Lewe
Alle mense se gees bestaan vir ewig, maar om sonder God, Jesus en Heilge Gees te lewe, is om geestelik verwyderd van God te wees, of om geestelik dood te wees.
‘Joh 3:16 Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.’ (AOV)
Wat beteken ewige lewe regtig?
Jesus het gekom om ons van ons sonde te verlos, indien ons Jesus aanvaar as ons verlosser, dis die goeie nuus, is ons vry van sonde-skuld!
Die Goeie Nuus (evangelie of gospel) beteken eintlik meer as net verlossing van sonde.
Die nag voor Jesus se kruisiging het Hy tot God gebid en gesê:
‘Joh 17:3 En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.’ (AOV)
Die skrifgedeelte sê, dat om God te ken, is om ‘n verhouding te hê met Hom, en dit is ewige lewe! Redding is meer as net verlossing van ons sondeskuld, dis om God en Jesus en die Heilige Gees te ken, soos ons, ons beste vriend ken.
‘Gal 1:4 wat Homself gegee het vir ons sondes, sodat Hy ons kan uitred uit die teenwoordige bose wêreld, volgens die wil van onse God en Vader, ‘ (AOV)
Dit beteken dat ons reeds hier op aarde ‘n verskil sal sien en ervaar in ons lewens.
Ps 23:1 en 6 ‘ ‘n Psalm van Dawid. Die HERE is my herder; niks sal my ontbreek nie. 6 Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die HERE bly in lengte van dae.’ (AOV)
Kyk ook na Joh10:10
Redding deur Genade
Redding is wat ons ontvang het deur Jesus se opoffering vir ons aan die kruis.
Genade is ‘n geskenk van God, dis God se guns wat aan ons gegee word wat ons benodig sonder dat ons dit verdien.
Ons was skuldig weens sonde voor God, maar God het Jesus vir ons gegee.
Rom 5:8 ‘maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.’ (AOV)
Deur God se genade het Hy Jesus aarde toe gestuur om vir ons sonde te sterf en wanneer ons dit glo en bely is ons gered van ons sondelas.
Ons loof en prys God dat Hy vir ons Jesus gegee het, sodat ons vry van die sondelas kan wees en in geregtigheid (vry – sondeloos) voor God kan staan en dit net deur in Jesus te glo.
Ef 2:8-9 ‘Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; 9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.’ (AOV)
2Kor5:17-21. God sien nie ons sonde nie, Hy sien ons deur dit wat Jesus op die kruis vir ons gedoen het. (Ps103:12)
Geregtigheid deur Genade
God se genade maak ons geregtig (vry) voor God.
Genade is ‘n geskenk van God, dis God se guns vir wat ons benodig sonder dat ons dit verdien.
Daar is twee soorte geregtigheid, eie geregtigheid en God se geregtigheid deur wat Jesus vir ons gedoen het.
Eie geregtigheid: Beteken niks in God se Koninkryk nie. Deur goed en reg te doen, help ons net in ons verhouding met die mense om ons. As ons doen wat reg en aanvaarbaar is, bly ons uit die moeilikheid by die huis of by die werk; vb. as jy die vuilgoed gereeld uitneem, is niemand kwaad vir jou nie.
God se geregtigheid: Ons kan nie God se geregtigheid bekom deur iets te doen nie. Dis ‘n geskenk, dis verniet. Ons kan wel in dankbaarheid reageer op die geskenk.
Ef 2:8-9 ‘Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; 9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.’ (AOV)
Ons is almal skuldig voor God, nie een is onskuldig nie, maar Jesus het die prys volledig betaal vir ons. Daarom wanneer ons Jesus aanvaar as ons verlosser is ons vry, sonder sonde, geregtig voor God.
2Kor 5:21 ‘Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.’ (AOV)
Verhouding met God
‘n Positiewe verhouding is die vrug van jou kennis en vertroue van die persoon. Hoe beter jy die persoon ken, hoe gemakliker sal jy wees en meer vertroue sal jy hê in die persoon en die verhouding sal dieper raak soos julle tyd saam deurbring, dit is ‘n proses. ‘n Verhouding sal slegs groei as twyfel afwesig is.
Wanneer ons God nie ken nie, is ons liggelowig (ook bygelowig) en glo enige iets wat ons hoor in verband met Hom. Ons sal dan ook vreesagtig wees vir baie dinge. God se perfekte liefde verdryf enige vrees. 1Joh4:18. Vaste vertroue en geloof in ‘n God wat ons ken maak ons vry van vrese.
