(K010) Die Heilige Gees identifiseer vals profete aan ons
Is die bewerings dat sekere predikers vals leraars is, korrek? Is alles wat jy nou leer en dalk deur die jare geleer het, korrek of net half korrek of vals? Hoe bepaal jy dit wat jy leer of geleer het is korrek?
1 Joh 4:1 NLV “Geliefdes, moenie sommer almal glo wat daarop aanspraak maak dat hulle deur die Gees optree nie. Toets hulle om te bepaal of dié bepaalde gees sy oorsprong by God het, want daar het reeds baie vals profete die wêreld ingekom.”
Ek gaan die woord leier gebruik in die plek profete want daar is ook verwysing na leraars wat vals is in die Skrif en beide leer mense.
Die Here waarsku ons hier dat ons nie onvoorwaardelik alle geestelike leiers moet glo nie, maar hulle gees moet toets of dit van God is maw is hulle weergebore en is die Heilige Gees in hulle.
Kom ons kyk na moontlike valse profete of leiers wat ons vandag teëkom:
- Daar word gereeld, veral op sosiale media, gewaarsku dat ‘n persoon en gewoonlik ‘n bekende met ‘n groot getal volgelinge, ‘n vals leier is. Indien hierdie bewerings ondersoek word dan is dit in baie gevalle vals.
Die mense glo gewoonlik hierdie aantuigings blindweg, want die menslike natuur, met invloed van die duiwel, laat die mens altyd die slegte as die waarheid aanvaar.
Gevolglik word geestelike leiers, wat deur God geseën is in die bediening waarmee hy/sy besig is, se invloed en leer deur die duiwel afgebreek tot nadeel van die Kerk van Jesus. Mense, vir wie die lering kon help, word banggemaak om na hierdie leier te luister.
- Dan is daar weer geestelike leiers, baie keer wat ook hoog aangeslaan word, wat weer vals leringe verkondig wat hy/sy regverdig met lang verdraaide filosofieë en dit klink goed vir die hoorders.
Hierdie leier se volgelinge glo onvoorwaardelik wat hulle vertel word en niemand durf dit te bevraagteken nie.
Die Here sê egter vir ons dat ons alle geestelike leiers se gees moet toets of dit sy oorsprong by God het, maw is die Heilige Gees in hom?:
- Die eerste toets is, erken hulle Jesus Christus as die Seun van God en ons verlosser –
1 Joh 4:2-3 NLV “Hieraan herken julle die Gees van God: Elkeen wat erken dat Jesus Christus werklik ten volle mens geword het, is van God afkomstig. Elkeen wat Jesus nie erken nie, is nie van God afkomstig nie.”
Dit kom daarop neer dat ons moet onderskei of die leier met die Heilige Gees of die wêreld se gees gevul is.
Die probleem is egter dat hierdie leiers sê hulle is weergebore en gevul met die Heilige Gees omdat dit vir hulle nodig is om dit te verklaar sodat hulle toegelaat kan word om met die bediening aan te gaan, maar is dit die waarheid? Daar is ‘n beroepsloopbaan en finansiële vergoeding betrokke.
- Die volgende waarskuwing wat ons kry om te toets is waar Petrus waarsku oor die verdraaiing van Paulus se briewe maw. die Skrif –
2 Pet 3:16 NLV Sommige van die opmerkings in sy briewe is moeilik om te verstaan. Oningeligtes en mense sonder beginsels verdraai sy briewe, soos hulle dit trouens ook met ander dele van die Skrif doen. Só bewerk hulle hulle eie ondergang.”
Die probleem in ‘n bediening waar daar tradisies is en alles nie 100% volgens die Skrif is nie, gebeur dit dat gelowiges wat daar groot en oud word alles glo wat die leiers hulle vertel. Die rede is die volgelinge ken nie Skrif en Heilige Gees nie en kan dus nie die leiers se leer bevraagteken nie. Sien een van die volgelinge die lig en begin vrae vra, dan kry hy/sy die trekpas.
