8 tot 11 Februarie 2013

Vrydag moes ons eers die verantwoordelikhede hier nakom voor ons die pad kon vat SA toe. Alta moes skielik gaan doeke koop en Petrus was besig met die bedrading van ’n trok en sy moes self ry. Sy is toe ook deur ’n verkeersbeampte gestop vir ’n roetiene ondersoek, maar na hy haar met Portugees oorval het en haar antwoord ‘English please’ het hy haar laat ry. Petrus kom daagliks op interessante tegniese dinge hier af. Vrydag het hy na ’n af draad gesoek op die trok se alternator se stroombane, behalwe vir ’n hele paar lasse in die drade wat nie op die beste manier gedoen is nie, was die probleem ’n draad wat heeltemal ge-oksideer het. Dit is die eerste keer dat hy sien koperdraad kan tot so ’n mate oksideer dat dit elektriese stroom onderbreek. Skies vir die verskriklike teginiese beskrywings. So 13:20 val ons in die pad en dit gaan nogal vinnig want die verkeer is min, self by die grenspos gaan dit vinning en hierdie keer het ons tou gestaan aan Mosambiek se kant en nie SA kant nie. 15:00 val ons Komatiepoort in en alles word gekoop wat nodig is vir ons en bestel is van Zimpeto af, maar Komatiepoort het nie ’n materiaal winkel nie.
Saterdag kort na 8 is ons by die toekomstige poskantoor op Marloth om ’n posbus te bekom, maar die antwoord is dieselfde, die sleutels en aansoekvorms het nog nie, na 3 weke gekom nie. Uit moedeloosheid ry ons weer Komatipoort toe, by die poskantoor vra ons vir ’n aansoekvorm vir ’n posbus en die antwoord ‘we are bussy with renewals’ en na weer vra, ons wil vir ’n posbus aansoek doen, was die antwoord geen aansoekvorms beskikbaar en geen posbusse beskikbaar nie. So dit wil ook nie voorkom of daar gou iets by Marloth gaan gebeur  as dit van Komatiepoort af moet kom nie. Ons is daarna Malelane toe vir die res van die goed wat ons nie Vrydag kom kry nie.
Sondag is ons weer soos twee weke gelede AGS kerk toe, nou moet ons sê dat die ontvangs die vorige keer en weer hierdie keer hartlik en warm was, daar is baie ander kerke wat hier kan kom leer. Die pastoor preek oor gebed en die Heilige Gees, dis iets wat ons nie in die Gereformeerde kerk  mee te doen gekry het nie. Ons is nooit bewus gemaak hoe om die Heilige Gees te verstaan (tekens raak te sien) en te ervaar nie. Sondagmiddag daag daar ‘vroulike Brazilianse pastoortjie’ van Zimpeto by ons op om daar oor te nag. Ons gaan wys haar Marloth en die rivier en wildtuin vanuit Marloth. Ons braai ’n stukkie wors oor die kole en die gesprek gaan weer terug na die Heilige Gees. Sy verklaar dat sy op ’n stadium teologies alles geweet het en eers na sy in ’n opleiding kursus in Toronto beland het, besef het dat haar hart nie oop was vir God en die Heilige Gees nie, dit was daar waar haar hart oopgegaan het vir die Heilige Gees. Hierdie gesprekke en dinge wat ons al vroeër tee gekom het, het ons laat besef dat die Gereformeerde Kerk ver tekort geskiet het om ons die volle mag van die Heilige Gees te geleer ken, te verstaan en hoe dit is om met die Heilge Gees vervul te wees. Francois het probeer, maar ons geskiedenis het ons geblokkeer of dit onverstaanbaar gemaak.
Ons gaan probeer om die blog eenkeer per week aan te vul en wel op die laatste Dinsdagaande. Ons het navrae oor die kinders gekry en sal volgende keer meer van hulle vertel, asook van kultuur aspekte.

Bid asb vir:
1.       die kinders, aangesien dat hul nie noodwendig gelowige ouers het nie, gewoonlik net een ouer as daar ouers is.
2.       vir die sentrum wat aanvalle van bose magte en kwaadwilligheid ervaar.
3.       vir die sendelinge om dit met die nodige wysheid en insig te hanteer.
4.       vir die personeel sodat hulle deur die Here en Heilige Gees gelei sal word om hulle werk en verantwoordelikhede met die nodige toewyding en opregtheid te doen.



