(A003) Doop met Heilige Gees deur Jesus

Ek gaan nou aan met die Doop met die Heilige Gees soos in die vorige video, ‘Die Verskillende Dope’, belowe.



Wanneer ons glo dat Jesus vir ons sonde as mens hier op aarde gesterf het en deur God weer uit die dood opgewek is, word ons gees weergebore en geseël deur die Heilige Gees (Ef 1:13) en die Heilige Gees kom bly in ons saam met ons gees.

Hierdie word bevestig in –

Joh 14:16-17 En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.

God het die Heilige Gees gestuur om by en in ons, as weergeborene, te wees.

Met ons nuwe gees kry ons toegang tot die geestes wêreld, maar die ander wat nie weergebore is nie kan nie die Heilige Gees sien en verstaan nie omdat hulle nie die geestelike wêreld kan sien of verstaan nie.

Jesus verduidelik verder wat die doel is vir die Heilige Gees in ons te kom bly –

Joh 14:25-26 Dit het Ek tot julle gespreek terwyl Ek by julle bly; maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.

Die doel is dat die Heilige Gees ons leer wat God se wil is.

Wanneer ons weergebore word ontvang ons die vrug van die Heilige Gees –

Gal 5:22 Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.

Hoe vorder elkeen van ons met hierdie lys?

Paulus gee die oplossing om in hierdie lys te groei –

Gal 5:24-25 Maar die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig. As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel.

Wanneer ons lewe met die Heilige Gees in ons, kan ons ook deur die Heilige Gees optree.

Hoe kry ons dit reg want ons siel – verstand en wil – beheer ons optrede?

Die Heilige Gees is in ons en moet ‘n koppeling met ons siel kry om ons te kan lei en leer wat ons moet weet. (Joh 14:26 en 1 Kor 2:4 & 10)

Hoe kry ons hierdie koppeling tussen die Heilige Gees wat saam met ons gees in ons is en ons siel?

Deur die doop met die Heilige Gees deur Jesus Christus.

Bewyse uit die Woord van God dat die Doop met die Heilige Gees bestaan en nie outomaties deel is van die waterdoop is nie, maar die twee dope kan saam plaasvind:

  • Die volgende gedeelte gaan oor die evangelie wat Filippus in Samaria verkondig het –

Hnd 8:12, 14-17 Maar toe hulle Filippus geglo het, wat die evangelie aangaande die koninkryk van God en die Naam van Jesus Christus verkondig het, is hulle gedoop, manne sowel as vroue. 14 En toe die apostels in Jerusalem hoor dat Samaría die woord van God aangeneem het, het hulle Petrus en Johannes na hulle gestuur. Húlle het afgekom en vir hulle gebid, dat hulle die Heilige Gees mag ontvang, want Hy het toe nog op niemand van hulle geval nie, maar hulle was net gedoop in die Naam van die Here Jesus. Hulle het hul toe die hande opgelê, en hulle het die Heilige Gees ontvang.

Hier is dit duidelik dat hulle eerste met water gedoop is en later met die Heilige Gees.

  • Die volgende gedeelte handel oor die groep gelowiges wat Paulus in Efese raak geloop het en net met die doop van Johannes die Doper gedoop was en niks van die Heilige Gees geweet het nie –

Hnd 19:5-6 En toe hulle dit hoor, is hulle gedoop in die Naam van die Here Jesus. En Paulus het hulle die hande opgelê, en die Heilige Gees het op hulle gekom, en hulle het met tale gespreek en geprofeteer.

Hier is dit duidelik dat hulle eers in water gedoop is en daarna het Paulus hulle hande opgelê en hulle is met die Heilige Gees gedoop.

Die uitstorting of doop van die Heilige Gees was nie net vir ‘n seker groep in die Nuwe Testamentiese Kerk nie maar vir almal en dit sluit ons nog steeds vandag in.

Hoe word jy met die Heilige Gees gedoop?

Luk 11:13 As julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?

Vra God deur gebed vir vulling van die Heilige Gees

Hnd 8:17 Hulle het hul toe die hande opgelê, en hulle het die Heilige Gees ontvang.

Hnd 19:6 En Paulus het hulle die hande opgelê, en die Heilige Gees het op hulle gekom, en hulle het met tale gespreek en geprofeteer.

Kry ‘n geestelike leier om hande op jou te lê.

