K021 Geestelike leiers se verantwoordelikheid teenoor hul gemeentes/kerke

Hand 20:26-28 AOV Daarom betuig ek aan julle op hierdie dag dat ek rein is van die bloed van almal. 27 Want ek het nie nagelaat om aan julle die hele raad van God te verkondig nie. 28 Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het.

Hierdie was Paulus se woorde aan die ouderlinge van die gemeente in Efese.

Hy verklaar hy is nie skuldig as iemand verlore gaan in die gemeente nie. Hy het ten volle alles oor die plan van God aan hulle oorgedra.

Dominee/Pastoor waar staan jy as herder van die gemeente/kerk waaroor God jou geplaas het?



Hier is die basis waarin elkeen in die kerk seker moet wees, dat hy/sy gered is en daarna moet begin om sy/haar verhouding met God en Jesus Christus te laat groei:

  • Weet almal wat wedergeboorte is, en dat net dié wat wedergebore is, sondeloos voor God staan — nou op aarde en eendag in die hemel? (Joh 03:01-06 en 2Kor 5:17-21)

Joh 3:3+5 AOV (3) Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. (5) Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie.

  • Het hulle met hulle waterdoop in die openbaar hulle geloof in wat Jesus en God vir hulle gedoen het, verklaar? (Mar 16:16 en Rom 10:9-10)

Rom 10:9-10 AOV As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.

  • Weet elkeen dat hulle ná weergeboorte in ’n lewende verhouding met God deur Christus staan, en dat hierdie verhouding doelbewus gevoed en verdiep moet word?

Ons bly in Hom en dra vrug (Joh 15:4-5), leef deur geloof in Christus (Gal 2:20), word deur die Gees as kinders van God gelei (Rom 8:15), en leef in die wete van die Vader se liefde (1 Joh 3:1).

  • Weet hulle dat iemand wat weergebore is, ’n nuwe mens in Christus geword het en nie meer as ’n slaaf van sonde leef nie? (Joh 8:34-36)

Tog bly die menslike natuur teenwoordig, en daarom struikel gelowiges nog (1 Joh 1:8-9).

1Jo 1:8-9 AOV As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie. As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.

Sulke sonde laat ’n kind van God nie sy redding verloor nie, maar vra belydenis en bekering (om weg te draai van wat verkeerd gedoen is). Die Heilige Gees waarsku deur die persoon se gewete en wat gelees word in Skrif. Die Skrif waarsku egter ernstig teen doelbewuste en volgehoue afvalligheid en die verwerping van Christus (Heb 6:4-6; 10:26-29).

  • Het jy hulle geleer oor die Heilige Gees —

    • dat Hy die Trooster is wat by gelowiges bly en in hulle woon, hulle leer en herinner aan Jesus se woorde (Joh 14:16-17, 26),

Joh 14:16-17+26 AOV En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: 17 die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees. 26 maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.

  • Verder dat Hy geestelike waarhede openbaar en ons leer om dit geestelik te verstaan en te verkondig wat insluit om die Bybel, nie met ons menslik verstand te wil lees nie, maar saam met die Heilige Gees om dit wat daar geskryf is vir ons oop te maak (1 Kor 2:13)?

1Ko 2:13 AOV Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk.

  • Is hulle vervul/gedoop met die Heilige Gees, soos ons in die Skrif sien waar gelowiges die Heilige Gees ontvang het (Handelinge 8:14-17; 10:44; 19:5-6)?

Hnd 19:5-6 AOV En toe hulle dit hoor, is hulle gedoop in die Naam van die Here Jesus. En Paulus het hulle die hande opgelê, en die Heilige Gees het op hulle gekom, en hulle het met tale gespreek en geprofeteer.

Is hulle verder onderrig om te leef in afhanklikheid van die Gees en om die gawes wat Hy gee verantwoordelik en tot opbou van die gemeente te gebruik (1 Korintiërs 12:8-10; Romeine 12:6-8)?

1Ko 12:8-10 AOV Want aan die een word deur die Gees ‘n woord van wysheid gegee, en aan die ander ‘n woord van kennis vanweë dieselfde Gees; 9 aan ‘n ander weer geloof deur dieselfde Gees, en aan ‘n ander genadegawes van gesondmaking deur dieselfde Gees; 10 aan ‘n ander werkinge van kragte, aan ‘n ander profesie, aan ‘n ander onderskeiding van die geeste, aan ‘n ander allerhande tale, aan ‘n ander uitleg van tale.

  • Weet hulle dat Jesus Christus die wet en die Ou Verbond vervul het (Mat 5:17), en dat die Ou Verbond verouder het (Heb 8:13)? Ons is nie meer onder die wet nie, maar onder genade (Rom 6:14); Christus is die einddoel van die wet (Rom 10:4), en die wet was ’n tugmeester tot by Hom (Gal 3:24-25). Verstaan hulle, dat God in die Nuwe Verbond van ons vra om Hom en ons naaste lief te hê (1 Joh 4:7-11) — en dat hierdie liefde die hele wet vervul?

1Jo 4:7-11 AOV Geliefdes, laat ons mekaar liefhê; want die liefde is uit God, en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God. 8 Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde. 9 Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar, dat God sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe. 10 Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as ‘n versoening vir ons sondes. 11 Geliefdes, as God ons so liefgehad het, behoort ons ook mekaar lief te hê.

Gehoorsaamheid vloei nou uit ’n veranderde hart: nie meer “ek moet” nie, maar “ek wil” omdat ek Hom liefhet.

  • Weet elkeen dat hulle die evangelie aan ongelowiges moet verkondig (Mar 16:15)?

Het jy hulle geleer hoe om dit prakties te doen, almal is nie ekstroverte wat met enige iemand sommer sal begin gesels oor die evangelie nie?

  • Weet elkeen dat hy/sy ‘n individuele roeping van God ontvang het om uit te voer? (Efs 5:16-17) Elkeen het ‘n roeping in die sekulêre wêreld om die lig van Jesus te laat skyn waar hy/sy werk met die talente wat van God ontvang is.

Efs 5:15-17 ANV Wees baie versigtig hoe julle lewe: nie soos onverstandige mense nie, maar soos verstandiges. 16 Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in ‘n goddelose tyd. 17 Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te wete kom wat die Here wil dat julle moet doen.

  • Het jy hulle gehelp om hulle roeping te ontdek deur leiding van die Heilige Gees? (Joh 14:26 en 1Jo 3:21-22)

Kan jy, op grond van hierdie punte as ‘n basis, dieselfde getuienis as Paulus lewer ten opsigte van jou verantwoordelikheid teenoor diegene in jou kerk/gemeente wat verlore mag gaan?

Neem ook die vermaning in Jak 3:1 ter harte, wat herinner aan die groter verantwoordelikheid wat op geestelike leiers rus.

Jak 3:1 AOV Moenie baie leermeesters wees nie, my broeders, omdat julle weet dat ons ‘n groter oordeel sal ondergaan.