(P011) Vryheid in Jesus – Lewe in oorvloed vrede en vreugde

Is daar vrede en vreugde in jou, lewe jy in vrede met ander om jou, is daar ‘n oorvloed van vrede en vreugde in jou lewe?

Bekommer jy oor wat in hierdie wêreld gebeur?



Is daar vrede en vreugde in jou, lewe jy in vrede met ander om jou, is daar ‘n oorvloed van vrede en vreugde in jou lewe?

Sonder vrede lewe ‘n mens in haat en konflik met almal om jou en daar is ook geen vreugde nie.

Kyk na die wêreld om jou en wat aan die gang is, elkeen stry om net die beste vir homself te hê. Dit sluit in van die individu tot nasies oor die wêreld.

Die duiwel doen alles in sy vermoë om enige vrede en vreugde wat daar mag wees, af te breek en die mens van God weg te hou.

Waar daar nie vrede is nie, is daar ook nie vreugde nie en die mens lewe in swaarmoedigheid.

Rom 14:17 AOV Want die koninkryk van God is nie spys en drank nie, maar geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees.

Hierdie gedeelte sê vir ons dat vrede en vreugde in die Heilige Gees deel is van God se koninkryk.

As daar nie vrede in jou lewe is nie, dan is daar ook nie vreugde nie en kort daar ‘n gedeelte van God se koninkryk in jou lewe.

God het die mens gemaak om in vrede en vreugde te lewe, maar met die sondeval het die mens vrede met God verloor.

Vrede:

God het egter besluit om die vrede tussen Hom en ons te herstel deur Jesus se offer, ons moet dit net aanvaar en weergebore word.

Kol 1:19-20 ANV God het besluit om met sy volle wese in Hom te woon en om deur Hom alles met Homself te versoen. Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen.

Daarom word Jesus se offer om ons te red van die sonde ook die “Evangelie van Vrede” genoem (Hand 10:36).

Wanneer ons verder kyk sien ons dat wanneer ons Jesus as ons verlosser aanneem ontvang ons die vrug van die Heilige Gees en vrede is deel daarvan (Gal 5:22).

Vrede is ‘n belangrike deel in ons lewe en sonder God en Jesus kan daar nie vrede in enige mens se lewe wees nie.

Vrede is vir almal beskikbaar wanneer:

  • Ons deur God se genade gered is, wanneer ons glo Jesus het vir ons sonde aan die kruis gesterf en Hy weer deur God uit die dood opgewek is. (Ef 2:8 en Rom 10:9-10)
  • Ons as kinders van God vrede soek of najaag –

1Pe 3:11 ANV Bly weg van die kwaad af en doen wat goed is, soek vrede en jaag dit na!

Ons ontvang ook die volgende belofte van God –

Rom 2:10  Ewige heerlikheid, eer en vrede skenk Hy aan elkeen wat goed doen, in die eerste plek aan die Jood, maar ook aan die nie-Jood.

Blydskap of vreugde:

Ons vreugde begin met Jesus en ons sien dit in die volgende gedeeltes:

  • Luk 10:17 vertel ons dat die 70 dissipels wat Jesus uitgestuur het, vol vreugde was nadat hulle die krag ontdek wat Jesus se Naam gehad het.
  • Luk 19:37 vertel dat die mense Jesus met vreugde geprys het na hulle gesien het die kragdadige dade wat Jesus gedoen het.
  • Joh 16:20 vertel ons Jesus se offer om vir ons sonde in te staan het vir ons vreugde gebring.
  • Joh 16:24 sê Jesus vir ons alles wat ons die Vader in Sy Naam vra sal ons ontvang en ons vreugde sal volkome word.
  • Gal 5:22 sê vreugde ook deel van die vrug wat ons van die Heilige Gees ontvang wanneer ons weergebore word.

Bekommernis:

Bekommernis oor dinge wat jy nie kan beheer nie vat ook jou vrede en vreugde weg.

Luk 12:22-26 ANV Verder het Jesus vir sy dissipels gesê: “Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Die lewe is tog belangriker as kos en die liggaam as klere. Kyk na die kraaie: hulle saai nie en oes nie; hulle het geen spens of skuur nie, maar God sorg vir hulle. Julle is tog baie meer werd as voëls. Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een uur verleng? As julle nie eens so ‘n klein dingetjie kan regkry nie, waarom bekommer julle julle oor die ander dinge?

Bekommernis is ‘n gebrek aan vertroue in God om na jou om te sien en tot jy onvoorwaardelik jou vertroue in God plaas gaan jy met bekommernis sukkel wat die vrede en vreugde waarin jy kan lewe gaan weghou.

Opsomming:

Vrede en vreugde is deel van God se koninkryk.

Vrede en vreugde loop saam. Daar kan geen vreugde wees sonder vrede nie.

Wanneer kry ons vrede en vreugde:

  • Wanneer ons weergebore word deur te glo dat Jesus vir ons sonde hier op aarde gesterf het en weer deur God uit die dood opgewek is, ontvang ons die vrug van die Heilige Gees wat vrede en vreugde insluit.
  • Ons vrede najaag maw spits jou daarop toe om in vrede met ander te lewe.

Spr 17:1 ANV Liewer ‘n stukkie droë brood met vrede daarby as ‘n huis vol kos met ‘n getwis daarby.

  • Ons kan deel in die vreugde om Jesus se Naam te gebruik wanneer ons ander mense dien. Ons moet dit net glo en leer om Jesus se Naam te gebruik in outoriteit.
  • Vertrou op God alleen oor alles en jy sal vrede en vreugde kry. Lewe in vrede met almal om jou en jy sal oorvloed vrede en vreugde ondervind.

Gebed:

Dankie Vader vir U liefde,

Dankie dat ons weet dat U daar is vir ons,

Dankie dat ons ons probleme aan U kan oorlaat,

Dankie vir vrede en vreugde wat U voorsien,

Amen




(P010) Vryheid in Jesus – ‘n Lewe in oorvloed van liefde

Jesus voorsien ons ‘n lewe in oorvloed wat liefde insluit.

Ervaar jy ‘n oorvloed van liefde in jou lewe?



Jesus belowe ons lewe en in oorvloed.

Joh 10:10 AOV Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.

Die ‘hulle’ waarna Jesus verwys, is ons wat weergebore is en al hier op die aarde die ewige lewe ontvang om in te lewe.

1 Joh 5:13 NLV Ek skryf hierdie dinge aan julle sodat julle met die wete kan leef dat julle nou reeds deel het aan die ewige lewe, julle wat aanhou glo in die persoon van die Seun van God.

Ons wat weergebore is, het alreeds die ewige lewe, nou hier op die aarde, want ons het uit die dood in die sonde waarin ons was, oorgegaan na die lewe in Jesus.

Waarop dit neerkom is dat ons ‘n lewe van oorvloed nou al hier op aarde kan geniet, indien ons weet hoe om binne God se waardestelsel (geestelike reëls) te lewe en wat se mag ons teen die duiwel en sy invloed het.

Lewe van oorvloed sluit in ‘n lewe met liefde.

Om ‘n lewe van oorvloed te kan hê moet daar liefde in wees.

Om ‘n goeie lewe te kan lewe hier op die aarde te kan hê, moet daar liefde in die mens se lewe wees.

Die sielkundiges stem daarmee saam en het deur navorsing gevind indien ‘n persoon nie liefde ontvang nie daar sielkundige nagevolge is.

Die mens moet liefde ontvang, maar moet ook liefde gee, dit is tweerigting aksie.

Die perfekte liefde

Kom ons begin by die perfekte liefde.

Perfekte liefde, is God se liefde vir ons as mens en sluit alle mense in, gered of nie.

God het ons eerste liefgehad –

1Jo 4:19 AOV Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het.

Saam met God se liefde vir ons, wil God hê ons as gelowiges mekaar moet lief hê.

1 Joh 4:7-11 NLV:

7 Geliefdes, laat ons mekaar aanhou liefhê, want volmaakte liefde is van God afkomstig. Elkeen wat só liefhet, is uit God gebore en ken God persoonlik.

Volmaakte liefde kom van God en wanneer ons strewe om so lief te hê, beteken dit ons is weergebore en ken God

8 Elkeen wat nie só liefhet nie, ken God nie persoonlik nie omdat God liefde self is.

God is liefde

9 Op hierdie manier het God sy volmaakte liefde aan ons bekendgemaak toe Hy sy enigste Seun na die wêreld toe gestuur het sodat ons deur Hom die lewe kan ontvang. 10 Dít is volmaakte liefde: nie dat ons vir God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun as versoeningsoffer gestuur het om ons sondes weg te neem.

God se volmaakte liefde is Sy opoffering, Hy het Sy Seun Jesus aarde toegestuur om vir ons sonde te sterf.

11 Geliefdes, as God ons dan só tot die uiterste toe liefgehad het, moet ons ook mekaar tot die uiterste toe liefhê.”
Ons moet ook deur opoffering ons liefde aan mede-gelowiges uitleef.

Hierdie gedeelte sê vir ons:

  • God is liefde
  • God het homself deur Jesus vir ons gegee,
  • God se liefde het ons lewe gegee – ons sonde is weggeneem,
  • God se liefde het ons verander – die Heilige Gees is nou in ons, saam met ons weergebore gees, wanneer ons Jesus as ons verlosser aanneem.

Ons het reeds God se liefde en moet dit net aanvaar (glo), want niks wat ons doen kan veroorsaak dat God ons meer of minder gaan lief hê nie.

God het ons reeds liefgehad toe ons nog sondaars was en ver van Hom was. (Rom 5:8)

Ons weet dus verseker dat ons reeds liefde in oorvloed vanaf God ontvang.

God vertel ons verder in 1 Kor 13:4-7 wat liefde prakties in ons lewe is:

NLV 4 Die liefde is geduldig en vriendelik, die liefde is nie jaloers nie, die liefde blaas nie sy eie beuel nie, is nie vol van homself nie. 5 Dit tree nie onwaardig op nie, stel nie sy eie belange voorop nie, is nie kort van draad nie, hou nie boek van die kwaad wat hom aangedoen word nie. 6 Dit treur oor die onreg wat plaasvind, en juig as die waarheid seëvier. 7 Die liefde bly stil oor ander se foute, dit bly steeds vertrou, dit hou aan met hoop, dit verduur alles.

Ons sal liefde in oorvloed ervaar wanneer ons begin om liefde uit te lewe na ander.  

Saai liefde en jy sal liefde oes.

Afsluiting:

Om liefde in oorvloed te kan ervaar:

  • God het ons lief en ons moet dit aanvaar en glo, ons kan niks doen wat sal veroorsaak dat God ons meer of minder lief gaan hê nie.
  • God het ons met perfekte liefde lief, dit is liefde in oorvloed.
  • God wil hê dat ons Hom ook met dieselfde liefde moet liefhê –

1 Joh 5:3 NLV “Die liefde vir God bestaan daaruit dat ons sy opdragte gehoorsaam, en sy opdragte is nie moeilik nie,”

  • Liefde vir God bestaan daaruit dat ons Sy opdragte gehoorsaam deur ons medegelowiges te dien met dieselfde liefde waarmee Hy ons lief het –

Heb 6:10 NLV God is nie onregverdig nie. Hy sal nie vergeet hoe hard julle vir Hom gewerk het nie: hoe julle julle liefde vir Hom betuig het deurdat julle julle medegelowiges gedien het en dit nog steeds doen nie.”

  • Om God se liefde uit te leef na ander, sal oorvloedige liefde na ons terug bring.

Dit is ‘n geestelike wet van God, wat jy saai gaan jy oes – saai liefde en jy sal liefde oes.

Gebed:

  • Dankie Vader vir U ongelooflike liefde,
  • Dankie vir U liefde in oorvloed,
  • Heilige Gees lei en ondersteun ons om God se liefde uit te leef na almal om ons,
  • Ons vra dit in die Naam van Jesus Christus,
  • Amen



(P004) Die God wat ons aanbid

Waar staan jy vandag aan die begin van hierdie jaar, vrees jy wat om jou en in die wêreld aangaan, het jy alle hoop verloor, sien jy geen toekoms vir jou nie?

Wie vertrou jy, die enigste God wat daar is of die wêreld met sy leiers?



Ons begin ‘n nuwe jaar en waar staan ons as Christene?