Ek het ontdek na ek by die Bybel Kollege uitgekom het en die doop van die Heilige Gees ontvang het, dat daar dinge in my lewe verander het. Byvoorbeeld ek het die Bybel heeltemal anders gelees en deur die Heilige Gees ek skrifgedeeltes  verstaan en dit was nie meer net ‘n boek wat ek gelees het nie. Joh 14:26 die Heilige Gees het my geleer deur die Woord van God.

My prentjie wat ek vorm oor om met die Heilige Gees gedoop te word is dat met die doop of vulling ontstaan daar ‘n koppeling tussen die Heilige Gees met jou siel en begin daar ‘n uitvloei deur jou siel van die Heilige Gees na jou verstand en liggaam.

Wanneer ons met die Heilige Gees gevul of gedoop word ontvang ons een of meer gawes van die Heilige Gees –

1Ko 12:8-11 Want aan die een word deur die Gees ‘n woord van wysheid gegee, en aan die ander ‘n woord van kennis vanweë dieselfde Gees; aan ‘n ander weer geloof deur dieselfde Gees, en aan ‘n ander genadegawes van gesondmaking deur dieselfde Gees; aan ‘n ander werkinge van kragte, aan ‘n ander profesie, aan ‘n ander onderskeiding van die geeste, aan ‘n ander allerhande tale, aan ‘n ander uitleg van tale. Maar al hierdie dinge werk een en dieselfde Gees wat aan elkeen afsonderlik uitdeel soos Hy wil.

Nog gawes word ook in Rom 12:6-8 gegee.

Die doel van hierdie gawes is om –

  1. Mede gelowiges te ondersteun,
  2. Die kerk van Jesus te help opbou en
  3. Om ongelowiges die krag van God te wys en te laat belewe sodat hulle Jesus as hulle verlosser kan ontdek.

Jesus is ons voorbeeld –

Hnd 10:38 met betrekking tot Jesus van Násaret, hoe God Hom gesalf het met die Heilige Gees en met krag. Hy het die land deurgegaan, goed gedoen en almal genees wat onder die mag van die duiwel was, omdat God met Hom was.

Jesus was vervul met die Heilige Gees en het al die gawes gebruik om mense te help en te red.

Jesus sê die volgende aan ons –

Mar 16:17-18 En vir die wat geglo het, sal hierdie tekens volg: in my Naam sal hulle duiwels uitdryf, met nuwe tale sal hulle spreek, slange sal hulle opneem; en as hulle iets dodeliks drink, sal dit hulle geen kwaad doen nie; op siekes sal hulle die hande lê, en hulle sal gesond word.

Ons kan alles wat Jesus gedoen het ook doen met die Heilige Gees in ons.

Joh 14:12-13 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo—die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan. En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word.

Ons kan selfs meer doen as wat Jesus hier op aarde gedoen het sodat God verheerlik kan word.

Ons het dieselfde Gees van God in ons wat Jesus uit die dood opgewek het.

Rom 8:11 En as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.

Laat jou doop in die Heilige Gees en soek watter gawes jy van die Heilige Gees ontvang het en gebruik dit tot eer van God.




(A002) Die verskillende dope.

Daar is drie verskillende dope wat ons in die Woord van God sien.



Eerste een waarna ons kyk is die doop deur die Heilige Gees.

Wanneer jy Jesus as jou verlosser aanvaar, word jy in die dood en opstanding van Jesus gedoop deur die Heilige Gees.

Ons sien dit in –

1Kor 12:13 Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge.

“Deur een Gees” – die Heilige Gees – “gedoop tot een liggaam” – Liggaam van Christus

En Rom 6:4 maak dit verder duidelik –

Rom 6:4 Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel.

Wanneer ons Jesus as ons verlosser aanvaar, sterf ons saam met Jesus en word saam met “Hom begrawe” vrygemaak van ons sonde. Dan in opvolg daarop, soos Jesus uit die dood opgestaan het, staan ons weer op in ‘n nuwe lewe met ‘n weergebore gees, verseël deur die Heilige Gees en vry van sonde.

Die waterdoop

Die waterdoop is die volgende stap na jy weergebore is en dit is ‘n aksie van jou kant af, waar jy in die openbaar verklaar dat jy glo dat Jesus vir jou sonde gesterf het en weer deur God uit die dood opgewek is. (Rom 10:9-10)

Ons sien in die Evangelies en Handelinge van waterdoop, dit begin met Johannes die Doper wat die Jode begin doop het saam met die belydenis van sonde.