- Die Skrif gee ons die regte inligting wat ons nodig het om te toets of dit wat ons vertel word van die Heilige Gees kom –
2 Tim 3:16 NLV “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om ons te onderrig, die verkeerde te weerlê, om ons tereg te wys en om die regte leefstyl by ons te kweek.”
Ons kan net bepaal watter leer is reg, of half reg of verkeerd deur die Skrif van God te leer onder die leiding van die Heilige Gees.
- ‘n Ander toets en die belangrikste of die leer wat jy ontvang korrek is, is deur bevestiging of waarskuwing van die Heilige Gees. Die Skrif sê vir ons in –
1 Joh 2:26-27 AFR20 “Hierdie dinge skryf ek aan julle aangaande daardie mense wat probeer om julle te mislei. Maar wat julle betref: die salwing wat julle van Hom ontvang het, bly in julle, en daarom hoef niemand julle te leer nie. Maar omdat sy salwing julle alles leer, en omdat dit die waarheid is, en nie ‘n leuen nie, bly in Hom, net soos Hy julle geleer het.”
Wees bedag op die Heilige Gees, as jy vrede het oor wat jou geleer word is dit reg, maar wanneer jy ‘n waarskuwing van die Heilige Gees ontvang, moet jy dit verder gaan ondersoek deur dit in die Skrif na te gaan.
Die probleem is egter dat indien jy nie ingestel is op die Heilige Gees se tekens nie, kan jy die lering aanvaar as korrek want dit is oor jare in jou ingedril en daarom bevraagteken jy dit nie.
Ter afsluiting:
- Die Here bevestig aan ons die volgende in –
1 Joh 4:4 Julle is egter van God afkomstig, my kinders, en julle het hulle reeds oorwin omdat die Gees wat in julle woon, magtiger is as die gees wat in die wêreld woon.
- Die duiwel sal enigiets doen om gelowiges weg van God te trek. Daarom sal hy enigiemand gebruik om deur vals lering die gelowiges op verkeerde paaie te sit.
- Jy kan slegs vals lering bepaal en teenstaan wanneer jy na die Heilige Gees luister en die Skrif ken. So gaan sit en leer God se Woord onder die leiding van die Heilige Gees. Dit beteken dit is nie genoeg om net die Woord te lees nie, jy moet dit bestudeer onder leiding van die Heilige Gees.
- Wees bedag op leerstellings wat in jou ingedril is en nie heeltemal korrek is nie. Gaan ondersoek die leerstellings wat deur die jare aan jou geleer is.
- Wees versigtig en toets die lering van leiers wat glo net hulle lering is korrek. Ons is almal verskillend deur God gemaak en daarom sal daar verskillende leringe oor sekere skrifgedeeltes wees, maar solank dit nie die basis van dit wat God aan ons wil bekend maak verander nie, is dit aanvaarbaar en indien jy dit bevraagteken gaan ondersoek dit in die Skrif. ‘n Voorbeeld is die wegraping, is dit belangrik om daarin te glo of nie? Nee, ons opdrag is maak dissipels van die nasie, leer hulle van Jesus en dit is belangrik.
- Die Here waarsku ook diѐ wat ander wil leer in –
Jak 3:1 NLV “My broers en susters, julle moenie almal leermeesters wil word nie, want julle weet dat God ons wat leermeesters is, strenger as ander sal beoordeel.”
Dit beteken wees versigtig wanneer jy ander wil leer dat dit die waarheid is, want jy gaan verantwoording doen vir wat jy ander geleer het.
Kom ons Dank die Vader
- Dankie Vader vir U groot liefde vir ons.
- Dankie vir U Woord wat U aan ons gegee het om U beter te leer ken en waardeur U ons lei.
- Dankie vir Jesus wat U aarde toe gestuur het om vir ons sondes te sterf, sodat ons vry kan lewe wanneer ons dit glo en bely.
- Dankie vir die Heilige Gees wat U vir ons gestuur het om ons te help en te lei.
- Heilige Gees maak asb ons oë oop vir vals leringe en ook vir aanvalle op U leiers wat die gelowiges en ongelowiges die waarheid moet leer.
- Vra hierdie in die naam van Jesus
- Amen