  • Ons sien ‘n wêreld wat volgens ons Christelike waardes besig is om in mekaar te val.
  • Die Jode en Christene word voluit deur die duiwel aangeval.
  • Ons sien nou daagliks die pyn en lyding wat mense ly in die oorloë wat tans hoofberigte op die nuusmedia is.
  • Wat ons nie sien of hoor nie, is die Christene wat daagliks in Midde-Afrika en ander Oosterse-lande vermoor word, maar nie belangrik genoeg is om die nuusmedia vol te wees nie.
  • Regerings en leiers sê wat hulle wil, sonder enige waardestelsel waar verkeerd reg is en reg verkeerd is.
  • Mense se lewens beteken niks meer nie, wat nie beperk word tot die oorloë wat aan die gang is nie, maar in misdade regoor die wêreld wat al erger word, baie sigbaar hier in ons eie land.
  • Ons as Christene staan verslae voor al hierdie gebeure en wonder wanneer gaan ons dalk aan die beurt kom met aanvalle op ons.

Ons vra wanneer kom Christus terug soos belowe word. Geestelike leiers is dit almal eens, dat dit volgens die profesieë in die Woord naby is, maar niemand weet presies wanneer nie.

Maar waar staan ons Christene nou hier op aarde?

Ons God is ons enigste basis waarop ons kan staan. Geen ander leier of regering of nasie is betroubaar nie.

Jes 26:4 ANVVertrou altyd op die Here, want die Here God is ‘n veilige toevlug.”

Ons God het elkeen wat op die aarde was en nou steeds is en nog gaan kom, self gemaak.

Dit sluit in Jood, Arabier, Westerling, Oosterling, ens.

Psa 139:13 ANVU het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder.”

Ons God het elkeen wat lewe of gelewe het of nog gaan lewe lief.

Joh 3:16 ANV “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.”

Dit sluit almal in, die Hitlers en Stalins, selfs ook die terroriste wat nou hierdie verskriklike dade gedoen het, maar dit beteken nie dat God dit wat hierdie mense gedoen het, goedkeur nie.

Ons God het sy Seun aarde toegestuur om vir elke mens se sonde, ongeag wat die sondes is, te sterf.

1Jo 4:10 ANVWerklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.”

Ons God vergewe alle sondes, al is dit die afskuwelikste dinge wat ons gedoen het, wanneer ons glo en bely:

Rom 10:9-13 ANVAs jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. [10] Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered. [11] Die Skrif sê tog: “Niemand wat in Hom glo, sal teleurgestel word nie.” [12] “Niemand nie!” Dit maak dus geen verskil of ‘n mens ‘n Jood of ‘n Griek is nie, want dieselfde Here is Here van almal, en Hy seën almal wat Hom aanroep, ryklik, [13] want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.”

Niemand se sonde is te groot, om nie deur God vergewe te word nie.

Ook nie jou sonde of die terroris wat mense vernietig het nie.

Ons God verlos ons deur Jesus Christus van die sonde en hierdie wêreld.

Gal 1:3-4  ANVGenade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus, wat Homself vir ons sondes gegee het om ons te verlos uit hierdie goddelose wêreld en so die wil van God ons Vader te volbring.”

Waarom is daar sonde en sulke verskriklike sondige optrede?

God het alles aan die begin geskep en dit was baie goed. (Gen 1:31)

God het die mens geskep om ‘n verhouding met Hom te hê. (1Joh 3:24)

God het die mens gemaak wat uit ‘n gees, ‘n siel en liggaam bestaan. (1 Thes 5:23)

Die gees is waarmee ons met God koppel. Jesus in Joh 4:24 God is Gees.

Die siel is ons verstand en emosies.

Die liggaam is dit wat jy sien en voel.

God het die mens beheer oor die aarde gegee. (Gen 1:26)

Die mens Adam is egter deur die duiwel verlei om te sondig, wat veroorsaak het dat die mens se gees met God verbreek is en die duiwel het toegang tot die mens se gees gekry en beheer oor die aarde.

Omdat God gees is, moet Hy die mens wat ‘n liggaam het gebruik om op die aarde Sy wil uit te voer.

Die duiwel is ook ‘n gees en het ook die mens se liggaam nodig, om sy wil op aarde uit te voer en het met die sondeval van Adam toegang tot die mens se gees gekry en beheer oor die aarde gekry. (2 Kor 4:3-4 )

Daarom sien ons die wrede goed wat mense doen en dit is omdat hulle totaal deur die duiwel en sy demone beheer word.

God kan nie die beheer van die aarde terug vat nie, behalwe om die aarde te vernietig en die duiwel in die hel te werp. Indien God mense gaan begin beheer om te keer dat hulle slegte dinge te doen en hulle keer om hulle eie keuse te maak, beteken dit dat die mense marionette gaan wees. Dit kan nie slegs beperk word tot sekere mense nie, dit sal op alle mense van toepassing moet wees.

Dit beteken dat God alle mense sal moet beheer en dit is nie hoe God die mens gemaak het nie. Die mens is gemaak om self te besluit oor sy optrede wat goed was tot die duiwel toegang tot die mens gekry het.

Tot God die aarde vernietig so geprofeteer in Openbaring, het Hy intussen Jesus aarde toe gestuur om vir die mens se sonde te betaal om die verhouding tussen God en die mens te herstel en ook die duiwel te oorwin vir die wat in Jesus glo.

Vir die weergebore Christen kan die duiwel nie meer beïnvloed om sy goddelose werke uit te voer nie, behalwe om die Christen bang te maak en in vrees te laat lewe, wanneer die Christen se siel nog nie behoorlik vernuwe is deur die Woord van God nie.

Jak 4:7 ANVOnderwerp julle dan aan God. Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug.”

God se beskerming:

God belowe deur Jesus se woorde dat Hy ons, sy kinders, sal beskerm.

Luk 21:17-18En julle sal ter wille van my Naam deur almal gehaat word, maar  daar sal selfs nie eens ‘n haar van julle kop af val nie.”

Getuienis wat ek oor tyd gehoor het:

  • Die sendeling egpaar in ‘n Midde-Oosterse land.
  • Broer Andrew – God se smokkelaar.
  • Rabbi in die tonnel – “Stories to Inspire”

Jesus sê ook vir ons, dat ons vervolg sal word ter wille van Sy Naam (Luk 21:12-15), maar die Heilige Gees sal ons dan ondersteun.

Ons sien dit wanneer ons na getuienisse luister van gelowiges in lande waar Christene vervolg word.

  • Getuienis van jongmeisie in Iran.

Kom ons kom terug na onsself en dink aan niksseggend tot ernstige gebeure waar God jou beskerm het. Dinge wat met jou gebeur het, wat jy aan toeval toegeskryf het, daar is nie so iets soos toeval nie, dit is God wat jou beskerm het.

Wat moet jou ingesteldheid en optrede wees as ‘n kind van God.

  1. Hou vas aan God en verklaar teenoor jou self:
    1. My God het my lief ongeag wie ek is en wat ek gedoen het Joh 3:16 en 1 Joh 4:9
    1. My God is betroubaar – Jes 26:04 & Spr 3:5
    1. My God is goed – Ps 86:5
    1. My God is die grootste – elke knie sal voor Hom buig – Fil 2:10-11 & Rom 14:11
    1. My God is waarheid – Rom 3:4
    1. My God is onbeperk – Ef 3:20
    1. My God voorsien – Fil 4:6 & 2 Kor 9:6-8 & Luk 6:38

    1. My God beskerm my – Heb 13:6

  2. Bou jou verhouding met en vertroue in God deur Sy woord te lees, eerder as om na elke nuusuitsending te kyk of te luister.
  3. Hoe meer jou gedagtes op God is, hoe meer sal jy vrede kry met wat om jou gebeur en jy sal ophou om jou te bekommer wat die wêreld doen.
  4. Soos jou geloof in God groei so sal negatiwiteit verminder – geloof is die teenmiddel van negatiwiteit.
  5. Dank God elke dag vir sy beskerming – wanneer jy iewers heen ry sê “Dankie Vader ek weet dat U hand van beskerming oor my is, en dat ek sonder ongeluk, teenspoed of ander probleme sal ry” en waar jy bly “Dankie Vader ek weet U hand van beskerming is oor ons hier by die huis vandag en vannag“.
  6. God laat Sy krag deur ons vloei, daarom moet ons onsself sterker sien as die wêreld.
  7. Staan vas in God – die ongelowiges en die duiwel is bang vir ons, daarom probeer hulle vrees in ons aanwakker.

Jak 4:7  “Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.”

  • Vertrou onvoorwaardelik op God

Psa 37:3-4  “Vertrou op die HERE, en doen wat goed is; bewoon die aarde en beoefen getrouheid, 4  en verlustig jou in die HERE; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart.”

Ons kan slegs ons pligte wat God ons gegee het, hier op die aarde voltooi, deur slegs op God te vertrou vir beskerming en leiding deur die Heilige Gees.

Kom ons Bid:

  • Dankie Vader dat ons weet U is die enigste werklike God in die wêreld en heelal.
  • Dankie Vader vir U ongelooflik liefde vir ons,
  • Dankie vir U Seun Jesus wat vir ons sonde kom sterf het op die aarde,
  • Dankie dat ons U kan groot maak in hierdie wêreld.
  • Dankie dat ons op U kan staatmaak as beskermer in hierdie wêreld waar ons tans in woon.
  • Ons vra dat U Gees al U kinders wat tans regoor die wêreld vervolg word, sal ondersteun en beskerm.
  • Ons vra dat U Gees almal wat in die verskillende oorloë, wat tans aan die gang is, met vertroosting en moed sal voorsien en die wat U genade nog nie ontdek het nie, se oë sal oopgaan en Jesus as verlosser sal aanvaar.
  • Ons vra dit in die Naam van ons verlosser Jesus Chritus

Amen




(P009) Lewe in oorvloed – Herwin ‘n lewe in goeie gesondheid

Hoe herwin jy jou gesondheid bonatuurlik sodat jy weer ‘n Lewe van Oorvloed kan geniet in goeie Gesondheid?



In die vorige lesing “(P008) ‘n Lewe in goeie gesondheid” is daar gekyk na waar kom siekte vandaan en die volgende is nou hoe om van die siekte ontslae te raak:

  • Soek die oorsaak van die siekte, elke siekte het ‘n oorsaak, bv. lewensstyl van rook, longkanker of kort aan asem,  ens.
  • Maak veranderinge om oorsaak van siekte te verwyder, bv. verander lewensstyl (eet minder), hou op rook, begin oefen, vergewe die wat jou te na gekom het, ens.
  • Wanneer daar sonde betrokke is, hou op daarmee, bely dit teenoor God en vra vergiffenis (1Joh 1:8-9).
  • Jesus het klaar vir ons sonde aan die kruis gesterf en hierdie sonde sluit siekte in (Jes53:3-5; 1 Pet 2:24). Dit is in die verlede tyd, so ons moet dit net glo en bevestig met ons mond, dat Jesus al ons siekte weggeneem het.  Spreek die siekte aan om ons liggaam te verlaat. Jesus het ons die mag daarvoor gegee (Mar 16:17-18)

In hierdie gedeelte, soos opgestel deur Alta, gaan ons in diepte kyk na die laaste punt oor die mag wat Jesus vir ons, as weergebore kinders, gegee het om siekte bonatuurlik aan te vat.

Jou outoriteit

Heb 10:9-10 NLV “Daarna sê Hy: “Kyk, Ek het gekom om u wil uit te voer.” Hy skaf dus die eerste reëling af om dit met ’n tweede een te vervang. Omdat God dit so wou hê, is ons geheilig deur Jesus se liggaam wat eens en vir altyd vir ons geoffer is.”
Die eerste reëling was die offers van Israel soos voorgeskryf deur God en dit is vervang met die tweede reëling wat die offer van Jesus wat slegs eenmaal aan die kruis gebring is.

God wil hê dat ons Jesus as ons verlosser moet aanvaar omdat Hy alles wat ons nodig het aan die kruis volbring het.

God het die mens gemaak met ‘n vrye wil om self besluite te neem en een daarvan is om Jesus as verlosser aan te neem (Joh 3:16-19) en so God se geskenk van genade deur geloof vir verlossing van sonde te ontvang (Ef 2:8).

