(K006) God is onskuldig – Spr 19:3

Hoe is jou lewe tans? Is jy bedruk en depressief of is jy gelukkig en lewe ‘n vrolike lewe? Leef jy in donkerte met alles wat gebeur in die wêreld om jou of lewe jy in die lig van Jesus? Kyk wat sê die Woord van God



God het ons ‘n eie wil gegee en gaan ons nie beskerm wanneer ons van Hom af wegdwaal nie. Ons besluite dra gevolge waarvoor ons nie God verantwoordelik kan hou nie

Spreuke 19:3 NLV “’n Mens se eie dwaasheid ontwrig jou lewe, dan verkwalik jy nog die Here daarvoor.”

Wat hoor jy as jy na hierdie vers luister –

“Ek het ‘n fout gemaak maar dit is nie my skuld nie, dit is die Here se skuld en nou ontwrig Hy ook nog my lewe”.

“Dit is nie regverdig dat my lewe ontwrig word deur wat ek gedoen het nie”.

Soos dit vandag in die wêreld gaan –

“Dit is altyd iemand anders se skuld nooit die een wat die fout gemaak het nie”.

  • God laat ons nie verkeerde dinge doen nie –

Jak 1:13-14 ANV Iemand wat in versoeking kom, moet nooit sê: “Ek word deur God versoek” nie; want God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie. Maar ‘n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep.

Nee dit is my eie vleeslike sondige natuur wat my op loop neem, my weergebore gees is sondeloos maar my siel en vlees kort nog baie werk.

  • God straf my nie vir verkeerde dinge wat ek doen nie.

Jesus is ons voorbeeld, Hy sê vir ons in

Joh 5:19 AOV Jesus het toe geantwoord en vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hy doen, dit doen die Seun ook net so.

En as ons kyk wat Jesus gedoen het, Hy was net lief vir die mense en het almal gesond gemaak, Hy het nie gesê jou sonde is te groot om jou gesond te maak nie of Hy ook nie die Fariseërs en Skrifgeleerdes siekte of ongeluk opgelê omdat hulle nie wou luister nie.

  • God het almal lief

Net soos ‘n ma haar kind liefhet en hom of haar die beste wil gee, netso het God ons elkeen nog meer lief ongeag wie ons is en wat ons gedoen het. (1 Joh 4:8-10)

  • God beheer nie elkeen se optrede nie

God het ons ‘n eie wil gegee om self te besluit wat ons wil doen, ons is nie marionette in God se hand nie.

Net soos ‘n ma wat niks kan doen wanneer ‘n kind ‘n verkeerde koers inslaan nie, is dit ook die geval met God, Hy keer ons ook nie wanneer ons van Hom af wegdwaal nie.

  • God straf ons nie wanneer ons die verkeerde pad inslaan nie

God het klaar ons sondes, verlede, huidig en toekomstig vergewe deur Jesus

Hebreërs 10:10 & 14 AFR20 (10) Volgens sy wil is ons heilig gemaak deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, eens en vir altyd. (14) Want deur een offer het Hy hulle wat geheilig word, vir altyd vervolmaak.”

Weer ons weergebore gees is sondeloos en heilig, maar ons siel en liggaam kort nog werk en dit sal so wees tot ons liggaam hier op aarde sterf.

God wys ons wel tereg, nie met straf van siekte of ander probleme nie, maar deur Sy Woord

2Tim 3:16-17 ANV Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.

  • Wanneer ons die verkeerde pad vat, verloor ons God se seën en beskerming

Wanneer jy jou eie begeertes volg wat nie van God is nie, kan God dit nie seën waarmee jy besig is nie en ook nie beskerm teen die gevolge daarvan nie.

Jak 1:14-15 ANV Maar ‘n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. Daarna, as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood.

Ons beweeg weg van God af en die duiwel gebruik die kans om ons aan te val (Joh 10:10)

Om af te sluit elke besluit wat jy neem het ‘n nagevolg en as dit nie in ooreenstemming met God se wil is nie, kan jy nie vir God verkwalik as jy probleme optel nie.

Gebed

  • Dankie Vader dat ons weet U ons nie weggooi nie, maar dat dit onsself is wat skeiding tussen U en ons bring wanneer ons van U wegdwaal.
  • Dankie dat ons soos dit in 1 Joh 1:9 staan, na U kan terugkom wanneer ons bely wat ons verkeerd gedoen het en U ons sal vergewe.
  • Dankie dat U Gees ons lei en dat ons net moet luister en doen wat U sê.
  • Dankie Vader vir U onbeperkte liefde.

Amen




(K005) Bedrukte of vrolike lewe – Spr 15:15

Hoe is jou lewe tans? Is jy bedruk en depressief of is jy gelukkig en lewe ‘n vrolike lewe? Leef jy in donkerte met alles wat gebeur in die wêreld om jou of lewe jy in die lig van Jesus? Kyk wat sê die Woord van God



Spreuke 15:15 NLV “Vir die bedrukte mens bring elke dag net probleme. Vir die blymoedige mens is die hele lewe ’n fees.”