Geloof sonder ‘n verhouding met God is net ‘n godsdiens, waar jy aanbid en glo jy moet doen (werk) om aanvaarding te verkry.
Versoening met God deur Jesus Christus is die pad na ‘n verhouding met God. Ef2:12-14, 17-18. Ons het toegang tot God deur die Heilige Gees.
Ons bou ons verhouding met God deur tyd in Sy Woord, die Bybel, deur te bring en God so te leer ken. Deur die Bybel te lees, te bid en om God te loof en prys bou ons kennis en verhouding met God.
God se Karakter
God is ons koning en Vader. Hy is liefde. Hy is goed en gee om vir ons. Hy is geduldig, vriendelik, getrou, genadig, vreugdevol en gee vrede. Hy vergewe en seën. (1Joh 4:1-11; 2Kron 20:21; Ps 136; Ps 23:6)
God is nie kwaad vir ons nie. God was nie ook kwaad vir Adam en Eva nie. Hy het hulle opgesoek, dit was hulle wat skaam was en gaan wegkruip het. God het hulle uit die tuin van Eden weggeneem, sodat hulle nie van die boom van die lewe sal eet nie. (Gen 3 en 4) Sodat ons nie vir ewig met die gevolge van sonde sou bly lewe nie. Dink net hoe dit sou wees om met siekte, haat en allerhande ellendes vir ewig (altyd) te lewe. God het ook met ander mense na die sondeval gepraat tot in die Nuwe Testament en selfs vandag nog. Kain en Abel (Gen4), Noag(Gen6), Abram (Gen12) en Moses (Exodus).
Tydens die tydperk van die Ou Testamentiese Verbond moes God Israel straf, want hulle het ‘n ooreenkoms God gemaak, aangaande die wet (Ex19:8). God se verbond het altyd beter geword. Die hoogte punt is God se beloftes wat vervul is in Jesus. Ons is deur Jesus vrygekoop van die sondelas om ‘n lewe van oorvloed in elke opsig te kan hê.
God is liefde! Liefde se aksie is, om te gee. Liefde se houding is, om te vergewe.
God gee Sy Seun en vergewe ons sondes. Joh 3:16
Rom 5:6 ‘Want toe ons nog swak was, het Christus op die regte tyd vir die goddelose gesterwe.’ (AOV)Rom 5:8‘maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.’ (AOV)
Bekering
Bekering beteken – verandering van denke, gedagte of hart wat ‘n verandering veroorsaak.
Die verhaal van die verlore seun in Luk 15:11-32, is ‘n baie bekende en goeie skrifgedeelte om bekering te verduidelik.
Hy het in sy swaarkry besef dat hy verkeerd opgetree het. Hy het die probleem erken. Hy het besluit om terug te gaan na sy vader se huis, selfs al is hy ‘n slaaf daar, sal dit beter wees as sy huidige omstandighede. Hy het opgestaan en huis toe gegaan.
Bekering bestaan uit drie aksies:
- erken die probleem,
- besluit om iets daaraan te doen,
- neem die aksie om die besluit uit te voer (dit te doen).
Bekering is nie verlossing nie, dit is ‘n stap in die regte rigting. Erkenning van ons sondes, help ons om te verstaan hoe nodig ons ‘n sondelose verlosser het.
Ons kan verlossing slegs bekom deur te erken dat Jesus die prys namens ons betaal het.
Vader God, sal ons verwelkom nes die pa in die verhaal, sy seun met ope arms verwelkom het en ‘n fees gereël het om dit te vier.
Bekering beteken ook om terug te draai van verkeerde of verdwaal weë na Vader God, Jesus en Heilige Gees toe. Dit gebeur na ons Jesus as ons verlosser aanvaar het en af gedwaal of af gekoel (lou geword) het in ons passie (toewyding / commitment) vir Jesus.
Vaste Verbintenis (Commitment) – Getroue Toewyding
Getroue toewyding is die vrug van ‘n goeie verhouding met God ons Vader.
God vra ons toewyding aan Hom. Hy wil dat ons Hom nommer een in ons lewens sal maak.
Mat 6:33 ‘Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.’ (AOV)
Luk 14:26 ‘As iemand na My toe kom en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie.’ (AOV)
Hierdie skrifgedeelte is op ‘n harde manier gestel. Haat jou ouers en selfs jouself! Jesus wou dit by die mense tuis bring, hoe ernstig dit vir ons moet wees om Hom te volg.