Jesus het Homself laat doop deur Johannes en daarna het Hy die Heilige Gees ontvang.

Jesus gee die volgende opdrag –

Mat 28:19 Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.

Mar 16:15-16 En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom. Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word.

Petrus antwoord die skare die volgende in –

Hnd 2:38 En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.

Die vereiste om met water gedoop te kan word is dus –

Jy moet  jou bekeer van jou sonde. Bekering is om te verstaan dat jy sondig is, te weet dat Jesus jou sonde weggeneem het en dan die aksie neem om te glo en te bely dat Jesus vir jou sonde gesterf het en weer lewendig gemaak is deur God, maw weergebore te word.

Jy kan nie gered word deur met water gedoop te word nie. Jy kan slegs gered word deur weergebore te word wanneer jy Jesus as jou verlosser aanvaar.

Die Griekse woord vir doop wat in die Bybel gebruik word is ‘Baptizõ’ en beteken om heeltemal te bedek word, maw om heeltemal onder water te gaan of met water toegemaak te word.

Die simboliek is, dat wanneer jy totaal onder die water gaan, beteken dit dat jy gesterf het saam met Jesus en wanneer jy opkom uit die water staan jy saam met Jesus op uit die dood.

Enige weergebore gelowige kan ‘n nuut weergebore kind van God doop en nie net pastore of predikante nie.

Ek kom uit ‘n kerkverband wat glo dat babas gedoop moet word, deur besprinkeling met water, sodat hulle gered sal wees. Daar is ‘n baie lang filosofiese verduideliking om dit te regverdig, maar dit is nie korrek nie.

Babas kan egter nie weergebore word nie – hulle het nie die vermoë tot bekering nie, om te glo en te bely dat Jesus vir hulle sonde gesterf het en deur God uit die dood opgewek is nie.  Daarom is dit verkeerd om babas te doop.

God het ook nie opdrag in Sy Woord gegee dat babas gedoop moet word nie en ons glo God is regverdig en goed en sal nie ‘n kind laat verlore gaan tot die kind ‘n kans gehad het om weergebore te word nie (Mat19:14; 2 Petrus 3:9) en sou ‘n kind sterf glo ons hy/sy is gered en by Jesus.

Die doop deur Christus – doop met die Heilige Gees

Johannes die Doper verklaar die volgende in –

Joh 1:33 En ek het Hom nie geken nie; maar Hy wat my gestuur het om met water te doop, Hy het aan my gesê: Op wie jy die Gees sien neerdaal en op Hom bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.

Mat 3:11 Ek doop julle wel met water tot bekering; maar Hy wat ná my kom, is sterker as ek, wie se skoene ek nie waardig is om aan te dra nie. Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur.

In die volgende gedeelte gaan ek in meer diepte in oor die Doop van die Heilige Gees.




(A001) Redding en weergeboorte

In die kort gedeeltes wat ek op video begin hanteer het, het ek besef dat ek dalk woorde en terme gebruik wat nie almal ken of verstaan nie en gevolglik het ek besluit om by die begin te begin en seker te maak almal is op dieselfde vlak.



God het die mens ontwerp met ‘n gees, siel en liggaam ons sien dit in –

1Ts 5:23 En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus!

  • Gees – ons kan dit nie sien, voel of hoor nie. Hoekom het ons ‘n gees, want dit is wat ons aan die lewe hou, sonder die gees is die liggaam dood (Jak 2:26) en God is Gees en ons moet hom in gees aanbid (Joh 4:24), maw ons kommunikeer met God deur ons gees.
  • Siel – gevoelens en kennis maw ons verstand of brein.
  • Liggaam – Die deel wat ons kan voel en ons 5 sintuie – voel, reuk, hoor, sien en proe.

Aan die begin het God Adam en Eva geskape, hulle het egter nie na God geluister nie en gesondig.

Die gevolg was dat daar ‘n verwydering tussen die mens se gees en God gekom het en dit het die siel en liggaam beïnvloed wat oorgedra is na hulle nageslag en ons is deel van daardie nageslag.

God voorsien egter ‘n pad om hierdie vloek wat oor die mens gebring is uit die weg te neem.