Bedrukte mens – magtelose (AFR20) – vir hierdie mense is die lewe sleg en vol probleme maw donker – hulle probleme word elke dag net meer en daar is nie enige vooruitsig op iets beter in die toekoms nie.

Blymoedige mens – vrolikheid van hart (AFR20) – vir hierdie mense is die lewe een groot fees maw lig – hulle geniet die lewe, het goeie verwagtinge vir die toekoms.

Kom ons gaan kyk na die Bybelse donker en lig

Luk 11:34 Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan reg is, is jou hele liggaam ook verlig; maar as dit verkeerd is, is jou liggaam ook donker.

Wat sien jy met jou oë – liggaamlike oë en geestelike oë?

  • Sien jy net donker?

Jy kyk in die nuusmedia en sien die hele wêreld en jou eie land is in chaos, daar is geen toekoms vir die mens nie.

  • Of sien jy lig?

Die Here se goedheid en ‘n gelukkig lewe vol vrede en voorspoed.

Wie is die donker in die wêreld?

Efs 6:12  Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.

Die duiwel is die donkerte in die wêreld.

Die duiwel is in beheer van die wêreld hier op die aarde, hy het die beheer van Adam en Eva gesteel deur hulle te verlei.

Dit is sy doel om almal in die wêreld te onderdruk en weg van God te hou.

Wanneer kinders van God se aandag op die donker gefokus word, breek dit hulle af en hulle sien net die donker en verloor hulle, hulle fokus wat op God behoort wees.

Wie is die lig in die wêreld?

Joh 1:4-5  In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense. En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie.

Hierdie gedeelte gaan oor Jesus en ons sien ook in –

Joh 8:12  En Jesus het weer met hulle gespreek en gesê: Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.

Jesus is die lig in die wêreld.

Waar Jesus is, is daar lig. Soos wanneer ‘n lig aangeskakel word verdryf dit die donker, so is dit ook in die wêreld wat ons lewe, waar Jesus is, is daar lig en die duiwel vlug.

Wat is Jesus se waarskuwings vir ons oor die duisternis?

Joh 12:35  En Jesus sê vir hulle: Nog ‘n klein tydjie is die lig by julle. Wandel so lank as julle die lig het, sodat die duisternis julle nie oorval nie. En wie in die duisternis wandel, weet nie waar hy gaan nie.

Jesus maak dit baie duidelik dat ons in Hom moet wandel as ons van die duisternis wil wegkom.

Die ongelowiges struikel rond in wanhoop in die donker, maar die wat in Jesus is, loop in vreugde in Sy lig.

Hoe kom jy van die donker na die lig?

Joh 12:46  Ek het as ‘n lig in die wêreld gekom, sodat elkeen wat in My glo, nie in die duisternis sou bly nie.

Daar is slegs een pad, deur Jesus.

Jy moet weergebore word deur te glo en te verklaar dat Jesus vir ons sonde op die kruis gesterf het en dat God Hom weer uit die dood lewend gemaak het.

Ons sien dit ook in Jesus se opdrag aan Paulus met sy bekering –

Hnd 26:18 ANVJy moet hulle oë oopmaak sodat hulle hulle van die duisternis tot die lig en van die mag van die Satan tot God kan bekeer. Deur in My te glo, sal hulle sondes vergewe word en sal hulle deel word van die volk van God.’

Daarby ontvang ons die volgende waarskuwings –

2Ko 6:14  Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis?

Ons moet waaksaam wees dat dit wat in die wêreld gebeur en met wie ons kontak het, ons nie beïnvloed en weg van die Here en Sy lig trek nie.

Ons kom dit nie altyd agter dat ons weggetrek word nie, maar skielik sit ons in wanhoop omdat die Here se lig in ons gedoof is en verstaan ons nie hoekom ons so bedruk is nie.

Waar is ons basis?

Ons moet egter vashou aan die beloftes dat God ons altyd sal beskerm –

2Pe 2:9 ANV Die Here weet dus om dié wat Hom dien, uit beproewing te red, maar om die goddeloses te straf en vir die oordeelsdag gevange te hou.

Heb 13:6 Daarom kan ons met alle vrymoedigheid sê: Die Here is vir my ‘n Helper, en ek sal nie vrees nie; wat sal ‘n mens aan my doen?

Lees en verklaar ook Ps 91 oor jou wanneer jy bedruk voel.

In kort:

  • Vertrou op die Here en geniet die lewe. Joh 10:10
  • Skud die las wat die duiwel op jou wil lê van jou skouers af en geniet die lewe saam met die ander gelowiges. Hand 2:44
  • Praat mekaar moed in wanneer een se oë van Jesus afdwaal. 1 Thes 5:11
  • Wys die ongelowiges dat dit moontlik is om die lewe werklik te geniet en wen hulle vir Jesus.

Gebed

Vader U is groot, so groot dat dit bo ons verstand is

U is liefde

In 1Joh 1:5 verseker U ons dat U die lig is en daar geen duisternis in U is nie.

Dankie VADER vir U onbeskryflike liefde vir ons.