Soos bo gestel, vloei al ons verhoudings uit ons verhouding met God. As ons ons aan God kan toewy, sal ons in ons verhoudings ook die ander persoon se belange eerste stel, bo ons eie begeertes en behoeftes. Ons sal bereid wees om te dien en nie om net te ontvang nie.
Huwelike wat die tyd deurstaan, is ‘n voorbeeld van so ‘n verhouding van toewyding in getrouheid. Daarom is ‘n goeie, liefde volle huwelik vir ons die prentjie van die kerk. (Ef 5:23, 25-27, 32; Openb 21:2, 9) Jesus se bruid – die kerk.
Waterdoop
Water verfris en maak skoon. Doop (baptiso= om met water bedek te wees) is dus om in water bedek te word. Die Woord van God was ons denke skoon. (Ef 5:26; 1Kor 6:11) Dit vernuwe ons denke en Jesus se bloed was ons skoon van sonde.
Die rede vir waterdoop is ‘n uitvloeisel van ons geloof in Jesus Christus. Dis ‘n aksie van geloof in gehoorsaamheid op ‘n opdrag van Jesus.
Mat 28:19 Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.
Waterdoop is nie ‘n voorwaarde vir redding nie. Die doop volg uit gehoorsaamheid nadat jy wedergebore is, dis ‘n verklaring van jou geloof in Jesus Christus se voltooide werk op die kruis en Sy oorwinning en opstanding uit die dood.
Rom 6:3-10
Ons is gedoop in Christus se dood. Rom6:3-7
Ons het saam met Hom opgestaan uit die dood. Rom6:4
Ons dien nie meer die sonde nie. Ons is vry van sonde. Rom6:6,7
Ons leef in Christus. Rom6:4,8
Dood heers nie meer nie, maar lewe. Rom6:9,10
Identiteit in Christus
Ons Identiteit in Christus, is ‘n uitvloeisel van ons verlossing, wanneer ons Jesus erken as ons verlosser en Hom nooi om in ons te kom woon. Dit is wedergeboorte.
Joh 3:5 ‘Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie.’ (AOV)
Nou is die vraag: wat gebeur met my as ek Jesus as my verlosser aanvaar?
2Kor 5:1 ‘Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.'(AOV) Ef 4:24
Wat het nuut geword? Ek lyk en voel dan nog dieselfde.
Ons word nuut in ons gees met wedergeboorte en ons gees word ook geseël. Ef 1:13
Dis hier belangrik om te verstaan hoe God ons gemaak het. Onthou dat ons eerstens na God se beeld geskape is, wat Gees is. Ons gees is eerste, dan het ons ‘n siel (denke/intellek, wil en emosies) en ons het ‘n liggaam om te kan funksioneer op die aarde. Die Gees van God woon in ons.
Dit is duidelik uit die volgende skrif dat ons gees, siel en liggaam is;
1Thes 5:23 ‘En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus!’ (AOV)
Ons gees is dus nuut en soos Christus, maar ons siel en liggaam moet nou in lyn kom, om soos ons gees te word. Ons gees het onmiddellik verander. Vir ons siel om te verander is ‘n groei proses, waar ons ons denke aanpas om te word soos ons gees is. Ons moet ons verstand aanpas by wat God se Woord van ons sê. Rom 12:1-2. Ons liggaam sal volg, in gehoorsaamheid aan ons denke en gees.
Ons wedergeboorte maak ons ook geregtig voor God. Dit beteken ons kan voor God staan sonder sonde-skuld, want Jesus het dit volledig vir ons betaal, ons is vry van sonde! (die beteken nie dat ons nooit weer sondig nie, net dat ons nie meer ‘n slaaf van sonde is nie.) 2Kor 5:21 en 1Joh 1:8
Ons identiteit is nou in Christus en op die Woord van God. Dis nie meer gebaseer op dit wat mense van ons sê of dink of wat die wêreld vir ons voorhou as die waarheid nie.
Wat gebeur as ‘n Christen sonde doen?
Sonde verwyder ons van God, dit is hoekom Adam en Eva gaan wegkruip het vir God. Gen 2:24 en Gen 3:8. Kyk ook na Jes 59:2.