Ons bestaan uit ‘n gees, siel en liggaam (1 Tes 5:23 ) en wanneer ons weergebore word, word ons ou gees vervang met ‘n nuwe gees wat deur die Heilige Gees verseël word (Ef 1:13).

1Jo 3:9 AOV Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie, omdat sy saad in hom bly; en hy kan nie sondig nie, want hy is uit God gebore.

Hierdie gedeelte sê na weergeboorte kan ons nie meer sonde doen nie, want ons is uit God gebore en die Heilige Gees is in ons by ons gees.

1 Joh 1:8 sê vir ons egter dat ons steeds sondig, nou hoe nou?

Ons gees is sondeloos, maar ons siel (verstand, wil en emosies) is nog onveranderd en moet hernu word deur die Woord van God. Dit is met die siel wat ons besluite neem en waar sonde gebore word en deur die liggaam kom sonde tot uitvoer.  

Al gaan ons steeds sonde doen, staan ons gees (weens dit wat Jesus gedoen het), sondeloos voor God, maar die siel en liggaam dra die nagevolge van die verkeerde (sonde) wat dit doen.

Hierdie nagevolge sluit ook siekte in wat geaktiveer kan word.

So dit kan duidelik gesien word dat dit nie God is wat ons siekte gee, maar ons bring dit self oor ons met ons optrede en besluite. Daarby saam lewe ons in ‘n gevalle wêreld en word ons aangeval deur die duiwel wanneer ons hom ‘n opening gee.

Wanneer die oorsaak van die siekte verwyder is of indien dit buite ons beheer is, kan ons deur ons gees die mag wat Jesus ons gegee het gebruik om hierdie siekte bonatuurlik aan te spreek.

Jesus het deur sy dood en opstanding aan ons die mag oorgedra wat Hy op die aarde gedoen het en ons het selfs meer mag ontvang as wat Hy gehad het.  

Joh 14:12-13 AOVVoorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glodie werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan. En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word.’

In hierdie gedeelte maak Jesus dit vir ons duidelik watter mag ons van Hom ontvang, wanneer ons Hom as verlosser aanvaar. Dit word ook in Mar 16:17-18 vir ons duidelik gemaak.

Jou woorde

God het die hele wêreld deur Sy woorde geskep, lees dit in Genesis. Jou woorde is net so kragtig en veral as jy Skrif aanhaal, dit wat in die Bybel staan. (Spr 18:20-21)

Hoe om die genesing uit die geestelike realm na die fisiese te bring?

  • Maak seker jou geloof in Jesus is standvastig, waar en ernstig.
  • Wees honderd present oortuig van alles wat Jesus se opofferings en bloed betaal het, dat die beloftes ook jou erfenis is en bid met oortuiging.
  • Verstaan God se liefde en dat Hy net die beste vir jou begeer.
  • Maak jou hart skoon van alle seer, bitterheid en onvergewensgesindheid. Vergewe ook jouself en God.
  • Sien jouself gesond in jou verbeelding, glo dit.
  • Jy is in ’n geestelike oorlog, glo en vertrou aggressief, hou jou gedagtes en woorde positief en gebruik jou outoriteit.
  • Moet nie toelaat dat die natuurlike omstandighede jou onderkry nie. Staan op Jesus se beloftes en die Woord, wees geduldig en bly glo.
  • Vermy negatiewe mense, omring jou met mense wat glo, God se Woord spreek en bemoedig.
  • Hoor en doen wat God sê.
  • Moet nie ingee of onrustig raak as daar ’n deurbraak is nie, dis dan wanneer daar teen geestelike aanvalle gewaak moet word.
  • God is getrou en genesing is beskikbaar, staan sterk, bekom kennis, bely sondes, rus voldoende, bly geduldig en staan aanvalle van die bose teë. 

(Hierdie gedeelte is ‘n opsomming uit Greg Mohr se boek The Healing Door)

Wat het Jesus vir ons gegee en wat is ons magte?

Glo as jy bid! Mark 11:23-24. Of dit vir jouself of iemand anders is, glo en vertrou!

Mar 11:24 ANV  Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees.

Vestig jou vertroue op Jesus en Sy voltooide werk op die kruis.

Dis nie in jou eie krag of mag wat jy bid nie. Dit is nie jou verantwoordelikheid nie. Jy voer ’n opdrag uit om vir die wat siek is te bid. Wanneer genesing nie onmiddellik is nie, bid weer. Genesing kan ook oor ‘n tydperk manifesteer.

Wanneer genesing nie ondervind word nie, hoor by God wat verhinder dit.

As dit moontlik is, bou die persoon vir wie gebid word se geloof. Gee getuienisse van genesing, vertel van God se liefde. Vertel of lees van genesing in die Bybel.

Bid uit ‘n plek van oorwinning (1 Joh 5:4), Jesus het reeds genesing voorsien, geen rede om God te smeek nie. Spreek dus in outoriteit, klink of jy dit bedoel, wees ernstig daaroor.

Mar 16:17-18 ANV ‘Die volgende wondertekens sal voorkom by dié wat glo: in my Naam sal hulle bose geeste uitdrywe; in ander tale sal hulle praat; 18 met hulle hande sal hulle slange optel, en as hulle iets drink wat dodelik giftig is, sal dit hulle geen kwaad doen nie; hulle sal siekes die hande oplê, en dié sal gesond word.”

 Jak 5:14-16 AOV Is daar iemand siek onder julle? Laat hom die ouderlinge van die gemeente inroep, en laat hulle oor hom bid nadat hulle hom in die Naam van die Here met olie gesalf het. En die gebed van die geloof sal die kranke red, en die Here sal hom oprig. Selfs as hy sonde gedoen het, sal dit hom vergewe word. Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag.

Hierdie twee gedeeltes maak dit weereens duidelik dat jy bonatuurlike genesing deur gebed kan ervaar en sondes vergewe sal word, maar as jy twyfel of onseker is sal jou gebed geen effek hê nie.

Hoe om hierdie mag aan te wend?

Nou dat ons weet dat ons bonatuurlike mag deur Jesus ontvang het om te kan doen wat Hy hier op die aarde gedoen het, kom die vraag hoe wend ons hierdie mag prakties aan?

Daar kan hande op die persoon gelê word, maar dit is nie ’n vereiste wanneer ons vir iemand bid nie.

Dank God vir Sy liefde vir die persoon en Sy werke aan die kruis.

Spreek die probleem aan. Beveel die probleem om die liggaam te verlaat en dat wat verkeerd is herstel word en in lyn kom met God se Woord en doen dit in Jesus se Naam. (Redes en Skrif kan ook gebruik word)

Dit help indien die persoon vir wie jy bid ’n verwagting het dat die genesing ontvang sal word. Daarom bou ons geloof en vra ’n aksie of uitprobeer waar moontlik om dit genesing te bevestig.

Voorbeeld van ‘n gebed vir genesing:

  • Dankie Vader vir U liefde, dat U [persoon se naam as dit slegs een persoon is] so lief het.
  • Dankie vir Jesus wat vir ons sonde en siekte aan die kruis gesterf het,
  • Ons weet dat U [persoon se naam] ‘n gesonde lewe wil laat geniet,
  • Ons spreek nou die gewrig wat pynlik is aan om algeheel te herstel, spiere, ligamente kom inlyn, pyn, swelsel en kneusings herstel nou, in Jesus se Naam.
  • Amen

Toets vir verandering – voeg ‘n aksie by die geloof. Is die gewrig nog seer en dien wel bid weer.

In die begin is dit intimiderend. Neem alles in ag wat jy weet, vra God en die Heilige Gees om jou te lei en te beskerm. Oefen dit op jouself, hoofpyn is een van die maklikste om by te begin. Oefen in ’n veilige omgewing waar mense verstaan waaroor dit gaan.

Bid vir beskerming teen aanslae van die bose vir jouself en vir jou gesin. Wanneer ons God se werk doen sal aanslae kom en ons weet nie altyd waarmee ons te doen gaan kry nie.

Etiket: dames bedien dames en  mans bedien mans, anders moet daar verkieslik twee persone wees wat bedien. Die is om jou te beskerm teen aantygings en moeilikheid met die gereg te vermy.

Wees versigtig waar jy hand oplê. Laat die persoon hul eie hand op die gedeelte plaas, of raak net aan die hand of skouer.

Die ander moontlike weg wat ook gevolg kan word.

God het ons verskillend van mekaar gemaak en ons geloof kan ons beperk om bonatuurlik genees te word, maar God sal ons altyd op ons elkeen se geloofsvlak ontmoet.

Daarom as jy glo dat jou rugprobleem kan slegs deur ‘n operasie herstel word en jy glo dit werklik dan sal dit so wees.

Geen genesing kan ontvang word indien jy glo dat jy ongeneeslik siek is nie.

Dan is dit verder ook belangrik om nie die siekte jou eie te maak nie, vb. my kanker, dit is nie jou kanker nie! Dit is die duiwel wat siektes gegee en al het jy gehelp, deur byvoorbeeld ‘n wrok te dra wat die kanker geaktiveer het.

Afsluiting:

  • Jesus het ook vir al ons siektes op die kruis gesterf,
  • Gebruik jou outoriteit wat Jesus vir jou gegee het,
  • Praat positief vir herstel van jou siekte,
  • Gebruik jou mag wat Jesus vir jou gegee het om siekte bonatuurlik te genees,
  • Anders volg die pad van die mediese wetenskap vir herstel as jy dit so glo.
  • Glo vir genesing ongeag die pad wat jy volg om dit te verkry,
  • Wees verseker dat jy kan genees word van enige siekte. Neem ook aksie en bly siekte teenstaan selfs na genesing.
  • Wanneer jy genesing ontvang, moenie ophou om jou medisyne te drink nie, laat jou dokter eers jou genesing bevestig en medikasie staak. Dink net hoe gaan Jesus se Naam verheerlik word indien daar genesing was wat nie wetenskaplik verklaar kan word nie.
  • Wees bewus daarvan dat indien jy genees word en die oorsaak van die siekte is nie verwyder nie, gaan dit terugkom.
  • Die belangrikste – God wil hê dat jy in goeie gesondheid moet lewe reeds hier op aarde.

Gebed:

  • Dankie Vader vir U liefde,
  • Dankie dat U dit vir ons moontlik gemaak het om ‘n gesonde lewe te kan lewe,
  • Maak asb. ons oë oop vir ons bydrae tot ons gesondheidsprobleme en help ons om dit reg te maak,
  • Help asb. ons ongeloof sodat ons volle gesondheid terug te kan ontvang,
  • Ons vra dit in die Naam van Jesus Christus.
  • Amen



(P008) Lewe van oorvloed in goeie gesondheid

Om ‘n lewe van oorvloed te kan geniet moet jy ook gesond wees.

Is jy gesond of word jy aangeval met siekte?

Hoeveel dra jy by tot die siekte wat jy ondervind?



Jesus belowe ons lewe en in oorvloed.

Joh 10:10 AOV Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.

Die ‘hulle’ waarna Jesus verwys, is ons wat weergebore is en al hier op die aarde die ewige lewe ontvang om in te lewe.

Joh 5:24 AOV Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.

Ons wat weergebore is, het alreeds die ewige lewe nou hier op die aarde, want ons het uit die dood in die sonde waarin ons was, oorgegaan na die lewe in Jesus. (Joh 17:3)

Waarop dit neerkom is dat ons ‘n lewe van oorvloed nou al hier op aarde kan geniet, indien ons weet hoe om binne God se waardestelsel (geestelike reêls) te lewe en wat se mag ons teen die duiwel en sy invloed het.

Lewe van oorvloed sluit in ‘n lewe met goeie gesondheid in.

Die eerste faset om in oorvloed te lewe, is met goeie gesondheid, liggaamlik en geestelik.

Belangrik, dit is nie God wat ons ‘n siekte gee om ons te straf, omdat ons verkeerde dinge (sonde) doen nie of te toets om te kyk of ons betroubaar of goed is nie of om ons iets te leer nie.

Daar is egter verskillende omstandighede wat ons gesondheid kan beïnvloed en dit is soos volg:

God se waardestelsel vir die mens:

God het die menslike liggaam ontwerp om op ‘n sekere manier goed te funksioneer en die mens kan dit nie verander nie.

Hierdie ontwerp vir die liggaam, is dieselfde vir almal en is goed, want God maak nie foute nie en doen nie halwe werk nie.