Dankie dat ons altyd op U kan staatmaak.

Dankie dat ons weet wanneer die wêreld se donker ons wil oorweldig, ons slegs na U kan kom vir ondersteuning om weer die lig ten volle te kan sien en belewe.

Dankie Vader

Amen




(K004) ‘n Gesonde Liggaam Spr 3:7-8

SPREUKE 3:7-8 NLV “Moenie jou eie wysheid oorskat nie. Hou eerder die Here voor oë en vermy wat sleg is. Dit sal jou liggaam gesond hou, jou lewe verkwik.”



Wat sê Salomo hier vir ons?

“Hou eerder die Here voor oë”

Vertrou op die Here in alles wat jy doen en wat om jou gebeur.

“vermy wat sleg is”

Wanneer jy jou vertroue van die Here afhaal en op jouself begin staat maak, begin jou probleme, wat ‘n direkte invloed op jou liggaam het.

Waarvan praat ek?

  • Jy begin dinge of jou werk doen op eie insig, i.p.v. om op die Here te vertrou en Sy leiding te volg – dit plaas jou onder spanning met ‘n direkte invloed op jou gesondheid.
  • Jy sien en hoor wat om jou gebeur en i.p.v. om op die Here te vertrou soos Hy in Sy Woord belowe om jou te beskerm, begin jy in vrees lewe, want jy glo dat jy gaan ook ‘n slagoffer word – dit plaas jou ook onder spanning wat jou gesondheid beïnvloed.

Saam met die spanning en vrees, hoe lewe jy?

  • Oor eet en jou gewig tel op – nagevolge is jou organe werk te hard, rug en bene moet ‘n gewig dra waarvoor dit nie ontwerp is nie, met die gevolg dat organe, gewigte en spiere beskadig word.
  • Rook uit gewoonte of as kalmeermiddel wanneer spanning hoog is – dit is nie goed vir jou longe nie en kan longkanker veroorsaak.
  • Oormaat van drank vir die ontvlugting van die werklikheid – vernietig die lewer en gee ander emosionele probleme
  • Misbruik van middels wat insluit van die gewone medikasie oor die toonbank tot gevaarlike en onwettige dwelmmiddels om ook van die werklikheid te ontvlug – vernietig die liggaam wat nie ontwerp is om dit te hanteer nie.
  • Lewe in haat teen ander of in onvergewensgesindheid – dit maak jou siek, navorsing wys na kanker.
  • Daar is nog baie ander dinge wat in ons lewens voorkom wat ‘n direkte invloed op ons liggame het.

Salomo sê wanneer jy jou oë op die Here hou en die slegte vermy sal –

  • “Dit sal jou gesond hou”

Gaan soek waar jy verkeerd lewe, stel dit reg en jou liggaam sal gesond wees.

  • jou lewe verkwik”

Jou lewe sal rustig en aangenaam word, tot op ‘n vlak wat jy nie sal kan glo nie.

Die Here het ons die volgende beloftes deur Sy Woord gee:

  • Jesus het vir al ons siektes aan die kruis gesterf –

1Pe 2:24 Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sondes dood en kan ons lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God. Deur sy wonde is julle genees.

Jesus se liggaam is gebreek vir ons om ‘n gesonde lewe te kan lewe. Wanneer ons in Hom glo en ook glo dat siekte van die duiwel afkom om ons te vernietig (Joh 10:10).

  • Die Here belowe ons beskerming in Sy Woord –

Spr 30:5 ANV Elke belofte van God is betroubaar; Hy beskerm dié wat by Hom skuil.

2 Pet 2:9 NLV “Die Here weet dus om dié mense wat naby aan Hom leef, uit beproewing en swaarkry te red, maar om dié wat ’n verkeerde lewe lei, te straf en vir die oordeelsdag te bêre.”

Soek die Here! Jy gaan Hom net kry deur Sy Woord te lees en te glo wat dit vir jou sê.

Wat staan jou te doen?

  • “Hou eerder die Here voor oë” – kyk na die Here en vertrou op Hom – lees Sy woord en hoe meer jy dit lees, hoe meer gaan jou vertroue groei in die Here.
  • Wanneer jy elke oggend wakker word dank die Here vir Sy hand van beskerming wat oor jou was gedurende die nag en dat Hy jou sal beskerm vir oral waar jy daardie dag sal gaan.
  • “vermy wat sleg is” – Gaan sit en kyk na jou lewe, vra ook die Heilige Gees om dinge wat nie reg is in jou lewe aan jou uit te wys en maak ‘n lys.
  • Vat die lys en maak die besluit om jou lewe te verander en dit wat op die lys is uit jou lewe te verwyder.
  • Plak die lys iewers op waar jy dit elke dag sien om jou te herinner dat jy dit wil teenstaan.
  • Vra die Heilige Gees elke dag om jou te ondersteun in dit wat in die lys is, teen te staan.
  • Belangrikste – GLO DAT JESUS VIR ONS SIEKTES GESTERF HET (1Pet 2:24) EN DAT JY KLAAR GESOND IS EN WAG OM DIE MANIFISERING DAARVAN TE SIEN NA JY VAN DIE OORSAKE ONTSLAE GERAAK HET.
  • Jy kan nie verwag om gesond te wees, maar jou optrede wat dit veroorsaak het nie verander nie.
  • Die Here sê vir ons in –