God het egter ‘n plan gemaak om ons verhouding met Hom te herstel. Hy het Jesus vir ons gegee. (Joh 3:16) Jesus het vir ons gesterf. Sy oorwinning oor die dood, het vir ons verlossing gebring. Verlossing van sonde, siekte en ellende. Hy het betaal met Sy bloed, sodat ons vry van sonde en siekte en in vrede voor God kan staan. Jes 53:3-6, Jes 53:10-11.
Ons beste voornemens is om nie te sondig nie, maar ons weet almal dat ons wel steeds sondig en dit nog sal doen. Die verskil is dat ons nie meer slawe van sonde is nie.
1Jn 1:8 ‘As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie.’ (AOV)
Nou hoe hanteer ons dan sonde? Die Heilige Gees sal jou oortuig as jy iets verkeerd gedoen het. So, jy gaan erken dat jy verkeerd was, jy bely (wys jou spyt daaroor) en vra vergiffenis en neem die besluit om dit nie weer te doen nie. ‘n Goeie plan is om die Heilige Gees te vra om jou daarmee te help.
1Jn 1:9 ‘As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.’ (AOV)
Sonde het gevolge, al is ons wedergebore. Wat ons sê en doen is saad en ons oes dit wat ons saai! Ons keuses en woorde is nie altyd in lyn met God se Woord (Bybel) nie en dit laat die deur oop vir die duiwel om toegang tot ons lewens te kry. Volgehoue sonde bring ons gouer by liggaamlike dood. (Rom6:12)
Gal 6:7-8 ‘Moenie ’n fout maak nie. God laat nie met Hom spot nie: Wat mense saai, sal hulle ook maai! Hulle wat op die land van hulle sondige geaardheid saai, sal op grond daarvan die dood oes, terwyl hulle wat op die land van die Gees saai, op grond daarvan die ewige lewe sal oes.’ (NLV)
Gebed in geloof bring wonders.
Jak 5:15-16 ‘En as hulle gelowig bid, sal dit vir die sieke genesing bring: die Here sal hom gesond maak. As hy gesondig het, sal dit hom vergewe word. 16 Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking.’ (ANV)
Amen!
Integriteit van God se Woord
Integriteit beteken: – om 100% eerlik, opreg, onberispelik, betroubaar, onomkoopbaar en onbeskaamd of rein te lewe.
God se Woord is onberispelik. Daar is op verskeie vlakke al bewys, dat wat in die Bybel geskryf staan, waar is. Daar is geologiese opgrawings wat plekke en omstandighede uit die Bybelse tyd bewys, as korrekte feite in die Bybel. Selfs op die mediese gebied is al bewyse gevind wat ooreenstem met wat die Bybel sê.
Daar is ongeveer 300 000 kruisverwysings in die Bybel. Dit is waar ‘n woord of ‘n gedeelte ooreenstem met ‘n ander skrifgedeelte. Dit is veral merkwaardig as ons in ag neem dat die 66 Bybelboeke deur 40 verskillende mense (wat mekaar meestal nie geken het nie) oor ‘n tydperk van ongeveer 1500 jaar geskryf is.
Daar is ook profesieë wat in die Ou Testament vertel is, wat eers in die Nuwe Testament waar geword het. Profesieë in verband met Jesus in die Ou Testament het eers in die Nuwe Testament waar geword. Daar was ongeveer 400 jaar tussen die Ou Testament en die begin van die Nuwe Testament.
2Ti 3:16-17 ‘Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, 17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.’ (AOV)
Die skrifgedeelte sê, dat die Woord van God, deur God geïnspireer is en gegee is om waardevol te wees in kennis en opvoeding. Om verkeerde dinge uit te wys, sodat dit reg gestel kan word en om ons toe te rus vir goeie werke, (Ef2:10)
Daarom moet ons dit dag en nag bedink, bepeins en volgens lewe. Kyk ook na Spr 4:20-23.
Jos 1:8 ‘Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie; maar bepeins dit dag en nag, sodat jy nougeset kan handel volgens alles wat daarin geskrywe staan; want dan sal jy in jou weë voorspoedig wees, en dan sal jy met goeie gevolg handel.’ (AOV)
Ons hoef nie te twyfel in God se Woord nie. Ons aanvaar dit as die volle waarheid en rig ons lewens daarvolgens. Dit het die toets van tyd deurstaan en as ons in ‘n verhouding met God staan, ervaar ons Sy teenwoordigheid in en om ons.
