(K012) Voorspoedige siel bring voorspoedige lewe.
Hoe voorspoedig is jou lewe?
In watter toestand is jou siel maw jou gemoed en emosies?
Waarmee voed jy jou siel – die wêreld se dinge of God se Woord?
3Jo 1:2 AOV Geliefde, ek wens dat dit met jou in alles goed mag gaan en dat jy gesond is, soos dit met jou siel goed gaan;
Wat is ons siel en waar pas dit in?
Ons as mens bestaan uit 3 dele – gees, siel en liggaam (1 Tes 5:23)
Jou gees is die deel wat weergebore word wanneer jy glo en verklaar dat Jesus jou verlosser is.
Jou siel is jou verstand, wil en emosies.
Jou liggaam is dit wat jy fisies kan sien en voel.
Wat is die doel van jou gees en siel?
Jou gees is die deel wat met God kommunikeer want God is Gees.
Joh 4:24 AOV God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.
Jou siel is in middel(die brug) tussen jou gees en jou liggaam.
Die Heilige Gees, ons trooster en leier (Joh 14:26), praat met jou gees wat dit dan weer deurgee na jou siel, maar jou siel moet oop wees om te ontvang en daarop te reageer.
Jou siel beïnvloed jou optrede en die stand van jou liggaam.
Voorbeelde –
- Jou vrees vir armoede is so groot dat jy dag en nag werk vir ‘n goeie inkomste en dan ly jou gesondheid en gesinslewe daaronder, omdat jy nie voldoende rus en tyd met jou gesin kry nie. Jy glo waarskynlik nie God sal voorsien nie.
- Wanneer die winter begin, vertel jy jouself jy gaan griep kry en dan kry jy griep. Indien jy positief was en vir jouself vertel jy gaan nie siek word nie, sal jy hoogswaarskynlik nie siek woord nie, toets dit ‘n bietjie in die toekoms. Jy glo waarskynlik nie God sal jou beskerm nie.
- Dit gaan sleg met ons veiligheid, as jy heeldag met die geloof in jou rondloop dat dit net ‘n tyd is voor jy ook geroof gaan word, gaan dit moontlik gebeur want jy vertrou nie God nie en dat Hy jou sal beskerm nie.
Wat is in jou siel maw jou denke en emosies?
Is daar vrede en rustigheid of is daar onvergewensgesindheid, bitterheid, woede, gierigheid, vrees en bekommernis?
Dit wat in jou siel is, het ‘n direkte invloed op jou liggaam – positief of negatief
Positiewe invloed vanaf jou siel gee jou ‘n gesonde liggaam, maar negatiewe invloed maak jou liggaam siek en breek dit af.
Hoe voed jy jou siel?
Voed jy jou siel met die wêreld se probleme? Jesus verduidelik dit in Mar 4:18-19 met die gelykenis van die saaier wat die Woord saai en die verskillende grond waarin die saad val?
Mar 4:18-19 AOV En hulle by wie in die dorings gesaai word—dit is hulle wat die woord hoor, en die sorge van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom en die begeerlikhede in verband met die ander dinge kom in en verstik die woord, en dit word onvrugbaar.
Val jy prooi vir die dinge van hierdie wêreld, omdat jy na verkeerde flieks kyk en al die nuus glo wat jy deur TV en sosiale media ontvang?
Jaag jy so hard rykdom of finansiële oorlewing na, dat jy geen liggaamlike of geestelik rus kry nie?
Lewe jy in soveel vrees dat jy ook ‘n misdaad-slagoffer gaan word?
Is jou verhoudings met ander in ‘n swak toestand?
Wat moet jou siel voed?
Jesus sê jy moet na Hom toe kom en rus vir jou siel by Hom vind –
Mat 11:28-30 AOV Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig.
Dan sal jy die goeie grond wees vir die saad om vrugte te dra –
Mar 4:20 AOV En dit is hulle by wie in die goeie grond gesaai is—hulle wat die woord hoor en aanneem en vrugte dra: een dertig— en een sestig— en een honderdvoudig.
Voed jou siel met God se Woord, omdat jy aan Christus behoort en loop die pad met die Heilige Gees –
Gal 5:24-25 AOV Maar die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig. As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel.
En dan sal jy doen wat reg is en in vrede en gesondheid lewe –
Fil 4:8 AOV Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is—watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.
Ter afsluiting –
- Wanneer jou siel in rus en vrede is, sal jou liggaam gesond wees.
- Vind die rus en vrede vir jou siel in God se Woord en nie wat in die wêreld gebeur nie.
- Luister na die Heilig Gees vir vertroosting en leiding.
Gebed –
- Dankie Vader vir U liefde vir ons,
- Dankie Vader vir U geduld met ons,
- Dankie dat ons sonder enige twyfel weet dat U daar is vir ons,
- Help ons asb om ons siel oop te maak sodat ons leiding en troos van die Heilige Gees kan ontvang,
- Ons vra dit in Jesus se naam
- Amen