1 Joh 1:8-9 NLV “As ons beweer dat ons nie sonde het nie, mislei ons onsself en leef ons nie volgens die waarheid nie. As ons egter ons sondes bely, Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van alles wat verkeerd is.”
Ons is klaar gered en vergewe wanneer ons weergebore is, maar hierdie verse maak dit duidelik dat solank ons nog hier op aarde lewe en ons denke en wil (siel) verander moet word, gaan ons foute maak wat ‘n direkte invloed op ons lewens en liggaam gaan hê hier op aarde. Lees ook Jak 5:14-16.

Belangrik:

Moet nie al jou medikasie net sommer so los nie, verander jou lewe en op wie jy vertrou en met verbetering in jou liggaam sal jy dan van die medikasie afgehaal word deur jou dokter.

Gebed:

Dankie Vader dat U vir ons omgee en lief is,

Dankie dat ons met enigiets na U toe kan kom vir raad en hulp,

Dankie dat ons weet dat U ons sal beskerm van die duiwel,

Dankie dat ons op U hulp kan staatmaak in wat ons moet doen,

Dankie vir Jesus wat ons siektes op Hom geneem het sodat ons ‘n lewe sonder enige siektes kan lewe,

Ons weet dat al hierdie beloftes van U af waar is, maar ons moet dit glo en ons eie maak.

Amen.




(A003) Doop met Heilige Gees deur Jesus

Ek gaan nou aan met die Doop met die Heilige Gees soos in die vorige video, ‘Die Verskillende Dope’, belowe.



Wanneer ons glo dat Jesus vir ons sonde as mens hier op aarde gesterf het en deur God weer uit die dood opgewek is, word ons gees weergebore en geseël deur die Heilige Gees (Ef 1:13) en die Heilige Gees kom bly in ons saam met ons gees.

Hierdie word bevestig in –

Joh 14:16-17 En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.

God het die Heilige Gees gestuur om by en in ons, as weergeborene, te wees.

Met ons nuwe gees kry ons toegang tot die geestes wêreld, maar die ander wat nie weergebore is nie kan nie die Heilige Gees sien en verstaan nie omdat hulle nie die geestelike wêreld kan sien of verstaan nie.

Jesus verduidelik verder wat die doel is vir die Heilige Gees in ons te kom bly –

Joh 14:25-26 Dit het Ek tot julle gespreek terwyl Ek by julle bly; maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.

Die doel is dat die Heilige Gees ons leer wat God se wil is.

Wanneer ons weergebore word ontvang ons die vrug van die Heilige Gees –

Gal 5:22 Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.

Hoe vorder elkeen van ons met hierdie lys?

Paulus gee die oplossing om in hierdie lys te groei –

Gal 5:24-25 Maar die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig. As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel.

Wanneer ons lewe met die Heilige Gees in ons, kan ons ook deur die Heilige Gees optree.

Hoe kry ons dit reg want ons siel – verstand en wil – beheer ons optrede?

Die Heilige Gees is in ons en moet ‘n koppeling met ons siel kry om ons te kan lei en leer wat ons moet weet. (Joh 14:26 en 1 Kor 2:4 & 10)

Hoe kry ons hierdie koppeling tussen die Heilige Gees wat saam met ons gees in ons is en ons siel?

Deur die doop met die Heilige Gees deur Jesus Christus.

Bewyse uit die Woord van God dat die Doop met die Heilige Gees bestaan en nie outomaties deel is van die waterdoop is nie, maar die twee dope kan saam plaasvind:

  • Die volgende gedeelte gaan oor die evangelie wat Filippus in Samaria verkondig het –

Hnd 8:12, 14-17 Maar toe hulle Filippus geglo het, wat die evangelie aangaande die koninkryk van God en die Naam van Jesus Christus verkondig het, is hulle gedoop, manne sowel as vroue. 14 En toe die apostels in Jerusalem hoor dat Samaría die woord van God aangeneem het, het hulle Petrus en Johannes na hulle gestuur. Húlle het afgekom en vir hulle gebid, dat hulle die Heilige Gees mag ontvang, want Hy het toe nog op niemand van hulle geval nie, maar hulle was net gedoop in die Naam van die Here Jesus. Hulle het hul toe die hande opgelê, en hulle het die Heilige Gees ontvang.

Hier is dit duidelik dat hulle eerste met water gedoop is en later met die Heilige Gees.

  • Die volgende gedeelte handel oor die groep gelowiges wat Paulus in Efese raak geloop het en net met die doop van Johannes die Doper gedoop was en niks van die Heilige Gees geweet het nie –

Hnd 19:5-6 En toe hulle dit hoor, is hulle gedoop in die Naam van die Here Jesus. En Paulus het hulle die hande opgelê, en die Heilige Gees het op hulle gekom, en hulle het met tale gespreek en geprofeteer.