Gén 1:31 AOV Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en—dit was baie goed.

Almal kan liggaamlik en geestelik gesond wees tot ‘n hoë ouderdom wanneer die liggaam hier op die aarde sterf en die siel en gees oorgaan na die geestelike wêreld waar God en Jesus is, indien jy weergebore is, of andersins die hel van ewige verlorenheid.

Die mens kan egter die liggaam en siel beïnvloed om nie goed te funksioneer soos God dit gemaak het nie, wanneer die balans wat nodig is nie nagevolg word nie.

Wanneer dit gebeur en die liggaam of siel begin wanfunksioneer, sê ons die liggaam is siek of daar is ‘n geestelike afwyking.

Hoe kan die mens sy liggaam of siel beïnvloed?

Ons eetgewoontes en die kos wat ons eet of dit wat ons drink:

  • Die liggaam ontvang sekere stowwe wat benodig word uit die kos wat ons eet en om van ‘n redelike dieet af te wyk kan die liggaam benadeel. Dit is nie nodig om elke dieet wat aan jou voorgehou word, slaafs  te probeer na volg nie, dit is gewoonlik ook nie gebalanseer soos beweer word nie. Aan die anderkant moet jy darem jou gesonde verstand gebruik om te weet dat gemorskos wat lekker smaak, nie elke dag geëet kan word nie, want dit bevat nie wat die liggaam nodig het nie.
  • Voedsel word vandag gegroei of gemaak vir die massamark op maniere wat vir ons onbekend is en dalk nie altyd so voedsaam is as wat ons nodig het nie, maar God sê vir ons in –

1Ti 4:3-5 ANV Hulle [dit is dwaalleraars] verbied mense om te trou en om bepaalde soorte kos te eet. Maar God het die voedsel gemaak, sodat dié wat glo en tot die kennis van die waarheid gekom het, dit met danksegging kan gebruik. Alles wat God gemaak het, is immers goed. Niks wat met danksegging ontvang word, is verwerplik nie, want dit word deur die woord van God en deur die gebed geheilig.

Dit is hoekom ons altyd voor ons eet, God dank vir die kos en vra dat dit geseën word. Dan weet ons dat die kos wat ons gaan eet die nodige voeding sal gee, al is die inhoud in die kos onbekend, want God sal daarvoor sorg. Hierdie sluit gemorskos en roomys in, maar ons moet die balans hou en dit nie elke dag eet nie.

  • Dieselfde is van toepassing op wat ons drink. Daar word baie gepraat dat ons genoeg water moet drink, maar is die water wat by ons uitkom gesond of nie? Ons drink dit in die geloof dat God dit sal seën in die liggaam. Mense drink koffie, tee, koeldrank en alkoholiese drankies. Hierdie drinkgoed is nie ‘n probleem nie, solank dit gebalanseerd gebruik word, maar die oomblik wanneer dit in oormaat gebruik word, is dit negatief vir die liggaam.
  • Die hoeveelheid wat ons eet het ook ‘n direkte invloed op die liggaam. Ons liggaam is ontwerp om aan sekere vereistes te voldoen om goed te funksioneer, dit sluit ons gewig in. Wanneer jy ondergewig is, kry die liggaam nie genoeg van die stowwe wat dit nodig het nie en wanneer jy oorgewig is kry die liggaam meer stowwe wat dit nodig het en word dit wat nie nodig is nie, in bv vet omgesit. In beide gevalle is dit negatief vir die liggaam en kan dit wanfunksie veroorsaak wat tot siektes ly. Voorbeeld: met oorgewig moet die hart harder werk om die bloed deur die liggaam te sirkuleer wat die hart negatief beïnvloed, daar is baie siektes wat deur oorgewig veroorsaak word en voorkom kan word indien jy jou inname van kos beheer, deur die hoeveelheid en soorte kos.

Inkort jou liggaam waarsku jou wanneer dit iets nodig het, kos of drinkgoed en waarsku jou ook wanneer dit genoeg gekry het. Maw. Hou op eet wanneer jy versadig is en drink veral water wanneer dit warm is en jy begin sleg voel.

Die volgende is oefening:

  • Oefening is baie nodig vir die liggaam, maar daar moet ook ‘n balans hiermee wees.
  • Teveel oefening en ‘n oormaat van sport beoefening, kan jou liggaamsdele soos gewrigte en spiere beskadig. Dit kan ook verslawend wees, die liggaam stel adrenalien vry met oefening en wanneer die oefening gestaak word dan veroorsaak die tekort aan adrenalien negatiewe reaksies by die persoon net soos ondervind word met verslawing aan dwelmmiddels.
  • Te min oefening is ook nie goed nie, oefening help om die liggaam se spiere en gewrigte te ontwikkel en soepel te hou. Gebalanseerde oefening verbrand stowwe wat teveel ingeneem is en die liggaam nie nodig het nie. Oefening kan voorkom dat jy moeilik beweeg en of oorgewig raak.

Nodige rus vir die liggaam en siel:

  • Die liggaam en siel (brein/bewussyn) is ontwerp om elke dag vir ‘n sekere tyd (6-8ure) te rus.
  • Daar is nie so-iets, soos ek het net 2 of 3 ure slaap nodig, nie.
  • As mens na die lengte van ‘n nag kyk wat God gemaak het, is dit gemiddeld so tussen 8 tot 12 ure afhangende van die seisoen en waar op die aarde jy is. Dit is die tyd wat God voorsien het vir ons om te rus, want daar was in die begin nie voldoende lig in die nag om iets te doen nie. Dit was eers na elektriese ligte onwikkel is, dat dit moontlik was om die nagte korter te maak.
  • Die liggaam en siel moet ook rus om ‘n gesonde liggaam en geestelike lewe te hê.
  • Verder het God ook bepaal dat die mens elke sewende dag uit ‘n week nie met sy normale werk aangaan nie en rus of ander dinge doen. Dit is hoekom daar 7 dae in ‘n week is soos God dit geskep het in Genesis, ses dae om te werk en een om te rus.

Enige afwyking van hierdie voorskrifte oor langer tydperke gaan die gesondheid van die liggaam en siel ernstig benadeel, veral op die mens se geestelike vlak.

Lewe van spanning ook genoem stres:

  • God het elkeen uniek ontwerp en het vir elkeen ‘n doel hier op die aarde. Hy het verder vir elkeen die regte talente gegee om hierdie werk of doel vir Hom uit te voer. Wanneer jy dus gaan begin om self dinge vir jou op te laai, wat God nie vir jou beplan het nie, gaan daar spanning in jou begin opbou omdat jy sukkel om suksesvol te wees. Die algemeenste voorbeeld is, jy is in die verkeerde werk en kan nie byhou nie of jou werk geniet nie.
  • ‘n Ander vlak van spanning, is jou bekommernis (vrees) oor wat om jou gebeur; by die huis, jou omgewing, jou land en die wêreld. Hierdie is buite jou beheer en jy is bang vir wat kan gebeur en dat dit ‘n direkte invloed op jou lewe gaan hê.
  • Al hierdie soorte van spanning gaan jou liggaamlik en geestelik, negatief beïnvloed met gesondheidsprobleme wat gaan volg. Niemand kan in spanning lewe oor ‘n lang tydperk en nie een of ander siekte ontwikkel nie.

Al wat jy hieraan kan doen is om eerste God se doel vir jou te bepaal en dan daarmee aan te gaan.

Met alles wat om jou gebeur kan jy slegs jou vertroue in God plaas om jou te beskerm. Kyk minder TV en luister en lees minder nuusberigte. Lees meer God se Woord en laat die wêreld se probleme aan Hom oor om te hanteer.

Sonde wat ons doen of ons voorgeslagte gedoen het:

  • Wanneer daar gepraat word dat siekte deur sonde veroorsaak word, wil niemand dit hoor nie en gryp dadelik na Joh 9:2-3, waar Jesus sê die man wat blind gebore is, was nie agv hy of sy ouers wat gesondig het nie.

Daar is egter baie Skrifgedeeltes waar Jesus iemand gesond gemaak het en hulle sonde vergewe het. Joh 5:2-14, Mar 2:5-12, Mat 9:2-7, ens.

Dan ook in die brief wat Jakobus geskryf het –

Jak 5:14-16 AOV Is daar iemand siek onder julle? Laat hom die ouderlinge van die gemeente inroep, en laat hulle oor hom bid nadat hulle hom in die Naam van die Here met olie gesalf het. 15 En die gebed van die geloof sal die kranke red, en die Here sal hom oprig. Selfs as hy sonde gedoen het, sal dit hom vergewe word. 16 Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag.

Die laaste gedeelte van vers 15 wys dat siekte kan ook aan sonde gekoppel word en vers 16 koppel weer siekte direk aan sonde.

  • Nie alle siekte word kan aan sonde gekoppel word nie, soos ons vroeër gesien het dat liggaamlike en geestelike siekte kan voorkom wanneer ons nie binne God se waardestelsel vir die mens bly nie.
  • In 1 Joh 1:8-9 word vir ons gesê, dat na ons weergebore is, sal ons steeds sondig, maar as ons dit bely sal God ons vergewe. Waarop hierdie neerkom is, ons gaan steeds verkeerde dinge doen na weergeboorte, maar as ons hardnekkig aangaan met die verkeerde dinge en nie omdraai terug na God toe nie, gaan ons God se seën verloor, want God kan nie sonde seën nie.

Om buite God se seën te wees beteken, dat ons buite God se beskerming is en die duiwel kry toegang om ons direk aan te val, waarvan siekte een manier van aanval is.  

  • Die duiwel val jou aan deur jou siel (gedagtes). Hy vertel jou leuens of hits jou aan om jou gedagtes van God af weg te neem en om minder liefde aan jou medegelowiges te bewys. Jou gedagtes, veral as jy heeldag daaroor tob, kan jou liggaam so beïnvloed dat siektes in die liggaam kan manifesteer.

‘n Voorbeeld is: onvergewensgesindheid teenoor iemand wat iets verkeerd aan jou of iemand naby aan jou  gedoen het. Wie is jy om nie te vergewe nie, ongeag wat die persoon gedoen het, God het al jou sondes vergewe deur Jesus wat vir jou sonde gesterf het. Hierdie onvergewensgesindheid veroorsaak spanning in jou en gaan aan jou vreet soos kanker en jy gaan heel moontlik opeindig met kanker wat jou gaan doodmaak.

Ander voorbeelde is:

  • die gebruik van dwelmmiddels en dit wat jy doen wanneer jy onder die invloed is,
  • dronkbestuur en ‘n ongeluk wat moontlik kan gebeur waar jy en ander dood kan wees of geskend vir die res van jou of hulle lewe,
  • Wilde lewe van vrye seks met baie ander en eindig met geslagsiektes of VIGS.

Daar is nog vele voorbeelde, maar die eindpunt is, of jy weergebore is of nie, jy gaan die gevolge dra vir wat jy doen – dit wat jy saai gaan jy oes.

  • Wanneer dit by kinders kom wat gestrem gebore is of ‘n ernstige siekte, soos kanker kry, hoekom gebeur dit?

Een ding is seker, dit is nie God wat verantwoordelik daarvoor is nie, God maak nie foute nie en straf nie onskuldige kinders nie.

Voorbeelde van optrede deur ouers wat kinders se gesondheid kan beïnvloed:

  • Ma wat baie alkohol gebruik met swangerskap kan veroorsaak die kind met die alkoholsindroom gebore word.
  • Ma wat dwelmmiddels gebruik gedurende swangerskap kan ernstige afwykings by die baba veroorsaak.
  • Ouers wat nie behoorlik na die kinders omsien nie, swak voeding, kind in gewelddadige huishouding, kind wat verwaarloos word, kind wat mishandel word, ens. gaan nie ‘n normale kind, liggaamlik en geestelik meebring nie.

Niemand weet wat ‘n ander in die donker doen of in die verlede gedoen het nie, behalwe God. Die enigste moontlikheid om ‘n antwoord te kry hoekom jou kind ‘n vloek dra, is om die Heilige Gees te vra indien jy nie reeds weet nie.

Ons weet of verstaan ook nie altyd hoe groot invloed ons optrede en lewens op ons kinders se lewe het nie en dat baie dinge waarmee hulle sukkel eintlik kom as gevolg van ons en die voorgeslagte se optrede.