God is nie Skuldig nie!
God kry dikwels die skuld vir dinge wat nie reg verloop nie. Hoe is dit moontlik dat God die skuldige is, as ons keuses het?
God beheer ons nie. Ons het nog steeds keuses, net soos Adam en Eva in die tuin van Eden gehad het. Gen 2:15-17.
Keuse het gevolge, net soos dit vir Adam en Eva gehad het en ons leef steeds vandag met daardie gevolge.
Jak 1:13-17 ‘Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie. 14 Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. 15 Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort. 16 Moenie dwaal nie, my geliefde broeders. 17 Elke goeie gif en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie.’ (AOV)
God versoek ons nie, dit is ons eie vleeslike begeertes (ons eie wil) wat ons verlei, soos in die eerste skrifgedeelte gesê word.
God het Jesus vir ons gestuur, om ons van die werke van die duiwel te red.
1Joh 3:8 ‘Hy wat die sonde doen, is uit die duiwel, want die duiwel sondig van die begin af. Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn, om die werke van die duiwel te verbreek.’(AOV) Ook Joh 10:10.
God is goed en begeer vir ons net die heel beste.
Mat 7:11 ‘As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid!’ (AOV) ook Luk 11:13.
God kry dikwels die skuld vir dinge wat nie reg verloop nie.
Wat van Natuurrampe? Aardbewings, oorstromings, droogtes, storms en so meer.
Die aarde lei ook as gevolg van die sondeval.
Rom 8:20-22 ‘Want teen sy wil is die ganse skepping in ’n sinnelose kringloop van aftakeling vasgevang as gevolg van God se straf op die eerste mense se ongehoorsaamheid. Die ganse skepping sien uit na die dag wanneer dit ook self van die slawediens aan hierdie verganklikheid bevry sal word en deel sal kry aan die heerlike vryheid van God se kinders. Ons weet immers dat die ganse skepping nog steeds aan die kreun is soos iemand met geboortepyne.’ (NLV)
Ons het egter mag of outoriteit om die natuur aan te spreek in Sy Naam. Jesus het vir ons die mag gegee, nadat Hy die dood en die duiwel oorwin het. Jesus het dit ook aan Sy dissipels gedemonstreer toe Hy die storm aangespreek het.
Mar 4:39 ‘En Hy het opgestaan en die wind bestraf en vir die see gesê: Swyg, wees stil! En die wind het gaan lê, en daar het ‘n groot stilte gekom.’ (AOV)
Kyk ook na Mat 28:18-20.
Jesus het gesê dat ons groter werke sal doen as wat Hy het en in die twee verse daarna (12 en 13) belowe Hy dat ons sal kry wat ons vra.
Joh 14:12 ‘Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo—die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan.’ (AOV)
Krag van ‘n Gees Vervulde Lewe.
‘n Nuwe gees is reeds deur Esegiël geprofeteer.
Eseg 36:25-27 ‘Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al jul onreinhede en van al jul drekgode sal Ek julle reinig. 26 En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee. 27 En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen.’ (AOV)
Nadat Jesus Sy Lewe vir ons afgelê het op die kruis en die dood oorwin het, het Hy ook belowe om vir ons, wat Hom as ons Verlosser aanneem, die Heilige Gees te gee. Dit was voordat Hy opgevaar het na die hemel en Sy Vader.
Joh 14:16-17 ‘En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: 17 die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees’. (AOV). Ook Joh 14:23-27
Dit was dieselfde Gees wat Hy belowe het toe Hy die Groot Kommissie of opdrag vir die Dissipels en ons gegee het. Dit is waar ons outoriteit gegee is om ons siekes te genees en die Goeie Nuus na al die nasies te versprei.
Mat 28:18-19 ‘En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. 19 Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.’ (AOV) Sien ook Mrk 16:16-18 en Luk 24:49.
Jesus het gesê dat ons wat glo, groter werke sal doen as wat Hy op aarde gedoen het. Dit is wat ‘n krag vervulde lewe in Christus is, om die Heilige Gees te hê en in verhouding met God te leef.
Joh 14:11-12 ‘Glo My dat Ek in die Vader is, en die Vader in My; of anders, glo My ter wille van die werke self. 12 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo—die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan.’ (AOV)
Hoe om die Heilige Gees te Ontvang
Jesus het telkemale gesê; Vra en julle sal ontvang. Die volgende vers is een van so ‘n bevestiging. In hierdie vers staan daar egter, selfs as julle vir die Heilige Gees vra. Die Heilige Gees was nog nie uitgestort nie en min het dit verstaan.