Hier is dit duidelik dat hulle eers in water gedoop is en daarna het Paulus hulle hande opgelê en hulle is met die Heilige Gees gedoop.

Die uitstorting of doop van die Heilige Gees was nie net vir ‘n seker groep in die Nuwe Testamentiese Kerk nie maar vir almal en dit sluit ons nog steeds vandag in.

Hoe word jy met die Heilige Gees gedoop?

Luk 11:13 As julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?

Vra God deur gebed vir vulling van die Heilige Gees

Hnd 8:17 Hulle het hul toe die hande opgelê, en hulle het die Heilige Gees ontvang.

Hnd 19:6 En Paulus het hulle die hande opgelê, en die Heilige Gees het op hulle gekom, en hulle het met tale gespreek en geprofeteer.

Kry ‘n geestelike leier om hande op jou te lê.

Ek het ontdek na ek by die Bybel Kollege uitgekom het en die doop van die Heilige Gees ontvang het, dat daar dinge in my lewe verander het. Byvoorbeeld ek het die Bybel heeltemal anders gelees en deur die Heilige Gees ek skrifgedeeltes  verstaan en dit was nie meer net ‘n boek wat ek gelees het nie. Joh 14:26 die Heilige Gees het my geleer deur die Woord van God.

My prentjie wat ek vorm oor om met die Heilige Gees gedoop te word is dat met die doop of vulling ontstaan daar ‘n koppeling tussen die Heilige Gees met jou siel en begin daar ‘n uitvloei deur jou siel van die Heilige Gees na jou verstand en liggaam.

Wanneer ons met die Heilige Gees gevul of gedoop word ontvang ons een of meer gawes van die Heilige Gees –

1Ko 12:8-11 Want aan die een word deur die Gees ‘n woord van wysheid gegee, en aan die ander ‘n woord van kennis vanweë dieselfde Gees; aan ‘n ander weer geloof deur dieselfde Gees, en aan ‘n ander genadegawes van gesondmaking deur dieselfde Gees; aan ‘n ander werkinge van kragte, aan ‘n ander profesie, aan ‘n ander onderskeiding van die geeste, aan ‘n ander allerhande tale, aan ‘n ander uitleg van tale. Maar al hierdie dinge werk een en dieselfde Gees wat aan elkeen afsonderlik uitdeel soos Hy wil.

Nog gawes word ook in Rom 12:6-8 gegee.

Die doel van hierdie gawes is om –

  1. Mede gelowiges te ondersteun,
  2. Die kerk van Jesus te help opbou en
  3. Om ongelowiges die krag van God te wys en te laat belewe sodat hulle Jesus as hulle verlosser kan ontdek.

Jesus is ons voorbeeld –

Hnd 10:38 met betrekking tot Jesus van Násaret, hoe God Hom gesalf het met die Heilige Gees en met krag. Hy het die land deurgegaan, goed gedoen en almal genees wat onder die mag van die duiwel was, omdat God met Hom was.

Jesus was vervul met die Heilige Gees en het al die gawes gebruik om mense te help en te red.

Jesus sê die volgende aan ons –

Mar 16:17-18 En vir die wat geglo het, sal hierdie tekens volg: in my Naam sal hulle duiwels uitdryf, met nuwe tale sal hulle spreek, slange sal hulle opneem; en as hulle iets dodeliks drink, sal dit hulle geen kwaad doen nie; op siekes sal hulle die hande lê, en hulle sal gesond word.

Ons kan alles wat Jesus gedoen het ook doen met die Heilige Gees in ons.

Joh 14:12-13 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo—die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan. En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word.

Ons kan selfs meer doen as wat Jesus hier op aarde gedoen het sodat God verheerlik kan word.

Ons het dieselfde Gees van God in ons wat Jesus uit die dood opgewek het.

Rom 8:11 En as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.

Laat jou doop in die Heilige Gees en soek watter gawes jy van die Heilige Gees ontvang het en gebruik dit tot eer van God.




(A002) Die verskillende dope.

Daar is drie verskillende dope wat ons in die Woord van God sien.



Eerste een waarna ons kyk is die doop deur die Heilige Gees.

Wanneer jy Jesus as jou verlosser aanvaar, word jy in die dood en opstanding van Jesus gedoop deur die Heilige Gees.

Ons sien dit in –

1Kor 12:13 Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge.

“Deur een Gees” – die Heilige Gees – “gedoop tot een liggaam” – Liggaam van Christus

En Rom 6:4 maak dit verder duidelik –

Rom 6:4 Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel.

Wanneer ons Jesus as ons verlosser aanvaar, sterf ons saam met Jesus en word saam met “Hom begrawe” vrygemaak van ons sonde. Dan in opvolg daarop, soos Jesus uit die dood opgestaan het, staan ons weer op in ‘n nuwe lewe met ‘n weergebore gees, verseël deur die Heilige Gees en vry van sonde.