God stuur Sy Seun Jesus aarde toe om mens te word en vir ons sonde as ‘n sondelose mens te sterwe.

Joh 3:16-18 God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. 17 God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. 18 Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie

Hoe word ons van ons sonde vrygemaak en ons gees weer met God gekoppel?

Rom 10:9-10 As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered.

Ons moet in ons hart glo en met ons mond bely dat Jesus vir ons sonde gekruisig is en deur God uit die dood opgewek is.

Wanneer ons glo en bely wat Jesus vir ons gedoen het, word ons vrygemaak deur God se genade.

Ons word dan weergebore en ons gees word nuut gemaak en geseël deur die Heilige Gees. (Ef 1:13)

Ons is slegs gered wanneer ons weergebore is en kan dan ook verklaar dat ons ‘n kind van God is.

1Joh 3:9 Iemand wat ‘n kind van God is, doen nie meer sonde nie, omdat die Gees van God in hom bly; en hy kan nie meer sondig nie, omdat hy uit God gebore is.

Na ons gees verseël is kan ons gees nie meer sondig nie, maar ons siel wat ons optrede beheer moet nou nuut gemaak word sodat ons volgens die wil van God kan lewe en dit kan slegs gebeur deur Woord van God (Rom 12:2).

In die volgende deel behandel ons die verskillende dope.




(K003) Hantering van Onbillike Behandeling – 1 Pet 2:18-21

Hierdie gedeelte is in opvolg van ‘n vorige gedeelte wat ek behandel het onder die opskrif ‘Beskerm jou inkomste’ en gaan oor hoe om onregverdige optrede teenoor jou te hanteer in jou werksplek.



1 PETRUS 2:18-21 NLV “Huiswerkers, julle moet die gesag van julle werkgewers volledig aanvaar. Dóén wat hulle vir julle sê – of hulle nou goedhartig en vriendelik is, of onredelik. Dit is immers genade as jy, omdat jy in gedagte hou wat God wil hê, onverdiende houe vat, al maak dit jou seer. Daar is natuurlik geen verdienste daarin as julle die houe vat vir ’n oortreding nie. Om egter die houe te vat wanneer julle goeddoen, dít is iets besonders voor God. Hierdie soort swaarkry maak juis deel uit van dit waartoe God julle geroep het. Christus, wat vir julle gely het, is julle voorbeeld. Volg in sý spore.”
Uit hierdie gedeelte leer ons –

  • Aanvaar jou werkgewer / toesighouer se gesag en moet nie rebelleer of agteraf skinder oor hom of haar nie.
  • Al word jy onregverdig behandel deur jou werkgewer of medewerkers, doen jou werk waarvoor jy ‘n salaris ontvang tot die beste van jou vermoë. Dit is wat God van jou verlang.
  • Indien jy iets verkeerd gedoen het, vat jou straf. Binne hierdie wêreld wat ons lewe aanvaar niemand skuld nie of daar is gewoonlik ‘n lang lys van redes hoekom jy dit gedoen het as verskoning.
  • Wanneer jy jou werk doen en jy word onregverdig aangeval, hanteer dit soos Jesus dit sou hanteer maw. vergewe, vergeet en gaan aan met jou werk.
  • Onthou Jesus het onregverdig vir ons gely, wat is ons beter om nie ook lyding te verduur wanneer dit oor ons pad kom nie.

Wanneer jy moedeloos is en nie weet hoe om sake verder te hanteer nie, maak jou oë toe en praat met God vir leiding en troos. Jy sal verbaas wees hoe jy daarna gaan voel.

Jou optrede gaan ook nie ongesiens verby nie en hulle wat jou onregverdig behandel sien Christus in jou. Al praat hulle met smaad oor jou, binne in hulle het hulle jou optrede waargeneem en bou jy respek op by hulle, al ontken hulle dit.

Die wat onregverdig optree en mag misbruik, is diep binne hulle onseker van hulle self, ook ongelukkig in hulle lewe en probeer dit in hulle optrede en woorde wegsteek.

Jou optrede kan bydrae dat hulle tot Christus draai en gered word om te kan hê wat jy het.

Gebed

Dankie Vader vir U liefde en geduld met ons.

Dankie Vader dat ons enige tyd na U toe kan kom, in vreugde en in teenspoed.

