(K008) God, ons sy kinders en die wêreld – 1 Joh 3:1-2

Weet jy hoe lief God jou het? Weet jy wat jou stand nou is as kind van God? Weet jy hoe jy gaan wees wanneer Jesus terugkom? Weet jy hoekom die wêreld jou haat omdat jy ‘n kind van God is?



1 Joh 3:1-2 NLV “Kyk net hoe ’n groot liefde die Vader aan ons betoon het. Dit is dat Hý ons sy kinders noem, en ons is dit beslis ook. Daarom ken die wêreld ons nie, omdat dit Hom nie ken nie. Geliefdes, ons is nou reeds kinders van God, maar dit is nog nie duidelik wat ons sal wees nie. Wat ons wel weet, is dat ons net soos Hy sal wees wanneer Hy verskyn. Ons sal Hom dan sien soos Hy regtig lyk.”

“Kyk net hoe ’n groot liefde die Vader aan ons betoon het.”

God het elkeen van ons so lief dat Hy ons deur genade red. Om hierdie genade van God te ontvang moet ons weergebore deur te glo en te bely dat Jesus vir ons sonde gesterf het en dat God hom weer uit die dood opgewek het.

“Dit is dat Hý ons sy kinders noem, en ons is dit beslis ook.”

Met weergeboorte word ons as kinders aangeneem in die familie van God en so word ons kinders van God.

“Daarom ken die wêreld ons nie, omdat dit Hom nie ken nie.”

Die wêreld verstaan en aanvaar nie dat daar ‘n God is wat in die geestes ruim bestaan en die aarde en alles daarop gemaak het nie. Verder verstaan hulle ook nie van die sonde wat ons van Adam geërf het en God wat sy Seun Jesus gestuur het om ons vry te maak van die sonde nie.

Die wêreld verstaan net wat hulle 5 sintuie hulle wys en die duiwel gebruik dit om hulle te verblind en weg te hou van God.

Die gevolg is dat die wêreld ons as kinders van God ook nie verstaan nie, nie aanvaar nie en selfs haat (1Joh 3:13).

“Geliefdes, ons is nou reeds kinders van God, maar dit is nog nie duidelik wat ons sal wees nie.”

Soos reeds gesê met weergeboorte word ons kinders van God nou al hier op aarde, maar ons stand as kinders van God verander wanneer ons gees en siel die aarde verlaat om by Jesus aan te sluit wanneer ons liggame hier op aarde sterf. Ons huidige stand hier op aarde is nie dieselfde as wanneer ons by Jesus in die hemel aansluit nie en ons weet ook nie hoe dit gaan wees nie.

“Wat ons wel weet, is dat ons net soos Hy sal wees wanneer Hy verskyn. Ons sal Hom dan sien soos Hy regtig lyk.”

Al wat ons weet is dat wanneer ons by Hom aankom sal ons net so verheerlik soos Jesus wees en dan sal ons Hom werklik in sy verheerliking kan sien in die geestelike wêreld.

Ter opsomming:

  • Die wêreld is blind om die geestelike wêreld waar God is te sien. (1 Kor 1:18-24)
  • Die wêreld verstaan nie ons geloof in God nie en gevolglik spot en vervolg hulle ons.
  • Die duiwel is verantwoordelik om die wêreld te verblind en ons te vervolg.
  • Ons saai die saad van die verlossing deur Jesus met die lig waarin ons lewe.
  • Die Heilige Gees laat die saad ontkiem wanneer die wêreld dieselfde lig waarin ons lewe, soek.
  • Wanneer die wêreld verlossing begin soek om uit hulle verdrukking te ontvlug sal die Heilige Gees hulle na Jesus lei, ons as kinders van God moet die wêreld net wys en vertel dat die vryheid wat deur Jesus ontvang word, is beter as waar die wêreld hulle in bevind.

Gebed

Dankie Vader vir U liefde.

Dankie dat U dit vir ons moontlik gemaak het om U kinders te wees.

Dankie dat ons U lig kan uitdra na die wêreld.

Dankie Vader

Amen