Die waterdoop

Die waterdoop is die volgende stap na jy weergebore is en dit is ‘n aksie van jou kant af, waar jy in die openbaar verklaar dat jy glo dat Jesus vir jou sonde gesterf het en weer deur God uit die dood opgewek is. (Rom 10:9-10)

Ons sien in die Evangelies en Handelinge van waterdoop, dit begin met Johannes die Doper wat die Jode begin doop het saam met die belydenis van sonde.

Jesus het Homself laat doop deur Johannes en daarna het Hy die Heilige Gees ontvang.

Jesus gee die volgende opdrag –

Mat 28:19 Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.

Mar 16:15-16 En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom. Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word.

Petrus antwoord die skare die volgende in –

Hnd 2:38 En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.

Die vereiste om met water gedoop te kan word is dus –

Jy moet  jou bekeer van jou sonde. Bekering is om te verstaan dat jy sondig is, te weet dat Jesus jou sonde weggeneem het en dan die aksie neem om te glo en te bely dat Jesus vir jou sonde gesterf het en weer lewendig gemaak is deur God, maw weergebore te word.

Jy kan nie gered word deur met water gedoop te word nie. Jy kan slegs gered word deur weergebore te word wanneer jy Jesus as jou verlosser aanvaar.

Die Griekse woord vir doop wat in die Bybel gebruik word is ‘Baptizõ’ en beteken om heeltemal te bedek word, maw om heeltemal onder water te gaan of met water toegemaak te word.

Die simboliek is, dat wanneer jy totaal onder die water gaan, beteken dit dat jy gesterf het saam met Jesus en wanneer jy opkom uit die water staan jy saam met Jesus op uit die dood.

Enige weergebore gelowige kan ‘n nuut weergebore kind van God doop en nie net pastore of predikante nie.

Ek kom uit ‘n kerkverband wat glo dat babas gedoop moet word, deur besprinkeling met water, sodat hulle gered sal wees. Daar is ‘n baie lang filosofiese verduideliking om dit te regverdig, maar dit is nie korrek nie.

Babas kan egter nie weergebore word nie – hulle het nie die vermoë tot bekering nie, om te glo en te bely dat Jesus vir hulle sonde gesterf het en deur God uit die dood opgewek is nie.  Daarom is dit verkeerd om babas te doop.

God het ook nie opdrag in Sy Woord gegee dat babas gedoop moet word nie en ons glo God is regverdig en goed en sal nie ‘n kind laat verlore gaan tot die kind ‘n kans gehad het om weergebore te word nie (Mat19:14; 2 Petrus 3:9) en sou ‘n kind sterf glo ons hy/sy is gered en by Jesus.

Die doop deur Christus – doop met die Heilige Gees

Johannes die Doper verklaar die volgende in –

Joh 1:33 En ek het Hom nie geken nie; maar Hy wat my gestuur het om met water te doop, Hy het aan my gesê: Op wie jy die Gees sien neerdaal en op Hom bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.

Mat 3:11 Ek doop julle wel met water tot bekering; maar Hy wat ná my kom, is sterker as ek, wie se skoene ek nie waardig is om aan te dra nie. Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur.

In die volgende gedeelte gaan ek in meer diepte in oor die Doop van die Heilige Gees.




(A001) Redding en weergeboorte

In die kort gedeeltes wat ek op video begin hanteer het, het ek besef dat ek dalk woorde en terme gebruik wat nie almal ken of verstaan nie en gevolglik het ek besluit om by die begin te begin en seker te maak almal is op dieselfde vlak.



God het die mens ontwerp met ‘n gees, siel en liggaam ons sien dit in –

1Ts 5:23 En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus!

  • Gees – ons kan dit nie sien, voel of hoor nie. Hoekom het ons ‘n gees, want dit is wat ons aan die lewe hou, sonder die gees is die liggaam dood (Jak 2:26) en God is Gees en ons moet hom in gees aanbid (Joh 4:24), maw ons kommunikeer met God deur ons gees.
  • Siel – gevoelens en kennis maw ons verstand of brein.
  • Liggaam – Die deel wat ons kan voel en ons 5 sintuie – voel, reuk, hoor, sien en proe.

Aan die begin het God Adam en Eva geskape, hulle het egter nie na God geluister nie en gesondig.

Die gevolg was dat daar ‘n verwydering tussen die mens se gees en God gekom het en dit het die siel en liggaam beïnvloed wat oorgedra is na hulle nageslag en ons is deel van daardie nageslag.

God voorsien egter ‘n pad om hierdie vloek wat oor die mens gebring is uit die weg te neem.

God stuur Sy Seun Jesus aarde toe om mens te word en vir ons sonde as ‘n sondelose mens te sterwe.

Joh 3:16-18 God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. 17 God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. 18 Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie

Hoe word ons van ons sonde vrygemaak en ons gees weer met God gekoppel?

Rom 10:9-10 As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered.

Ons moet in ons hart glo en met ons mond bely dat Jesus vir ons sonde gekruisig is en deur God uit die dood opgewek is.

Wanneer ons glo en bely wat Jesus vir ons gedoen het, word ons vrygemaak deur God se genade.