Dankie dat ons Jesus as voorbeeld het oor hoe ons moet optree in hierdie wêreld.

Laat ons altyd eers na U kyk vir leiding voor ons reageer of optree.

Ons vra hierdie in die naam van Jesus.

Amen




(K002) Beskerm jou inkomste – Spr 27:18

Spr 27 :18 “Wie sy vyeboom versorg, eet van sy vrugte. Wie omsien na die belange van sy werkgewer, sal voordeel daaruit trek.”NLV



Wat sê hierdie stukkie?

Prakties met die natuur – versorg die vrugteboom wat vir jou vrugte voorsien waarvan jy sal hou om te eet of dalk verkoop vir inkomste.

Netso werk dit met jou werk wat jy van God ontvang het.

Jy het ‘n werkgewer wat werknemers nodig het om sy besigheid te help bedryf,

maak nie saak of dit ‘n klein besigheid is of ‘n groot besigheid wat takke oral oor die wêreld het nie,

maak nie saak hoe hoog of klein jou pos waarin jy werk is nie.

Hierdie werk gee vir jou maandeliks ‘n salaris waarvan jy en jou familie lewe.

Wanneer jy getrou jou werk waarvoor jy aangestel is doen sal dit met jou goed gaan.

Dit is vir jou werkgewer voordelig wanneer jy jou werk getrou doen,

maak nie saak hoe belangrik of nietig die werk is wat jy doen nie.

Jou werkgewer kry jou deel van die werk gedoen teen die beste prys.

Sy kliënte is ook gelukkig met die diens of produk wat hulle ontvang en hou aan om na hom terug te kom vir meer.

Solank jou werkgewer sy produk of dienste verkoop kry gaan jy ‘n inkomste verdien.

Moenie kyk wat die ander werkers doen of hoe hulle optree nie, doen dit wat die Here van jou verwag.

Jy werk eintlik vir die Here –  

Kol 3:23-24. “Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie 24  omdat julle weet dat julle van die Here as beloning sal kry wat Hy belowe het. Christus is die Here in wie se diens julle staan.” 

Jou optrede kan die ander om jou en jou werkgewer beïnvloed om beter te werk en hulle selfs na Jesus te lei as hulle verlosser.

Kom ons bid saam

Dankie Vader dat ons U kinders kan wees

Dankie Vader dat U ons versorg soos U ons belowe in U Woord.

Heilige Gees plaas asb. ‘n wag voor ons monde sodat ons eers sal dink voor ons praat en wanneer ons praat dat dit opbouend vir almal sal wees wat dit hoor.

Heilige Gees herinner ons asb. ook dat wanneer ons ons werk uitvoer dat dit vir die Here is en ook vir onsself.

Ons vra dit in die naam van Jesus Christus

Amen




(K001) Glo alles – Spr 14:15

Spr 14:15 AOV “Die eenvoudige glo elke woord, maar die skrandere let op sy voetstappe.” Spr 14:15 NLV “’n Dwaas glo alles wat hy hoor. ’n Verstandige mens oorweeg elke tree wat hy gee.”

Eerste deel “’n Dwaas glo alles wat hy hoor.”

Waar staan jy?



Is die nuusmedia, sosiale media of wat mense vir jou sê die alfa en omega, jy glo alles is die waarheid sonder om te onderskei tussen wat is waar of vals of die waarheid word in die oordrewe vlak vertel, wat dit ook dan vals maak?

Tweede deel ”’n Verstandige mens oorweeg elke tree wat hy gee.”

Hoe bepaal jy of dit wat gesê word korrek is en binne konteks?

  • Vra die Heilige Gees vir ‘n antwoord en leiding deur dit met die Woord van God te vergelyk – is dit inlyn met die Woord of is dit verdraai om aan te pas by die persoon se agenda?
  • Gaan soek meer inligting – internet is ‘n bron van onbeperkte inligting, maak net seker die bronne is betroubaar
  • Gebruik jou eie gesonde verstand (commonsense)

Die duiwel is die heerser in hierdie wêreld (2Kor 4:3-4 & Luk 4:6) en wil jou, veral omdat jy in Jesus as jou verlosser glo, aanval en weg van God dryf deur jou negatief en moedeloos te maak, hy wil hê jy moet bedruk voel (depressief).