Ons weet ook dat Jesus alle vloeke vir ons aan die kruis gedra het en dat ons wat weergebore is vry van enige vloek van die verlede is en die ouer staan in vir die kind tot die kind oud genoeg is om self verantwoordelikheid vir julle lewe te neem. Gal 3:13

Hoe om siekte te hanteer en daarvan ontslae te raak:

  • Soek die oorsaak van die siekte, elke siekte het ‘n oorsaak, bv. lewensstyl van rook, longkanker of kort aan asem, ens.
  • Maak veranderinge om oorsaak van siekte te verwyder, bv. verander lewensstyl (eet minder), hou op rook, begin oefen, ens.
  • Wanneer daar sonde betrokke is, hou op daarmee, bely dit teenoor God en vra vergiffenis (1Joh 1:8-9).
  • Jesus het klaar vir ons sonde aan die kruis gesterf en hierdie sonde sluit siekte in (1 Pet 2:24). Dit is in die verlede tyd, so ons moet dit net glo en bevestig met ons mond, dat Jesus al ons siekte weggeneem het.  Spreek die siekte aan om ons liggaam te verlaat. Jesus het ons die mag daarvoor gegee (Mar 16:17-18)
  • Omdat die liggaam van Jesus vir ons gebreek is, kan ons daagliks nagmaal gebruik (soos medisyne) om ons geloof te versterk vir genesing wanneer ons met ‘n siekte sukkel.

Ter afsluiting:

As jy ‘n lewe van oorvloed in goeie gesondheid wil hê:

  • Lewe volgens God se waardestelsel,
  • Vermy sonde en indien jy verkeerd doen, stop dit en bely dit teenoor God,
  • Probeer om ‘n goeie voorbeeld vir jou kinders te wees binne God se waardestelsel.
  • Gebruik die magte wat Jesus vir jou gegee het om siekte uit jou lewe te verwyder.

 Gebed:

  • Danie Vader vir U liefde,
  • Dankie Vader vir Jesus, wie vir ons sonde en siekte gesterf het,
  • Dankie dat ons die mag ontvang het om siekte en die duiwel teen te staan,
  • Dankie dat ons ‘n lewe van oorvloed al hier op die aarde kan lewe,
  • Lei ons deur U Gees om volgens U waardestelsel te lewe,
  • Ons vra dit in die Naam van Jesus Christus,
  • Amen



(P007) Lewe van oorvloed

Jy is weergebore en ‘n kind van God maar jy het nie ‘n lewe in oorvloed nie. Wat beteken dit om ‘n lewe van oorvloed te hê.

Jou gesondheid is nie na wense nie, daar is min liefde, baie konflik en geen plesier in jou lewe nie, saam met altyd ‘n te kort aan geld.

Jy lewe nie ‘n lewe van oorvloed nie.



Jesus belowe ons lewe en ‘n lewe in oorvloed.

Joh 10:10 ANV ‘n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.

Die ‘hulle’ waarna Jesus verwys, is ons wat weergebore is en al hier op die aarde die ewige lewe ontvang om in te lewe.

Joh 5:24 ANV Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie, maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan.

Ons wat weergebore is, het alreeds die ewige lewe nou hier op die aarde, want ons het uit die dood in die sonde waarin ons was, oorgegaan na die lewe in Jesus.

Waarop dit neerkom is dat ons ‘n lewe van oorvloed nou hier op aarde al kan geniet, indien ons God se opdrag nakom, weet hoe om binne God se waardestelsel te lewe en wat se mag ons teen die duiwel en sy invloed het.

God se opdrag aan ons Sy weergebore kinders:

Ons word weergebore en kinders van God (Gal 3:26) wanneer ons Jesus as ons verlosser aanneem deur te glo in ons hart en te bely met ons mond dat Jesus vir ons sonde aan die kruis gesterf het en dat God Hom uit die dood opgewek het.

God het dan ‘n opdrag aan ons wat ons sien in 1 Joh 3:23-24

NLV En dit is sy opdrag: Ons moet glo in die persoon van sy Seun, Jesus Christus, en ons moet mekaar liefhê, net soos Hy aan ons die opdrag gegee het. Wie sy opdragte gehoorsaam, leef in ’n hegte verhouding met God en Hy op sy beurt met daardie persoon. Hieraan weet ons dat Hy in ’n hegte verhouding met ons leef: aan die Gees wat Hy aan ons gegee het.

Hier sien ons God se opdrag aan ons is, om te glo in Jesus Christus en om mekaar, mede gelowiges, lief te hê.

Wanneer ons dit doen, leef ons in ‘n hegte verhouding met God en dit is ook wat God verlang. Deur Jesus se offer word ons nie net gered van ons sonde nie, maar die verhouding tussen God en ons word herstel.

Wat is God se waardestelsel of geestelike wette?

God het alles, die mens en die natuur ontwerp. Die mens en natuur funksioneer binne sekere reëls en niemand kan dit verander nie. Voorbeelde:

  • In die natuur is water nodig vir plante om te groei, mense en diere lewe van die plante as voedsel en het ook water nodig om te lewe. So water is nodig vir alles om te lewe, vat water weg en alles sterf of besoedel die water en alles word siek en sterf ook aan die einde. Teveel of te min water het ook ‘n invloed op die gesondheid van alles, daar is ‘n balans wat gehandhaaf moet word om suksesvol te funksioneer.
  • Vir die mens en ook vir diere is daar ‘n balans nodig om suksesvol te lewe, wanneer hierdie balans versteur word begin daar probleme ontstaan.
  • Fisiese balans by die mens is die liggaam wat fisies uitgeput word en dan moet rus. Jy kan nie onbeperk beweeg sonder rus nie, want jou liggaam gaan ingee en wanneer jy net rus sonder enige beweging dan kwyn jou spiere, daar is ‘n balans tussen beweging en rus.
  • Geestelik is daar ook ‘n balans tussen die aanbidding van God en die geniet van die wêreldse dinge, soos om vis te vang, wanneer visvang meer aandag as God in jou lewe kry, dan word visvang jou afgod.

Watter mag het ons teen die duiwel en sy invloed op ons:

  • Die duiwel is steeds besig om ons te mislei en aan te val waar ons vir hom ‘n opening gee, maar baie gelowiges weet baie min van die invloed wat die duiwel op ons het, omdat hulle dit nie geleer word deur geestelike leiers nie en self ook nie verstaan wat hulle oor die duiwel in die Skrif lees nie.
  • Dan is daar die wat glo dat die duiwel nie regtig bestaan nie, hulle ken en verstaan glad nie die Woord van God nie, kan selfs sê hulle glo nie regtig die Bybel is God se Woord wat deur die Heilige Gees geïnspireer is nie en hulle verstaan ook nie dat daar ‘n geestelike dimensie is nie.
  • Jesus het ons, die gelowiges wat weergebore is, mag oor die duiwel gegee want Hy het die duiwel oorwin met Sy dood aan die kruis en opstanding uit die dood.
  • Ons lees wat Jesus gesê het in Mar 16:17-18

(ANV) Die volgende wondertekens sal voorkom by dié wat glo: in my Naam sal hulle bose geeste uitdrywe; in ander tale sal hulle praat; met hulle hande sal hulle slange optel, en as hulle iets drink wat dodelik giftig is, sal dit hulle geen kwaad doen nie; hulle sal siekes die hande oplê, en dié sal gesond word.”

en Joh 14:12

(ANV) Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan.

Baie gelowiges glo dit nie of beweer dat hierdie magte saam met die Apostels uitgesterf het, wat nie die waarheid is nie, dit staan nêrens in God se Woord dat hierdie magte gaan ophou solank ons op die aarde lewe nie.

Wie is reg, die hierdie gelowiges of die Woord van God? Ek glo die Woord van God en nie die van mense nie. Die Woord sê as ek glo, sal ek in die naam van Jesus dieselfde mag hê as wat Hy hier op die aarde gehad het en selfs meer.

  • Indien ons hierdie mag wat Jesus ons gegee het nie gebruik nie, laat ons die duiwel toe om ons te beheer waar daar ‘n opening vir hom kom. Jesus het ons die mag gegee om die duiwel teen te staan en ons moet self besluit of ons daardie mag gaan gebruik of nie.

Wat is alles betrokke by ‘n lewe van oorvloed?

Kom ons kyk na praktiese dinge in ons lewe, wat ‘n lewe van oorvloed kan keer:

  • Jou gesondheid, wanneer jy enige siekte of gebrek het,
  • ‘n Gebrek aan liefde van of aan ander en eensaamheid,
  • As daar geen of min vrede in jou lewe is,  
  • Geen of min plesier in jou lewe,
  • Jy het ‘n tekort aan lewensmiddele.

In lesings wat op hierdie een volg sal daar in meer diepte na elkeen van hierdie 5 punte gekyk word.

Gebed:

  • Dankie Vader vir U liefde,
  • Dankie dat ons deur Jesus gered is van sonde,
  • Dankie dat ons verhouding met U herstel is,
  • Dankie dat ons deur U Woord weet, dat ons die ewige lewe saam met U ontvang het en dat dit al hier op die aarde begin terwyl ons nog hier lewe,
  • Dankie dat U vir ons ‘n lewe van oorvloed gee,
  • Dankie Vader,
  • Amen



(P006) Nuwe Testamentiese Kerk en wette

Wat is God se wil vir jou? Ontvang jy die korrekte opleiding van wat God van jou verlang en wat Sy waardestelsel is of is dit vals ideologieë wat deur geestelike leiers uitgedink is wat nie na die Heilige Gees luister nie?



Hierdie is ‘n opvolg oor dwaalleringe wat vandag in die kerke voorkom en teengestaan moet word.

Waarvoor staan elke kerk huidig hier op die aarde en is dit waarvoor hulle staan, volgens Jesus se wil?

Hierdie vraag moet elke gelowige homself vra oor die kerk wat hy of sy bewoon.

Ek gaan gereeld deur verskeie geestelike publikasies om te sien wat gebeur in kerke deur die wêreld. My oog vang die volgende opskrif in The Christian Post van 26/11/2023 “Pastor apologizes for allowing male speaker with long hair”.

Dit het onmiddellik my aandag getrek – wat het langhare te doen om in ‘n kerk te kan praat en hoekom vra die pastoor verskoning daaroor?

Die storie steek soos volg aanmekaar –

Daar is ‘n groep wat bestaan, uit mense van verskeie kerkgroepe, met die doel om die evolusieleer verkeerd te bewys. Die groep word deur verskillende kerke genooi om hulle standpunte te kom verduidelik. So het dit gebeur dat hulle opgetree het by ‘n gemeente, van een van die grootste kerkgroepe in Amerika. Een van die sprekers was ‘n 18 jarige jongman met langhare. ‘n Pastoor van ‘n ander gemeente uit dieselfde kerkgroep, wat blykbaar nie eens teenwoordig was nie, het daarna afgegaan oor die jongman se langhare en dat dit nie mag gebeur het nie, omdat vir ‘n man met langhare mag nie in die kerk vanaf die preekstoel praat nie, want dit is in direk teenstrydig met die Skrif – 1 Kor 11:14. Sy standpunt verder is, langhare vir ‘n man is ‘n skande.

Wat verder verontrustend was, is die pastoor wie die groep uitgenooi het, het verskoning gevra aan sy gemeente en die kerkgroep, omdat hy nie beter voorsiening gemaak het om te voorkom dat ‘n man met langhare optree nie en Skriftekste uit die ‘NIV’ gebruik het nie (Die NIV aanhalings was deel van die aanval, maar die arme jongman het nie eens Skrif-verwysings gebruik nie).

Wat sê hierdie skrifgedeelte

1 Kor 11:14 AOV Of leer ook die natuur self julle nie dat as ‘n man lang hare dra, dit vir hom ‘n oneer is nie;

Om te verstaan waaroor hierdie gaan moet jy 1 Kor 11:2-16 gaan lees.

In hierdie gedeelte verduidelik Paulus dat Christus die hoogste gesag is in die kerk en in elkeen se lewe. Hy gebruik die illustrasies van haarlengte en kopbedekking om ons onderwerping as mans en vroue aan Christus en die vrou wat haar moet onderwerp aan haar man in die huwelik te verduidelik. Hierdie illustrasies was die gebruik in daardie tyd om so vlakke van gesag duidelik te maak.