Ons word dan weergebore en ons gees word nuut gemaak en geseël deur die Heilige Gees. (Ef 1:13)

Ons is slegs gered wanneer ons weergebore is en kan dan ook verklaar dat ons ‘n kind van God is.

1Joh 3:9 Iemand wat ‘n kind van God is, doen nie meer sonde nie, omdat die Gees van God in hom bly; en hy kan nie meer sondig nie, omdat hy uit God gebore is.

Na ons gees verseël is kan ons gees nie meer sondig nie, maar ons siel wat ons optrede beheer moet nou nuut gemaak word sodat ons volgens die wil van God kan lewe en dit kan slegs gebeur deur Woord van God (Rom 12:2).

In die volgende deel behandel ons die verskillende dope.




(K003) Hantering van Onbillike Behandeling – 1 Pet 2:18-21

Hierdie gedeelte is in opvolg van ‘n vorige gedeelte wat ek behandel het onder die opskrif ‘Beskerm jou inkomste’ en gaan oor hoe om onregverdige optrede teenoor jou te hanteer in jou werksplek.



1 PETRUS 2:18-21 NLV “Huiswerkers, julle moet die gesag van julle werkgewers volledig aanvaar. Dóén wat hulle vir julle sê – of hulle nou goedhartig en vriendelik is, of onredelik. Dit is immers genade as jy, omdat jy in gedagte hou wat God wil hê, onverdiende houe vat, al maak dit jou seer. Daar is natuurlik geen verdienste daarin as julle die houe vat vir ’n oortreding nie. Om egter die houe te vat wanneer julle goeddoen, dít is iets besonders voor God. Hierdie soort swaarkry maak juis deel uit van dit waartoe God julle geroep het. Christus, wat vir julle gely het, is julle voorbeeld. Volg in sý spore.”
Uit hierdie gedeelte leer ons –

  • Aanvaar jou werkgewer / toesighouer se gesag en moet nie rebelleer of agteraf skinder oor hom of haar nie.
  • Al word jy onregverdig behandel deur jou werkgewer of medewerkers, doen jou werk waarvoor jy ‘n salaris ontvang tot die beste van jou vermoë. Dit is wat God van jou verlang.
  • Indien jy iets verkeerd gedoen het, vat jou straf. Binne hierdie wêreld wat ons lewe aanvaar niemand skuld nie of daar is gewoonlik ‘n lang lys van redes hoekom jy dit gedoen het as verskoning.
  • Wanneer jy jou werk doen en jy word onregverdig aangeval, hanteer dit soos Jesus dit sou hanteer maw. vergewe, vergeet en gaan aan met jou werk.
  • Onthou Jesus het onregverdig vir ons gely, wat is ons beter om nie ook lyding te verduur wanneer dit oor ons pad kom nie.

Wanneer jy moedeloos is en nie weet hoe om sake verder te hanteer nie, maak jou oë toe en praat met God vir leiding en troos. Jy sal verbaas wees hoe jy daarna gaan voel.

Jou optrede gaan ook nie ongesiens verby nie en hulle wat jou onregverdig behandel sien Christus in jou. Al praat hulle met smaad oor jou, binne in hulle het hulle jou optrede waargeneem en bou jy respek op by hulle, al ontken hulle dit.

Die wat onregverdig optree en mag misbruik, is diep binne hulle onseker van hulle self, ook ongelukkig in hulle lewe en probeer dit in hulle optrede en woorde wegsteek.

Jou optrede kan bydrae dat hulle tot Christus draai en gered word om te kan hê wat jy het.

Gebed

Dankie Vader vir U liefde en geduld met ons.

Dankie Vader dat ons enige tyd na U toe kan kom, in vreugde en in teenspoed.

Dankie dat ons Jesus as voorbeeld het oor hoe ons moet optree in hierdie wêreld.

Laat ons altyd eers na U kyk vir leiding voor ons reageer of optree.

Ons vra hierdie in die naam van Jesus.

Amen




(K002) Beskerm jou inkomste – Spr 27:18

Spr 27 :18 “Wie sy vyeboom versorg, eet van sy vrugte. Wie omsien na die belange van sy werkgewer, sal voordeel daaruit trek.”NLV



Wat sê hierdie stukkie?

Prakties met die natuur – versorg die vrugteboom wat vir jou vrugte voorsien waarvan jy sal hou om te eet of dalk verkoop vir inkomste.

Netso werk dit met jou werk wat jy van God ontvang het.

Jy het ‘n werkgewer wat werknemers nodig het om sy besigheid te help bedryf,

maak nie saak of dit ‘n klein besigheid is of ‘n groot besigheid wat takke oral oor die wêreld het nie,

maak nie saak hoe hoog of klein jou pos waarin jy werk is nie.

Hierdie werk gee vir jou maandeliks ‘n salaris waarvan jy en jou familie lewe.

Wanneer jy getrou jou werk waarvoor jy aangestel is doen sal dit met jou goed gaan.

Dit is vir jou werkgewer voordelig wanneer jy jou werk getrou doen,

maak nie saak hoe belangrik of nietig die werk is wat jy doen nie.