Joh 10:10Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes…”

Spr 15:15 sê dit vir ons duidelik

Spr 15:15 AOV “Al die dae van die bedrukte is sleg…”

Spr 15:15 NLV “Vir die bedrukte mens bring elke dag net probleme…”

Maar wat wil God vir ons hê? Jesus het gesê

Joh 10:10…. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.”

Wat gebeur wanneer jy lewe en oorvloed het?

Jou hart is gelukkig en vrolik

Spr 15:15 AOV “…, maar die vrolike van hart het gedurigdeur fees.”

Spr 15:15 NLV “…. Vir die blymoedige mens is die hele lewe ’n fees.”

So moet nie alles glo wat jy hoor en lees nie, toets dit eers en so sal jy gelukkig en vrolik lewe hier in hierdie korrupte wêreld.

Gebed

Dankie Vader dat ons U as ons vader het wat ons deur U Heilige Gees lei end at ons vry en sonder vrees kan lewe.

Amen




God het jou lief net soos jy is

Lewe jy in vrees dat jy nie goed genoeg is vir God en dat Hy jou nie lief het nie?



1Joh 4:10  Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as ‘n versoening vir ons sondes.

God het elkeen van ons lief, ongeag wat ons gedoen het, en het Jesus aarde toe gestuur om ons van die sondelas te bevry. God het dit uit Sy eie gedoen net omdat Hy elke mens op aarde wat geleef het, nou lewe en in die toekoms sal lewe, lief het.

1Joh 4:15  Elkeen wat bely dat Jesus die Seun van God is—God bly in hom, en hy in God.

Al wat ons moet doen is om in ons hart te glo en met ons mond bely dat Jesus vir ons sonde gesterf het (Rom 10:9-10) sodat God in ons kan kom bly en ons in Hom. Jesus se offer versoen ons met God en God sien nie meer ons sondes raak nie (Heb 10:17-18).

Begin dan om ʼn verhouding met God te bou, aanvaar Sy liefde en seën hier op aarde. Moenie dat jou tekortkominge jou terughou nie, God het jou lief net soos jy is, bou aan jou vertroue in God.

Ons as gelowiges het niks om meer te vrees nie, wanneer ons hier op aarde sterf gaan ons na God toe.




Hoe lewe ‘n Christen?

1 Tim 1:5 (NLV) “Die doel van my opdrag is dat al die Christene daar vervul sal wees met liefde wat uit ’n rein hart, ’n skoon gewete en opregte geloof kom.



ʼn Christen moet gevul wees met liefde wat uitstraal deur sy lewe van omgee en opoffering aan ander.

Om gevul te wees met liefde moet hy die wil hê om te strewe na:

  • ʼn Rein hart – die gesingheid van ons hart, doen ons omdat ons dit vir God doen sonder ʼn verskuilde agenda om iets daaruit te kry.
  • ʼn Skoon gewete – die Heilige Gees waarsku jou wanneer jy in die verkeerde rigting neig, luister jy en het niks om oor skaam te wees nie?
  • ʼn Opregte geloof – dit is om in totale afhanklikheid van God te lewe en te doen wat Hy verlang sonder huiwering.

Wat elke weer gebore persoon homself moet afvra is, hoe ver het ek al gevorder om by volmaakte liefde uit te kom?




Lewe jy in vrees?

Uit verskillende plasings deur Christene op die sosiale-netwerk vra ek  die volgende – Lewe jy nog steeds in vrees vir die Covid-virus?



Die virus kom van die duiwel en hy wil almal – veral Christene – bang en doodmaak daarmee. Joh 10:10 en Hand 10:38

Is jy ʼn wedergebore kind van God – glo jy dat Jesus vir ons elkeen se sonde gesterf het?

As jy is, glo dan wat Paulus skryf in 2Ti 1:7: “Want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing”

Wanneer jy met jou mond bely (spreek) dat jy die virus gaan kry en doodgaan daarvan, is jy soos Job – Job 3:25:  “Wat ek gevrees het, het oor my gekom; waarvoor ek bang was, het my getref.” – dit het met hom gebeur wat hy gevrees en gespreek het.

Hou op om te vrees, hou op om alles wat die wêreld sê, joune te maak! Dit is wat die duiwel wil hê om beheer oor jou te kry. Onthou jy is deur Jesus vrygemaak van die duiwel en sy invloed. 1 Joh 4:4 en Heb 2:14-15.