Luk 11:13 ‘As julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?’ (AOV) Kyk ook na Mat 18:19; Mat 21:22; Mrk 11:24; Joh 11:22; Joh 14:14; Joh 15:16.
Jesus het belowe dat die Heilige Gees sou kom na Sy Hemelvaart.
Luk 24:49 ‘En kyk, Ek stuur die belofte van my Vader op julle. Maar julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte.’ (AOV)
In Handelinge lees ons van die krag wat ontvang is met die uitstorting van die Heilige Gees. Hand 2:1-4. Daar is ook ‘n beskrywing in Hand 10 hoe die Heilige Gees op nie-Jode gekom het. In Hand 10:44 word die Heilige Gees op hulle uitgestort terwyl Petrus nog die Woord aan hulle bring.
Jesus se bediening het eers begin nadat Hy deur Johannes die Doper gedoop is en die Heilige Gees op Hom gekom het.
Joh 1:32 ‘En Johannes het getuig en gesê: Ek het die Gees soos ‘n duif uit die hemel sien neerdaal, en Hy het op Hom gebly.’ (AOV)
Om die Heilige Gees te ontvang, moet ons in Jesus Christus glo en dit met ons mond bely. Dan vra ons in gebed om die Heilige Gees te ontvang. Gebed: Dankie Vader God en Jesus, vir alles wat Jesus vir my op die kruis kom gedoen het. Dankie vir die beloftes wat ek ontvang het. Ek vra dat die Heilige Gees in my kom woon en my lei. Baie dankie, ek glo, ek het die Heilige Gees ontvang! Amen (So sal dit wees).
Die Voordele om in Tale te Spreek
Tale spreek, kom veral voor in Handelinge nadat die dissipels die uitstorting van die Heilige Gees ontvang het. (Hand 2:4) Ons noem dit ook Doop in die Heilige Gees. (Tale en profesieë is kenmerke van doop in die Heilige Gees)
1Kor 12 en 14 vertel ons meer van die gawes van die Gees, lees dit gerus gereeld.
Spreek in tale klink vreemd as mens dit die eerste keer hoor. Dit klink na ‘n gebrabbel, amper soos ‘n baba wat geluidjies maak. Jou verstand sal jou ook probeer wysmaak dat dit tyd mors is, maar dit bring seën en salwing op jou.
‘n Mens gebruik nie jou verstand wanneer jy in tale praat nie, jy bid vanuit jou gees, direk met God se Gees. Jy spreek onbekende, konfidensiële goed (geheime) in intimiteit met God. (1Kor 14:2,13-14). Jy sal vind dat hoe meer jy in tale praat, dat dit:
- jou ʼn verstaan en insig in dinge gee wat jy nie vantevore gehad het nie,
- jou rustig maak en jou houding of ingesteldheid verander,
- dat dit jou opbou en jou geloof versterk. 1Kor 14:4
Daar is twee verskillende aanwendings van hierdie tale; een is vir die opbouing van gelowiges in die kerk opset. Wanneer daar in ‘n taal gepraat word, moet daar ook ‘n interpretasie gegee word. Die ander is ‘n persoonlike taal wat jy tot God deur jou gees spreek of bid.
Soms gebeur dit dat iemand in tale praat en dan is dit ‘n taal wat iemand verstaan wat naby sit en verstaan wat jy sê, maar dit is nie ‘n taal wat jy geleer het op enige stadium nie. Dit is dan ‘n boodskap net vir daardie persoon. Dit is ook wat die dissipels ondervind het toe hulle in tale gespreek het. Dit was tale wat die mense van ander gebiede verstaan het. Hand 2:5-11
Loof en prys God deur in tale te praat en te sing. 1Kor 14:15. Dit bou op, versterk en tree in deur die Heilige Gees.
Selfgesentreerdheid – Die Bron van alle Hartseer
Wat is selfgesentreerdheid?
Spr 16:18 Hoogmoed lei tot ondergang. Hooghartigheid (selfverheffing) kom net voor die val. NLV
Spr 13:10 ‘Selfverheffing lei altyd tot twis. …’
Selfgesentreerdheid (hoogmoed) maak jou kwaad, want jy kry nie wat jy wil hê nie.