Paulus het Christus se gesag verduidelik en nie ‘n gedragskode nie.

Die vraag verder is hoe lank is langhare volgens hierdie persoon wat die jongman veroordeel?

Volgens navorsing was die haarlengte daardie tyd tot op die skouers en ons sien dit steeds by Rabbi’s wat tans op TV gesien word.

Ek weet ek beklemtoon gereeld wette wat nie meer van toepassings is nie en steeds in kerke afgedwing word, maar hierdie is weereens ‘n voorbeeld daarvan.

In hierdie geval word alle mans met langhare veroordeel en in die hel gewerp volgens hierdie geestelike leier.

Wat verwag God van ons as mense hier op die aarde?

  1. Eerste om te glo met ons hart en te bely met ons mond dat Jesus vir ons sonde gesterf het en dat God Hom uit die dood opgewek het. So word ons weergebore. Rom 10:9-10
  2. Na ons weergeboorte is ons kinders van God. 1 Joh 3:1
  3. God se opdrag aan ons is om Hom en ons naaste lief te hê.

Luk 10:27 AOV Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele krag en uit jou hele verstand; en jou naaste soos jouself.

God se opdrag word verder aan ons as volg verduidelik:

1 Joh 3:23 NLV “En dit is sy opdrag: Ons moet glo in die persoon van sy Seun, Jesus Christus, en ons moet mekaar liefhê, net soos Hy aan ons die opdrag gegee het.”

  • God wil ‘n hegte verhouding met ons elkeen hê en dit gebeur wanneer ons sy opdrag uitvoer:

1 Joh 3:24 NLV “Wie sy opdragte gehoorsaam, leef in ’n hegte verhouding met God en Hy op sy beurt met daardie persoon. Hieraan weet ons dat Hy in ’n hegte verhouding met ons leef: aan die Gees wat Hy aan ons gegee het.”

  • Die liefde wat hier beskrywe word is ‘n opofferende liefde en wanneer ons iets doen wat nie tot opbou van God of ons naaste is nie, dan oortree ons God se opdragte. Ons het dus nie ‘n vryhand om te doen soos ons wil nie, sonder om eers te bepaal of die invloed positief of negatief gaan wees op ons verhouding met God en/of ons naaste nie.

Hoe lewe ons hierdie liefde aan God en ons naaste uit?

Kom ons kyk na die storie van langhare – hoe beïnvloed my langhare my liefde vir God en my naaste?

Volgens my het dit geen invloed op God of my naaste nie, of my hare lank of kort is gaan nie bepaal of ek God of my naaste lief het of nie.

Dit is dieselfde of ek maer of groot is of mooi of lelik, dit gaan geen invloed hê op my liefde wat ek uitlewe vir God of my naaste nie.

Gal 5:18 sê vir ons dat ons vry is van die wet (die wette wat God aan Israel deur Moses gegee het) en dat die Heilige Gees ons lei en waarsku wanneer ons teen God se wil optree.

Die wil van God is, dit wat God daar gestel het vir ons, om volgens te lewe sodat ons ‘n gebalanseerde lewe van oorvloed hier op aarde te kan hê en Hom en ons naaste te dien.

God het ‘n waardestelsel daar gestel wat vir almal, gelowiges en ongelowiges, van toe passings is.

Een is, wat jy saai, gaan jy oes – in alle fasette van die lewe, voorbeelde –

  • Die persoon wat ander aanval en beroof, hy gaan een of ander tyd gevang word en betaal vir wat hy gedoen het en hierdie persoon het in elk geval nie ‘n lewe van vrede en voorspoed nie.
  • Die persoon wat rondloop en kwaad saai tussen mense, deur kwaadwillige en verdraaide skinderstories, gaan eensaamheid oes, want mense gaan hom vermy en daar kan moontlik reeds selfverwerping in hom wees wat hom dryf om hierdie saad te saai en hy het al op daardie stadium nie ‘n gelukkig lewe nie.
  • Onvergewensgesindheid teenoor ander wat jou te na gekom het – jy loop met ‘n wrok teen iemand en weier om te vergewe soos God van ons verlang. Jy gaan heel moontlik opeindig met gesondheidsprobleme as die oes van jou onvergewensgesindheid en in elk geval gaan jy ook nooit ‘n gelukkig en vredevolle lewe geniet nie, want jy gaan gereeld dink aan dit wat jou seermaak.

Die vraag is gaan jy na die Heilige Gees luister wanneer Hy jou waarsku deur God se Woord of deur jou gewete of gaan jy jou eie wil en verdraaide siening volg en oes wat jy gesaai het.

Wanneer geestelike leiers begin om nuwe wette op te stel, deur foutiewe verklarings uit God se Woord, omdat hulle nie die Woord bestudeer het onder die leiding van die Heilige Gees nie en skrifgedeeltes verkeerd verstaan saam met die onkunde van wat God vir ons wil gee en van ons verlang, dan dryf hulle gelowiges en selfs ongelowiges wat moontlik Jesus sou aanvaar het, weg van Jesus se kerk. Die wat agterbly by die kerk, lewe ook onder die juk van wette wat nie van God is nie.

Ter afsluiting:

  1. Gelowiges moet nie dat jou geestelike leier jou onder die juk van sy eie wette plaas wat hy verkeerd verstaan uit die Woord van God nie.
  2. Die vraag wat jy moet vra vir elke gebruik of wet wat aan jou voorgehou word, is dit God wat dit van jou verlang en wat is die doel daarvan. God hou ons nie vas aan wette wat geen voordeel vir ons of ons naaste het nie. Ons kan nie God tevrede stel om wette na te kom nie, Jesus het die verhouding tussen God en ons herstel en God wil ‘n verhouding met ons hê.
  3. Om buite God se waardestelsel vir ons te lewe, beweeg ons weg van God se seën en Hy sal ons nie keer nie, maar ons sal die gevolge daarvan moet dra.
  4. Geestelike leiers, maak seker dat julle God se wil en liefde aan julle volgelinge verkondig en nie julle eie verdraaide verklarings wat nie van God is nie. Julle gaan aan Jesus moet antwoord oor die leiding wat julle gegee het. Jak 3:1

Gebed:

  • Dankie Vader vir U liefde vir ons sonder enige voorwaardes,
  • Dankie vir U geduld met ons,
  • Dankie vir ‘n lewe van vrede en voorspoed wat U al hier op aarde vir ons voorsien,
  • Vader beskerm ons deur die leiding van U Gees teen gebruike en wette wat nie van U is nie,
  • Ons vra dit in die Naam van Jesus Christus
  • Amen



(K013) Die Gelowige en die wêreld – Rom 12:9-19

Hoe hanteer jy alles wat jy op sosiale media en die TV sien?

Hoe moet jy deelneem aan gesprekke persoon tot persoon en op sosiale media?

Hoe behou jy jou vrede met alles wat gesê word?



  • Tot ongeveer 1970 het ons gelewe in ‘n wêreld waar jou kontak met ander mense beperk was tot jou onmiddellike omgewing en dit wat jy oor die radio gehoor het. Die invloed op elkeen was klein en mense het meestal in vrede en liefde met mekaar gelewe.
  • Daarna het die TV gekom, toe internet en nou sosiale media. Die invloed van buite jou lewensomgewing het enorme geword, dit sluit die vryheid in om jou siening met die wêreld te deel dmv WhatsApp, X, FaceBook, ens.
  • Jy word gebombardeer deur elkeen se siening oor ‘n saak waar hy glo net hy is reg en ander is verkeerd en ipv om die saak te stel en stil te bly, gaan hy net aan en aan en val almal aan met wie hy nie saamstem nie.
  • Dan saam met hierdie is daar ook nog hulle wat verkeerde inligting en blatante valshede versprei.

Waar bring dit ons as gelowiges en wat staan ons te doen?

Rom 12:9-19 AFR20

Julle liefde moet ongeveins wees. Verafsku die kwaad; hou vas aan die goeie.

Die gelowige moet opreg wees in sy lewe en die kwaad in die wêreld teenstaan en hom onttrek daarvan. Verder vasstaan vir die waarheid en die goeie,

Julle moet mekaar liefhê met innige broederliefde. Gaan mekaar voor in eerbetoning. Moenie traag wees in julle toewyding nie; bly geesdriftig; hou vol om die Here te dien.

Die gelowiges moet mekaar ondersteun, respekteer en saam aanhou om die Here te dien deur die leiding van die Heilige Gees,

Verbly julle in die hoop; wees standvastig wanneer julle swaarkry; volhard in die gebed.

Staan in die hoop wat ons ontvang het van redding uit sonde en verlossing van die wêreld. Moenie dat enige aanvalle deur die duiwel jou ontmoedig nie en bid aanmekaar vir groei in jou geloof in die Here,

Betoon meelewing met die behoeftes van die heiliges; lê julle toe op gasvryheid.

Gee om vir die ander gelowiges om jou en ondersteun hulle,

Seën julle vervolgers; ja, seën hulle, moet hulle nie vervloek nie.

Gelowiges mag net ander seën en hulle nie vervolg nie,

Wees bly saam met diegene wat bly is; treur saam met diegene wat treur.

Die gelowige moet saam almal bly wees in hulle vreugde en ook saam met hulle treur wanneer hulle treur,

Wees eensgesind onder mekaar; moenie hoogmoedig wees nie, maar skaar julle by die nederiges. Moenie wys wees in julle eie oë nie.

Werk saam met die ander in nederigheid en moet nie jouself meerwaardig hou nie,

Moet niemand kwaad met kwaad vergeld nie, maar rig julle gedagtes op dit wat vir alle mense goed is. As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.

Wees versigtig om nie ‘n ander te wil terug te kry oor wat hy gedoen het nie, doen wat goed is vir almal en lewe in vrede met hulle,

Geliefdes, moet julle nie wreek nie, maar laat ruimte vir die oordeel. Daar staan immers geskryf: “Aan My kom die wraak toe; Ek sal vergeld,” sê die Here.

Dit is nie die gelowige se plek om wraak te neem op die een wat hom te nagekom het nie, laat die wraak aan God oor.

Opsommend ter afsluiting:

  1. Lewe opreg, verdedig die waarheid en verwerp die leuens van die duiwel wat hy opdis.
  2. Deur leiding van die Heilige Gees moet gelowiges in ‘n noue verband van versorging op alle vlakke met mekaar lewe en saam die Here dien.
  3. Ons as gelowiges weet ons deur ons weergeboorte is ons gered van ons sonde en hierdie wêreld. Ons moet die duiwel teenstaan en ons geloof in die Here deurentyd versterk.
  4. Ondersteun en respekteer ook die ongelowiges en wen hulle so vir Jesus.
  5. Wanneer dit kom by gesprekke op sosiale media en self ook in direkte kontak met ander:
  6. Vermy twis met ander en behou jou vrede –  

Spr 20:3 AFR20 Dit is ‘n eer vir ‘n mens om van ‘n woordewisseling weg te bly, maar elke sot laat ‘n stryery losbreek.

  • Moenie in die strik beland en ander toelaat om jou aan te val nie, draai om en loop weg –

Spr 27:3 AFR20 ‘n Klip is swaar en sand het gewig, maar teistering deur ‘n sot is swaarder as albei.

  • Moenie met ander in argumente betrokke raak nie, jy gaan jouself verlaag na hulle vlak en hulle gaan in elk geval nie na jou luister nie –

Spr 26:4 AFR20 “Moenie ‘n dwaas antwoord in ooreenstemming met sy sotheid nie, anders word jy ook dieselfde as hy.

  • Luister ook na Paulus se raad aan Timoteus –

2 Tim 2:16-17 NLV Vermy goddelose en dwase gepraat wat net tot verdere goddeloosheid lei. Hierdie soort praatjies versprei soos kanker. ……

Ek hoop hierdie sal jou help om die wêreld elke dag te hanteer en sodoende meer vrede te ondervind.

Kom ons bid:

  • Dankie Vader vir U liefde,
  • Dankie dat ons altyd op U kan staatmaak vir leiding,
  • Dankie dat ons U kinders kan ondersteun waar en wanneer nodig,
  • Dankie dat ons U kan grootmaak in die wêreld deur ons optrede,
  • Vader lei ons deur die Heilige Gees om altyd reg op te tree,
  • Lei ons ook deur die Heilige Gees om te sien wanneer die duiwel ons wil intrek in argumente wat nie tot opbou van U en Jesus se offer, vir almal, is nie,
  • Ons vra dit in die naam van Jesus Christus
  • Amen



(P005) Vryheid in Jesus – Dwaalleringe

Moenie dat geestelike leiers met dwaalleringe jou vryheid wat Jesus vir jou gegee het van jou wegneem nie.