Jou werkgewer kry jou deel van die werk gedoen teen die beste prys.

Sy kliënte is ook gelukkig met die diens of produk wat hulle ontvang en hou aan om na hom terug te kom vir meer.

Solank jou werkgewer sy produk of dienste verkoop kry gaan jy ‘n inkomste verdien.

Moenie kyk wat die ander werkers doen of hoe hulle optree nie, doen dit wat die Here van jou verwag.

Jy werk eintlik vir die Here –  

Kol 3:23-24. “Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie 24  omdat julle weet dat julle van die Here as beloning sal kry wat Hy belowe het. Christus is die Here in wie se diens julle staan.” 

Jou optrede kan die ander om jou en jou werkgewer beïnvloed om beter te werk en hulle selfs na Jesus te lei as hulle verlosser.

Kom ons bid saam

Dankie Vader dat ons U kinders kan wees

Dankie Vader dat U ons versorg soos U ons belowe in U Woord.

Heilige Gees plaas asb. ‘n wag voor ons monde sodat ons eers sal dink voor ons praat en wanneer ons praat dat dit opbouend vir almal sal wees wat dit hoor.

Heilige Gees herinner ons asb. ook dat wanneer ons ons werk uitvoer dat dit vir die Here is en ook vir onsself.

Ons vra dit in die naam van Jesus Christus

Amen




(K001) Glo alles – Spr 14:15

Spr 14:15 AOV “Die eenvoudige glo elke woord, maar die skrandere let op sy voetstappe.” Spr 14:15 NLV “’n Dwaas glo alles wat hy hoor. ’n Verstandige mens oorweeg elke tree wat hy gee.”

Eerste deel “’n Dwaas glo alles wat hy hoor.”

Waar staan jy?



Is die nuusmedia, sosiale media of wat mense vir jou sê die alfa en omega, jy glo alles is die waarheid sonder om te onderskei tussen wat is waar of vals of die waarheid word in die oordrewe vlak vertel, wat dit ook dan vals maak?

Tweede deel ”’n Verstandige mens oorweeg elke tree wat hy gee.”

Hoe bepaal jy of dit wat gesê word korrek is en binne konteks?

  • Vra die Heilige Gees vir ‘n antwoord en leiding deur dit met die Woord van God te vergelyk – is dit inlyn met die Woord of is dit verdraai om aan te pas by die persoon se agenda?
  • Gaan soek meer inligting – internet is ‘n bron van onbeperkte inligting, maak net seker die bronne is betroubaar
  • Gebruik jou eie gesonde verstand (commonsense)

Die duiwel is die heerser in hierdie wêreld (2Kor 4:3-4 & Luk 4:6) en wil jou, veral omdat jy in Jesus as jou verlosser glo, aanval en weg van God dryf deur jou negatief en moedeloos te maak, hy wil hê jy moet bedruk voel (depressief).

Joh 10:10Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes…”

Spr 15:15 sê dit vir ons duidelik

Spr 15:15 AOV “Al die dae van die bedrukte is sleg…”

Spr 15:15 NLV “Vir die bedrukte mens bring elke dag net probleme…”

Maar wat wil God vir ons hê? Jesus het gesê

Joh 10:10…. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.”

Wat gebeur wanneer jy lewe en oorvloed het?

Jou hart is gelukkig en vrolik

Spr 15:15 AOV “…, maar die vrolike van hart het gedurigdeur fees.”

Spr 15:15 NLV “…. Vir die blymoedige mens is die hele lewe ’n fees.”

So moet nie alles glo wat jy hoor en lees nie, toets dit eers en so sal jy gelukkig en vrolik lewe hier in hierdie korrupte wêreld.

Gebed

Dankie Vader dat ons U as ons vader het wat ons deur U Heilige Gees lei end at ons vry en sonder vrees kan lewe.

Amen




God het jou lief net soos jy is

Lewe jy in vrees dat jy nie goed genoeg is vir God en dat Hy jou nie lief het nie?



1Joh 4:10  Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as ‘n versoening vir ons sondes.

God het elkeen van ons lief, ongeag wat ons gedoen het, en het Jesus aarde toe gestuur om ons van die sondelas te bevry. God het dit uit Sy eie gedoen net omdat Hy elke mens op aarde wat geleef het, nou lewe en in die toekoms sal lewe, lief het.

1Joh 4:15  Elkeen wat bely dat Jesus die Seun van God is—God bly in hom, en hy in God.

Al wat ons moet doen is om in ons hart te glo en met ons mond bely dat Jesus vir ons sonde gesterf het (Rom 10:9-10) sodat God in ons kan kom bly en ons in Hom. Jesus se offer versoen ons met God en God sien nie meer ons sondes raak nie (Heb 10:17-18).

Begin dan om ʼn verhouding met God te bou, aanvaar Sy liefde en seën hier op aarde. Moenie dat jou tekortkominge jou terughou nie, God het jou lief net soos jy is, bou aan jou vertroue in God.

Ons as gelowiges het niks om meer te vrees nie, wanneer ons hier op aarde sterf gaan ons na God toe.