Selfgesentreerdheid (hoogmoed) veroorsaak ‘n reaksie op wat ander doen of nie doen nie.
Selfgesentreerdheid (hoogmoed) is die vrug van vrees.
Selfgesentreerdheid (hoogmoed) is jou fokus wat op die verkeerde plek is, gewoonlik jou eie ek en jou klein wêreldjie.
Wat is hoogmoedig? Hoogmoed is om meer van jouself te dink as wat goed is vir jou. Ons dink aan woorde soos arrogant, eie geregtig, selfvoldaan ens.
Die teenoorgestelde van hoogmoedig is; om te min van jouself te dink, uiter mate skaam te wees, jouself onwaardig ag en dink jy is nie goed genoeg nie, jy dink jy is tot niks in staat nie. Dit is nederig op ‘n negatiewe manier.
Om dit te verduidelik, dink aan ‘n besemstok. Een punt verteenwoordig hoogmoedigheid en die teenoorgestelde punt van die besemstok verteenwoordig skaamheid.
Die hoogmoedige is so selfvoldaan dat hy niemand in ag neem nie, behalwe homself. Die skaam en teruggetrokke persoon is so bewus van hulself en wat ander van hulle dink, dat dit eintlik ook net oor hulle-self gaan. ‘Wat sal die mense sê/dink?’
Nou die ideaal sal wees om die middelpunt te kry en in perfekte balans te leef. Dit is makliker gesê as gedoen.
Spr 13:10 sê dat hoogmoed of selfverheffing tot twis lei. (Engels sê, ‘By pride comes nothing but strife’ NKJV, contention in KJV) Dit veroorsaak spanning en ‘n stryery.
Die is ‘n sensitiewe onderwerp en mens wil selde hoor dat jy verantwoordelik is of verkeerd is. So dink mooi en in die regte gesindheid aan die onderwerp en laat God toe om jou te wys waar jy staan.
Waar het Selfgesentreerdheid begin?
Gen 3:1-6 sien ons Adam en Eva wat deur die duiwel mislei is. Hy het hulle, wat reeds alles gehad het wat God hulle kon gee, laat twyfel of God regtig vir hulle die beste gegee het en ‘n behoefte is geskep om soos God te wees?
Gen 3:4-5 ‘Toe sê die slang vir die vrou: “Julle sal beslis nie sterf nie, 5 maar God weet dat julle oë sal oopgaan die dag as julle van daardie boom eet en dan sal julle soos God wees deurdat julle alles kan ken.”’ (ANV)
Hier is hulle fokus en gehoorsaamheid weg geskuif van God af, na hul eie belange. Daardie begeerte (a want) word ‘n behoefte (a need). Die fokus is heeltemal verskuif van God af na self.
Hoe herken ons Selfgesentreerdheid?
Hierdie is die teken van Selfgesentreerdheid. Hoogmoed: Ps 10:4; Vrees: Ps 23:4, Ps 55:3-9; Treur: Mat 5:4; Twis: Spr 13:10; Depressie: Job 10:20-21.
Hoe hanteer ek hierdie tekens in my lewe?
Hierdie verse gee die antwoorde.
- Hoogmoed: Spr 16:18 ‘Hoogmoed lei tot ondergang. Hooghartigheid kom net voor die val’(NLV) Lees ook Spr16:18-20; Mark7:21-23
- Vrees: 1Joh 4:18 ‘Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie.’ (AOV) Lees 1Joh4:7-21
- Treur: Psa 119:50 ‘Dit is my troos in my ellende, dat u belofte my lewend maak.’ (AOV) sien ook Ps119:76; 1Thess3:2.
- Twis: Spr 3:5 ‘Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.’ (AOV) Sien ook Ps28:25.
- Depressie (terneergedruk, mismoedig): Luk 4:18b ‘…Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees;’ (AOV)
Om die skrifgedeeltes saam te vat kom dit daarop neer dat ons ons fokus van onsself moet verskuif en op Jesus fokus. Hebr 12:2; Mat 22:37-39. ‘n Openbaring, (deeglike verstaan) van God se liefde vir ons, maak dit ook duidelik.
Mat2 4:27-31 Petrus wat op die water loop en die oomblik wat sy fokus verskuif na sy eie vermoëns en die omstandighede rondom hom, het hy begin sink.
Dit sal ‘n ruk neem of jouself te leer om jou fokus op die regte plek te hou. Sterkte! Hou jou fokus op Jesus.