Wat is dwaalleringe en hoe identifiseer jy dit?



Hierdie gaan spesifiek oor wat in Jesus se Kerk oor die jare gebeur en ek glo nie Sy goedkeuring wegdra nie.

Wat verlang God van ons?

Jesus het aarde toegekom om ons te verlos van ons sonde en ons verhouding met God te herstel, soos dit was voor die sondeval.

God wil hê dat ons in ‘n verhouding met hom moet lewe –

1 Joh 3:24 NLV “Wie sy opdragte gehoorsaam, leef in ’n hegte verhouding met God en Hy op sy beurt met daardie persoon. Hieraan weet ons dat Hy in ’n hegte verhouding met ons leef: aan die Gees wat Hy aan ons gegee het.”
Wat is God se opdragte waarvan hier gepraat word –

1 Joh 3:23 NLV “En dit is sy opdrag: Ons moet glo in die persoon van sy Seun, Jesus Christus, en ons moet mekaar liefhê, net soos Hy aan ons die opdrag gegee het.”
Jesus sê vir ons in Luk 10:27 dat ons God moet liefhê met ons hele hart, siel, krag en verstand en ons naaste soos ons self.

Wat is die liefde wat God verlang?

1 Joh 4:10 NLV “Dít is volmaakte liefde: nie dat ons vir God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun as versoeningsoffer gestuur het om ons sondes weg te neem.”
1 Joh 5:2-3 NLV “Hieraan weet ons dat ons moet aanhou om die kinders van God lief te hê: wanneer ons God liefhet en sy opdragte uitvoer. Die liefde vir God bestaan daaruit dat ons sy opdragte gehoorsaam, en sy opdragte is nie moeilik nie,”
Die liefde hier is nie ‘n gevoel nie, dit is ‘n opofferende liefde, maw, ‘n aksie wat ons moet neem om God en mekaar te dien. Dit is dieselfde liefde, aksie, wat God geneem het om Jesus aarde toe te stuur om vir ons te sterf. 

Wanneer ons in hierdie liefde lewe onder die leiding van die Heilige Gees, wat ons in ons ontvang het met weergeboorte, dan lewe ons in ‘n hegte verhouding met God.

Vals-profete/leraars en dwaalleraars.

Vals-profete en leraars word in die Skrif beskrywe as mense wat Jesus en wat Hy aan die kruis gedoen het ontken. Daar is al hoe meer tekens dat hulle stadig besig is om deur liberale-leringe terug te kom in die Kerk.

Hierdie gaan egter oor dwaalleraars (dit is my benaming) wat invloed in die Kerk oor die jare ingebring het en dit steeds doen en handhaaf.

Hierdie mense verwerp nie Jesus nie, maar hulle plaas mens-verklaarde laste op gelowiges wat nie van God afkom nie.

Dit kan vergelyk word met die wette, wat ons ken as Moses-wette, wat die Skrifgeleerdes en Fariseërs uitgebrei het, oor hulle vrees dat hulle dalk ‘n wet van God sal oortree, omdat hulle die wette kon misverstaan het.

In Luk 6:1-11 sien ons waar Jesus se dissipels graan gepluk het op die Sabbat en geëet het en Jesus ‘n man met ‘n uitgedorde hand genees het. Die Skrifgeleerdes en Fariseërs het hulle veroordeel dat hulle werk op die Sabbatdag.

Dit gebeur ook in ons tyd waar leiers in kerke vassteek by dit wat hulle glo die Skrif sê en die volgelinge moet dit net aanvaar.

Die algemeenste voorbeelde hiervan is:

  1. Dit word in jou ingedril, dat jy moet besef dat jy in sonde ontvang en gebore is en ‘n sondaar is.

Daar word vasgesteek by die wet (10 gebooie) wat jy ten alle koste moet probeer nakom.

Dit alles ongeag of Jesus vir jou gesterf het en jou vrygemaak het van die wet –

Gal 5:18 AOV Maar as julle julle deur die Gees laat lei, staan julle nie meer onder die wet nie.

Dit beteken met jou weergeboorte kom die Heilige Gees in jou en jy lewe deur die leiding van die Heilige Gees. Jy kyk nie na die wet nie, jy luister na die Heilige Gees wat jou waarsku, deur die Skrif en jou gewete.

Jy is ook vrygemaak van al die ander voorskrifte wat God aan die Jode gegee het, voor Jesus se koms –

Kol 2:16-17 ANV Daarom moet julle nie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet en drink nie, of dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbatdag moet vier nie. Dit is alles maar net die skaduwee van wat sou kom; die werklikheid is Christus.

Die verskillende wette en gebruike was slegs ‘n skadubeeld van Christus was, wat sou kom en is deur Christus aan die kruis volbring. Enigiets wat weer bygevoeg word by dit wat Christus gedoen het, kanselleer die genade van God.

  • Dan kom ons by die Heilige Gees, hulle erken dat dit Heilige Gees bestaan, maar dit is waar dit eindig. Hulle aanvaar nie die doop met die Heilige Gees nie, ook nie dat die krag wat ontvang word van die Heilige Gees nie. Dat die gawes van profeteer, woord van wysheid, woord van kennis, gesondmaking, spreek in tale, ens nog bestaan word ook nie erken nie. Die verklaring is dat dit nie meer nodig is nie en uitgesterf het saam met die Apostels, want dit is met God se woord vervang. Daar is niks in die Skrif wat hierdie verklaring bevestig nie en as Jesus en die Apostels dit gebruik het om mense se aandag te trek, wat maak ons beter om sonder dit te wil werk?

Die grootste probleem hier is, volgens my mening, dat hierdie leiers nie die geestelike wêreld verstaan of glo dat dit bestaan nie, want dit is buite ons 5 sintuie.

  • Finansies bring ons by die volgende wanopvatting. Hulle glo jy kan nie na rykdom uitsien nie, want dit is ‘n euwel en sal jou laat sondig.

Joh 10:10 word geïgnoreer waar Jesus ons ‘n lewe van oorvloed belowe waarvan geld ‘n deel is.

Hulle gee ook geen verklaring oor wat die Skrif sê oor saai en oes en ander gedeeltes oor geld nie. Hulle leer ook nie die wat hulle volg dat indien hulle God en ander seën met wat hulle ontvang, hulle ook ryklik geseën sal word nie.

Hulle sê ook nie waar Christene wat baie geld het, inpas nie.

My vraag is, moet almal in armoede soos hulle lewe weens hulle verkeerde sienings, is dit ‘n sonde om ‘n gemaklike lewe te lei, wat van Abraham, Dawid en Salomo?

  • Dan ons gesondheid, hulle verklaar dat ons gesondheidsprobleme het, omdat ons verkeerde goed gedoen het en God ons nou straf of ons wil leer of toets.

Ja ons gesondheidsprobleme kan kom van dit wat ons oor onsself bring deur ons lewenswyse en optrede, maar dit is nie God wat ons siekte gee nie. Dit kan nêrens in die Skrif onder die Nuwe Verbond gevind word nie.

Wat wel gebeur ons verloor God se seën en beskerming, want Hy kan nie verkeerde optrede seën nie. Onthou daar is ‘n duiwel wat kyk wanneer hy kans kan kry om ons aan te val (Joh 10:10).

Verder sê hulle God sal jou gesond maak as dit Sy wil is. Jesus het klaar vir ons siekte gesterf (1 Pet 2:24), ons moet net ons sonde bely en God sal dit vergewe (1 Joh 1:8-9) en daarna glo dat ons genees is. Die volgende gedeelte verduidelik dit ook –

Jak 5:14-16 NLV “Is daar van julle wat siek is? Dan moet julle die ouderlinge van die gemeente laat kom. Nadat die ouderlinge die siekes met olyfolie in die Naam van die Here gesalf het, moet hulle vir hulle bid. En ’n gelowige gebed sal die siek mens gesond laat word; die Here sal hom laat opstaan. En watter sondes die sieke ook al gedoen het, dit sal hom vergewe word. Daarom moet julle julle sondes teenoor mekaar bely en vir mekaar bid sodat julle gesond kan word. Die gebed van iemand wie se saak met God reg is, het ’n kragtige werking.”

Hoekom gebeur hierdie nie in alle kerke nie?

  • Wanneer ons kom by die liggaam wat sterf hier op die aarde, dan beweer hierdie mense dat dit God se wil was of dat God besluit het dit is tyd om hom of haar weg te neem. Hierdie bewerings is die oorsaak dat baie mense van God wegdraai wanneer hulle ‘n geliefde verloor.

Weereens kan niks hiervan gevind word in die Skrif onder die Nuwe Verbond nie, inteendeel Jesus het almal gesond gemaak en ander berispe, maar niemand doodgemaak nie en Sy verklaring was dat Hy net doen wat Hy die Vader sien doen.

Die enigste wat gevind word oor afsterwe van die liggaam is in Joh 10:10 waar Jesus sê die duiwel kom om siek en dood te maak.

Ons sal nooit altyd verstaan wanneer iemand sterf nie, maar ons kan nie God beskuldig nie.

Ter afsluiting

  • Moenie dat gebruike of verklarings deur mense oor jou geestelike lewe en verhouding met God, jou weg van God dryf nie.
  • Gaan toets alles wat vir jou gesê word of wat hulle wil hê jy moet doen, aan die Skrif onder die leiding van die Heilige Gees.
  • Gesels ook met ander gelowiges en vra dat hulle jou leiding uit die Skrif gee oor vrae wat jy het.
  • Moenie dat mense en hulle gebruike jou beïnvloed en jou lewe moeilik maak nie, Jesus se offer het ons vryheid gebring en lewe daarin om ‘n lewe van oorvloed te kan geniet soos Hy belowe het.
  • Aan geestelike leiers maak seker wat jy preek, moet nie laste op jou volgelinge plaas nie. Antwoord vrae uit die Skrif en nie uit dit wat jy dink nie.

Gebed

  • Dankie Vader vir U liefde,
  • Dankie vir Jesus wat U gestuur het om vir ons sonde te sterf en ons vryheid te bring wat nou al hier op die aarde begin,
  • Vader lei ons deur U Gees sodat ons die aanvalle van die duiwel deur dwaalleraars kan herken wat laste op ons wil lê en nie van U is nie.
  • Heilige Gees help en lei ons, om ons verhouding met God daagliks hegter te maak,
  • Dankie Vader vir U beskermde hand wat U oor ons hou en aanvalle van die duiwel afweer.
  • Ons vra hierdie in die naam van Jesus Christus
  • Amen



(P003) Vryheid in Jesus (Deel 2) – Luk 4:17-19

Jy is ‘n weergebore kind van God maar jy ervaar nie die vryheid wat Jesus vir ons gebring het, hier op die aarde nie.

Jy is siek, het nie genoeg om van te lewe nie, lewe in konfrontasie met almal en vrees wat om jou en in die wêreld gebeur.



Hierdie is vir almal, maar in die besonder vir die wat elke Sondag in die kerk sit of voorheen kerk toe gegaan het en twyfel oor baie dinge en baie probleme ondervind.

Luk 4:17-19 En die boek van die profeet Jesaja is aan Hom oorhandig; en toe Hy die boek oopmaak, kry Hy die plek waar geskrywe is: (Jes61:1-2) Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees; om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig.

Jesus het gekom om die duisternis van hierdie wêreld, wat deur die duiwel beheer word, met Sy lig te vervang en vryheid te bring vir diѐ wat in Hom glo.

Die eerste deel het gegaan oor ontdek jou vryheid in Jesus mbt tot jou geestelike lewe (jy kan na die eerste deel kyk P002 Vryheid in Jesus Deel 1 indien jy dit gemis het), hierdie tweede deel gaan oor ontdek jou vryheid in Jesus mbt jou fisiese lewe.