Jesus het ons mag gegee om aanvalle deur die duiwel teen te staan. Mar 16:15-18.

So wat sê ek hiermee?

  • Elke oggend wanneer jy opstaan, verklaar dit wat Jesus vir jou gedoen het. Jy is gesond en geen virus sal met jou in aanraking kom en bly lewe nie.
  • Dank Jesus wat Hy vir jou gedoen het. Jes 53:3-5
  • Let daarop dat alles wat jy sê positief is.
  • Gaan aan met jou lewe binne die voorskrifte van die owerheid.
  • Jy kan nie glo in gesondheid, maar jy volg nie basiese riglyne wat nodig is om gesond te bly nie.



Neem Beheer Oor Jou Gedagtes

Te midde van Covid en ‘lockdown’ en talle waarskuwings, boodskappe en nuusberigte moet ons waak oor wat ons toe laat in ons gedagtes, sodat ons nie gefrustreed, moedeloos en/of depresief raak nie.



Daar is ‘n oormaat van inligting en meeste van die inligting is nie die volle waarheid nie, dis aangedik, of totaal fiktief en veroorsaak benoudheid, onsekerheid, bekommernis, vrees en paniek. Ons hoef nie elke boodskap en nuusberig te lees nie.

Ons moet leer om te onderskei wat is nodig en wat moet ons weggooi. Nou is die vraag hoe doen mens dit, hoe weet jy?

God se Woord sê:

2Kor 10:4-5 Die wapens van ons stryd is nie die wapens van die mens nie, maar die kragtige wapens van God wat vestings kan vernietig. Daarmee vernietig ons die redenasies 5 en elke hooghartige aanval wat teen die kennis van God gerig word. Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak. (ANV)

Ons gedagtes is die oorlogsfront, dit is waar die vyand wil oorweldig en verwarring saai.

Hoe hanteer ons dit, hoe staan ons dit teë?

Jy het ‘n keuse wat jy in jou gedagtes toelaat!

As dit jou onrustig, bekommered, onseker of verward laat voel, neem ‘n besluit om daai gedagte te vervang met die waarheid – God se Waarheid – God se Woord.

Stop verkeerde gedagtes, neem gedagtes gevange – wees die polisiebeampte in jou gedagtes en sê hardop ‘Nee dis verkeerd’ en vervang dit onmiddelik met positiewe gedagtes wat op God se Woord gebaseer is.

Moet nie toelaat dat jou gedagtes oploop sit met vreesagtige gedagtes nie – moet nie die bobbejaan agter die berg loop haal nie. Meeste van die tyd kom daar niks van sulke gedagtes nie, en het ons onnodig bekommer oor iets wat glad nie tot werklikheid kom nie.

Hier is ‘n paar skrifgedeeltes om verkeerde gedagtes mee te vervang:

Rom 8:31b ‘…God is vír ons, wie kan dan teen ons wees?’ (ANV)

Psa 23:1 ‘ ‘n Psalm van Dawid. Die Here is my herder, ek kom niks kort nie.’ (ANV)

Psa 23:6 Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die HERE bly in lengte van dae. ‘ (AOV)

2Ti 1:7 ‘Want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid (lafhartigheid ANV) gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.(AOV)

2Ti 1:7 For God has not given us a spirit of fear, but of power and of love and of a sound mind. (NKJV)

Heb 13:5b … God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.”(ANV)

Psa 118:17 ‘Ek sal nie sterwe nie, ek sal lewe en van die dade van die Here getuig.’ (ANV)

Pilp 4:6-8 Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. 7 En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus. 8 Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig. (ANV)

Vra God en Heilige Gees om jou te lei om te leer wat reg is.

As jou verhouding nog nie so is dat jy altyd dadelik hoor wat God sê nie, ignoreer alle boodskappe en nuusberigte en lees net die Bybel.

Bekommernis (worries) maak niks beter nie.

Verklaar eerder die Woord oor jou en jou geliefdes en wees dankbaar in alle omstandighede.

Daar is altyd iets om voor dankbaar te wees, loof en prys God vir voorsiening en beskerming.

God is getrou en is liefde.

1Jn 4:18 ‘Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie.’ (ANV)

2Ti 1:7 ‘Want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid (lafhartigheid ANV) gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.(AOV)

Heb 12:1-2Terwyl ons dan so ‘n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, 2 die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God.’ (ANV)