Jy is ‘n weergebore kind van God, maar jy lewe steeds ‘n lewe van hel hier op die aarde:

  • Jou gesondheid is swak, jy drink ‘n handvol pille elke dag en jy vrees die dood.
  • Jy moet met min geld klaar kom of jy vrees dat jou geld gaan opraak.
  • Jou verhouding met ander mense is swak en vol konflik.
  • Jy vrees dit wat om jou in die wêreld gebeur, misdaad, oorloë en swak regerings.

Wat sê Jesus egter vir jou:

  • Wanneer dit by jou gesondheid kom, moet jy besef siekte is die begin van die dood van jou liggaam. Daar is ‘n oorsaak vir die siektes wat jy ondervind en die meerderheid van dit is, as gevolg van jou eie optrede. Dit is nie God wat jou siekte gee om jou te straf of te toets of iets te leer nie. So gaan kyk ‘n bietjie wat veroorsaak die siektes wat jy het en hoeveel het jou optrede bygedra tot hierdie siektes. Kyk dan verder wat kan jy verander of self doen om hierdie siektes teen te staan en daarvan ontslae te raak.

Terwyl Jesus op aarde was het Hy almal wat sy pad gekruis het en siek was, gesond gemaak. Hierdie siektes was meesal agv sonde (Mar 2:5, Joh 5:14, Jak 5:16 en daar is nog baie meer) of invloed van die duiwel (Mat 4:24, Mat 8:16, Hand 10:38 en nog baie meer).

Die probleem is dat die mense nie glo of verantwoordelikheid wil neem, dat hulle siekte toegeskryf kan word oor sondes wat hulle het nie. Die oomblik wat jy dit noem dan haal hulle (Joh 9:3) aan waar Jesus gesê die man was nie blind agv enige sonde wat hy of sy ouers gedoen het nie, maar hulle kyk al die ander teksverse mis, waar siekte aan sonde en die duiwel gekoppel word.

Jesus het vir ons sonde aan die kruis gesterf en dit sluit in vir die siektes wat ons in ons liggaam ondervind, fisies (liggaam) en geestelik (siel).

Mat 8:16-17 AOV En toe dit aand geword het, het hulle baie na Hom gebring, wat van duiwels besete was; en Hy het die geeste met ‘n woord uitgedrywe; en almal wat ongesteld was, het Hy gesond gemaak, sodat vervul sou word wat gespreek is deur Jesaja, die profeet, toe hy gesê het: Hy het ons krankhede op Hom geneem en ons siektes gedra.

Hierdie kom uit die profesie van Jesaja wat oor Jesus handel

Jes 53:4-5 Tog het hy óns lyding op hom geneem, óns siektes het hy gedra. Maar ons het hom beskou as een wat gestraf word, wat deur God geslaan en gepynig word. Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom.

Dan sien ons ook, waar Jesus die nagmaal instel, dat Hy verwys na eet van sy liggaam. Die brood verwys na Sy liggaam en wonde wat  vir ons genesing bring en die uitstorting van sy bloed (wyn) is die vergifnis van ons sonde –  

Mat 26:26 En terwyl hulle eet, neem Jesus die brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan sy dissipels en sê: Neem, eet, dit is my liggaam.

Mat 26:28 Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes.

Ons sien dus dat Jesus se liggaam gebreek is en deur Sy wonde, is ons genees. Dit loop saam met die vergewing van sonde, want sondes bring siektes, bv wanneer jy te veel eet raak jy oorgewig wat mediese probleme meebring, gebruik van dwelms voer gevaarlike stowwe in wat die liggaam afbreek en siektes veroorsaak, bekommernis veroorsaak spanning wat ‘n hartaanval kan veroorsaak, ens.

Siekte is ‘n vloek van die duiwel en Jesus het dit aan die kruis vir ons weggeneem, ons moet net daarop staan.

Gaan kyk ook na my ander lesing onder die naam(K004) ‘n Gesonde Liggaam’.

Jy lewe ook in vrees om liggaamlik te sterf, omdat jy nie seker is jy is gered en dat wanneer jy sterf jou siel en gees na God en Jesus toe sal gaan nie.

Soos reeds vroeër gesê, as jy glo en bely (sê, verklaar) dat Jesus vir jou sonde gesterf het en deur God weer uit die dood opgewek is, dan is jy weergebore en gaan jou siel en gees na God en Christus toe wanneer jou liggaam sterwe. Glo dit net.

  • Wanneer dit by versorging in lewensmiddele kom en jy vrees dat dit wat jy ontvang of het, gaan nie genoeg wees nie, dan vertrou en ken jy nie vir God nie.

Fil 4:6 Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.

Die eerste vraag wat jy moet antwoord is: Hoe lewe jy met dit wat God jou gee?

Gee jy geld uit so vinnig jy dit kry op enigiets wat jou oë sien of bestuur jy jou finansies oordeelkundig?

Luk 16:10-11 sê vir ons, wie met die minste getrou is sal ook met baie getrou wees, kan God jou vertrou met dit wat Hy vir jou gee?

Fil 4:11 sê Paulus, dat hy geleer het om tevrede te wees met dit wat hy ontvang, is jy tevrede met wat jy ontvang?

Na jy hierdie verse gelees het, vra of gesels jy met God oor wat jy nodig het om van te lewe?

Fil 4:19 En my God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus.

God belowe Hy sal in elke behoefte voorsien, maar daar is egter ook ‘n gesindheid en optrede van jou kant betrokke om te kan ontvang.

2Ko 9:6-7 Maar dink daaraan: Wie spaarsaamlik saai, sal ook spaarsaamlik maai; en wie volop saai, sal ook volop maai. [7] Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het ‘n blymoedige gewer lief.

Dan kom die vraag, hoeveel van dit wat jy ontvang, gee jy terug vir God uit dankbaarheid vir dit wat Hy vir jou gee? Ja, al kom dit van jou werkgewer of die regering of pensioen kom dit eerstens van God.

As jy spaarsamig saai gaan jy spaarsamig oes, dit wat jy saai of teruggee aan God en weer daarna oes of ontvang van God.

As jy volop saai, gaan jy volop oes, van God ontvang. Dit is solank jy nie gee, met die hoofdoel (gesindheid) om terug te kry nie. Wanneer jy gee met die gesindheid om terug te kry, gaan jy bedroë daarvan afkom.

Waar moet jy saai? Gee vir Jesus se kerk, die uitdra van Jesus se boodskap, kinderhuise, voedingsprogramme, ens., alles waar hulp nodig is en die liefde van Jesus gewys kan word.

2Ko 9:10 En mag Hy wat saad verskaf aan die saaier, ook brood verskaf om te eet en julle saad vermeerder en die vrug van julle geregtigheid laat toeneem, sodat julle in alles ryk kan word tot alle milddadigheid, wat danksegging aan God deur ons bewerk.

Dan sien ons verder dat God vir ons saad gee om te saai en brood om te eet, dit beteken van dit wat jy ontvang, is ‘n deel saad wat jy moet saai en die res brood, waarvan jy moet lewe.

Wanneer jy nie genoeg het om van te lewe nie, eet jy ook die saad ipv om dit te saai? In hierdie geval gaan God spaarsamig voorsien omdat jy nie dit wat Hy voorsien om te saai gebruik om te saai nie, maar dit self eet.

Hoeveel moet jy saai van dit wat God jou gee? Soveel as wat die Heilige Gees in jou hart lê (2 Kor 9:7) en ‘n basiese riglyn uit die Woord is 10%, maar daar word baie daaroor geredeneer, die punt bly by hoeveel jy saai en met watter gesindheid.

Gaan kyk ook na my ander lesing onder die naam(K002) Beskerm jou inkomste.

  • Jou verhouding met ander bepaal ook lewensvreugde. Indien jy aanmekaar in konflik met ander lewe gaan jy voortdurend ongelukkig en negatief wees.

God het ons almal verskillend van mekaar gemaak, so jy dink is nie soos ‘n ander dink nie. Elkeen het sy eie benadering tot ‘n saak en elkeen mag reg wees, al stem jy nie saam met die ander een se benadering nie. Om jou wil op ander af te dwing veroorsaak konflik.

Indien jy alles met ‘n negatiewe gesindheid benader, gaan niks aan jou verwagting voldoen nie, met die gevolg dat mense moedeloos gaan word met jou, omdat jy alles veroordeel.

Spr 4:23 Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe.

Konflik met ander bring mee dat die partye mekaar moet vergewe. Dit veroorsaak weer verdere spanning, want elke party glo hy is reg en die iemand moet erken hy is verkeerd en verskoning vra, voor hy vergewe kan word. Verhoudings word geskaad deur onvergewensgesindheid.

Mat 18:21-22 Toe kom Petrus na Hom en sê: Here, hoe dikwels sal my broeder teen my sondig en ek hom vergewe? Tot sewe maal toe? Jesus antwoord hom: Ek sê vir jou, nie tot sewe maal toe nie, maar tot sewentig maal sewe toe.

Volg die volgende verse en lewe in vrede met almal om jou –

Efs 4:32 Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het.

Jak 1:19 So dan, my geliefde broeders, elke mens moet gou wees om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word.

1Jo 4:11 Geliefdes, as God ons so liefgehad het, behoort ons ook mekaar lief te hê.

  • Gaan jy in vrees lewe vir alles wat die duiwel om jou in die wêreld mee besig is?

Dit lyk oorweldigend as jy kyk na wat alles om jou gebeur en jy het geen beheer daaroor nie. Wanneer jy nie iets kan beheer nie, bring dit vrees by jou.

Die vraag is wie is die sterkste God of die duiwel?

Jes 44:6 ANV So sê die Here, die Koning van Israel, sy Verlosser, die Here die Almagtige: Ek is die eerste en Ek is die laaste, buiten My is daar geen God nie.

God is die alfa en die omega, die begin en die einde en elke knieg sal voor Hom buig en erken Hy is die enigste God.

Daarom sê Skrif vir jou –

Jak 4:7 Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.

Jy kan slegs op God vertrou vir beskerming in hierdie wêreld –

Luk 21:17-18 ANV En julle sal ter wille van my Naam deur almal gehaat word, maar daar sal selfs nie eens ‘n haar van julle kop af val nie.

Staan vas in geloof in God om jou, deur die tydperk wat jy in hierdie wêreld is, te beskerm want –

Rom 8:31 As God vír ons is, wie kan teen ons wees?

As jy nog twyfel bou jou geloof op met Jes 54:17, Ps 34:7 en Ps 91

Gaan kyk ook na my ander lesings onder die name(P001) Vrede van God in ‘n gewelddadige wêreld en (K008) God, ons sy kinders en die wêreld.

Kom ons kyk opsommend na alles ter afsluiting:

  • Indien jy gesondheidsprobleme het, gaan sit en kyk hoekom jy die siekte het en indien jy nie weet nie vra die Heilige Gees om dit aan jou bekend te maak. Besluit dan wat jy daaraan gaan doen om van die siekte ontslae te raak behalwe om alleen medikasie daarvoor te gebruik.
  • As jy te min geld het om van te lewe, gaan kyk eerste na jou gesindheid en kyk dan hoe jy dit spandeer wat jy kry of dit redelik en wys is, wat insluit, dit wat jy saai vir God. Maak regstellings en gaan gesels dan met God oor ‘n hoër inkomste en wat jy moet doen daarvoor, God gaan nie vir jou geldnote uit die hemel gooi nie.
  • Vra God vir leiding om van aanhoudende twis en onvergewensgesindheid in jou lewe ontslae te raak, dit sal ook help met jou gesondheid.
  • Die wêreld val inmekaar, maar plaas jou vertroue slegs in God en nie ander mense of leiers nie. Dank God daagliks vir sy beskerming waar jy is en waar jy gaan. Leer om in daardie vertroue daagliks te lewe, maak nie saak wat om jou en met jou gebeur nie, Hy sal jou vashou en ondersteun.

Ek hoop hierdie sal jou help om jou vryheid in Jesus te ontdek en dit deel van jou lewe te maak.

Gebed:

  • Dankie Vader vir U onbeperkte liefde,
  • U is die begin en die einde,
  • U is groot en onbeperk,
  • Dankie vir Jesus wat vir ons gesterf het aan die kruis, sodat ons in vryheid al reeds hier op die aarde kan begin lewe,
  •   Vader lei ons asb deur U Gees om hierdie vryheid te kan verstaan, op te eis en die juk van die duiwel af te gooi,
  • Ons vra dit in die naam van ons Verlosser Jesus Christus,

Amen