4 tot 7 Februarie 2013

Maandag was ’n vakansiedag maar ons was besig met ’n paar dinge, Alta was hierdie naweek sowel Maandag aandiens by die baba’s. Petrus het begin om die gordynhangers te maak vir die res van die kamers by camerada 4, maar kort ‘cutting disks’ wat komende naweek in SA gekoop sal word.
Dinsdag is Alta saam om voorraad te gaan koop vir die baba’s(Nursery).
Woensdag het Alta vergadering oor die baba’s(Nursery) en Petrus met die Bestuurder van die voertuig afdeling waar hulle probleme en nuwe stelsel bespreek. Dit is nogal moeilik om ‘n vergadering te hou deur ‘n tolk. Petrus se vergadering duur 2 ure. Daar moet ook nog aankope vir die baba’s gedoen word en die tyd is te min. Ons ry om die aankope te doen nadat die seuns hier was, net  3 het opgedaag, hier is 18 Amerikaanse besoekers en hulle bederf erg. Ons het Woensdagaand ’n braaivleis en kuieraand met die sendelinge. Dit is heerlik en gesellig. Hulle skeergek met mekaar, Switsers met hul Swiss knife en Amerikaners met Amerika se Leaterman knife weergawe van so ’n mes. Tongknoppers van verskillende tale word ook op mekaar uitgetoes. Ons leer hulle Afrikaans, party kom nog al goed reg met die uitsprake. Ons voel bietjie minder vreemd en meer deel van alles.
Donderdag het Petrus ’n vergadering met die bestuurders van die voertuie om die veranderinge deur te gee en uit besware wat geopper word, is dit duidelik dat hulle op die regte pad is om onwettig gebruik van die voertuie te beperk en petrolbedrog te keer.
Vrydag moet ons weer deurgaan SA toe vir almal se voorgeskrewe medisyne en beplan om Maandag vroeg terug te kom.



03 Februarie 2013

Dit is Sondag, hier is dit lekker jy slaap tot so 9 uur want die kerk begin eers 10:00.

Die kerk is voller as gewoonlik want daar is mense van ander gemeentes ook teenwoordig. Hierdie keer word daar Portugees en Shangaan gebruik, so daar word getolk tussen Portugees en Shangaan en dan ook nog na Engels vir die sendelinge en besoekers. Dit was lekker verwarend en jy vang so deel-deel van die preek. Dit wil voorkom of die Mosambiekse Patore glo hulle moet ’n uur of meer preek met die gevolg daar word nie net een punt behandel nie maar ’n hele paar en net wanneer jy dink jy is nou op die wa en weet waaroor dit gaan, dan is dit weer ’n nuwe punt wat behandel word. Dit was vandag Heldedag hier en die boodskap het daaroor gegaan. Wat interessant was sy aanhaling uit:
Isa 43:18-21  Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie. Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom; Ek maak in die woestyn ‘n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring. Die wilde diere sal My vereer, die jakkalse en die volstruise, omdat Ek water gee in die woestyn, riviere in die droë wêreld om my volk, my uitverkore volk, se dors te les. Dit is die volk wat Ek vir My geskep het, en wat my lof sal verkondig.
Het ons dit nie ook nodig in Suid Afrika nie?
Ons het die kinders jammer gekry want hulle diens of Sondagskool het nog nie begin hierdie jaar nie en hulle moes saam met ons deur dit sit. By dit is hulle etenstyd 1 uur en die diens gaan tot half twee aan en hulle kan nie kos kry nie, want die diens is in dieselfde ruimte as hulle eetsaal. Verder het ons ’n rustige dag gehad met ’n middagslapie en al.
Catherine wat noodhulp gegee het by die ongeluk, waarvan ons in die vorige blog vertel het, ondervind vandag eers die skok behoorlik oor die gebeure en daar word vir hulle, wat daar was, gebid gedurende die diens en sy word ons nuwe aanneem kind vir ondersteuning.
Omdat vandag ’n vakansiedag was en op ‘n Sondag, is more ook ’n vakansiedag, so julle moet lekker werk.
Hier is ‘n paar foto’s wat ons Vrydag en Saterdag in die strate geneem het vir interessantheid, let op na die chaos in die kruising van die eerste 2 foto’s en na seker artikels wat so op straat verkoop word in die ander foto’s, die 2de laaste is bra’s en laaste is skoene:

 





30 Januarie 2013 tot 02 Februarie 2012

Woensdag het daar nie veel gebeur nie.
Donderdag is Ma Nellie alleen saam met die uitreikspan na die hospitaal, haar wedervaring was as volg: En soos ons haar ken, klim sy agter in ’n bakkie selfs nadat sy sitplek voor aangebied was (Claire het vir Alta vertel). Hulle is die slag na die kindersaal, en hier is daar toe kussings op die beddens, maar ook nie by almal nie. Die trappe is ook lekker breed en van sement. Die kinder afdeling is in ’n beter toestand, met bedkassies teen die muur vas gesit, maar dis baie beknop met 3 beddens in wat ons ‘n 2 bedsaal sal noem. Daar word vir 6 kinders deur die een groepie gebid. Die suster van die saal is blykbaar alleen en sy neem die kinders se koors. Een van die ‘ma’s’ wat by ’n kind sit, is toe eintlik die tannie van die kind want sy ma is ook in die hospitaal en haar ma kyk na haar 7 kinders terwyl sy instaan vir haar broer wat ’n pastoor is en sy het ook ’n Shangaan Bybel by haar (lekker deurmekaar en om iemand wat ‘ Bybel het en van die Here weet is skaars). Hulle gee ook ’n Portugese Bybel vir een van die ma’s wat kan lees. Traktaatjies en piesangs is ook weer uitgedeel.
Die voertuig was die slag ’n groter beproewing vir die 2 vroue-sendelinge en 6 mans van die Bybelskool.  Die voertuig vrek  kort-kort  in verkeersopeenhopings of by verkeersligte en dis warm, veral agter in die bakkie, hulle los selfs die agterste klap naderhand oop. Met die terugkom, kry Ma Nellie se maermerrie en die kop ook nog ’n stamp. Die terug rit neem toe 2 ure en hul is soentoe in 30minute.
Vrydagoggend koop Ma Nellie toe ’n stukkie van Zimpeto, trap die trappie mis, toe sy vir Anton, die tuinwerker, iets wil wys en val op ’n hout leer. Heup bietjie blou en die ribbetjie ook effens blou.
Daar was Vrydagoggend ’n groep uit na die vloed gebied, so 200km noord van hier, om te gaan help met kos en klere uitdeel. Hul is weg met 2x2ton trokke en ’n bussie. Die mense, ongeveer 150000 wat hulle huise en besittings in die vloed verloor het, word gehuisves in kampe, maar die kos is skaars en klere min. Toe hul agterkom daar is kos, het hulle op die trokke afgestorm maar die goed moes by die regering se verspreidingspunte  afgelewer word om vandaar versprei te word. Dit was so erg dat hul besluit het om terug te kom,omdat dit nie veilig sou wees om daar te slaap nie. Oppad terug kom hulle toe op ’n gru ongeluk af tussen ’n bier trok en ’n taxi. 10 dood en 5 beseer, beserings was baie erg en taxi bestuurder was vas geklem in voertuig. Een van die wat saam was het noodhulpkennis en sy het gehelp met wat sy kon. Iemand met ’n bakkie het die mense hospitaal toe gevat, want die ambulans en polisie het nie opgedaag nie. Hulle het 2 uur Saterdagoggend in ’n geskokte toestand hier by Zimpeto aangekom.
Saterdagmiddag vat ons vir Catherine (sy is die meisie van SA en was ook saam met die span na die oorstromings toe) winkels toe, want sy kon nie Vrydag saam met die ander winkels toe gaan nie. (Daar is elke Vrydagmiddag en Dinsdagoggende ’n voertuig wat die sendelinge en besoekers Shoprite toe neem vir inkopies, dit sluit ons in wat dit meer geniet om saam met die bus te ry as om self te ry.) Dit was duidelik einde van die maand want die verkeer was rof. Ons plan was om ’n slag Pick’n Pay toe te gaan maar ons ry toe die pad mis en beland by Shoprite se sentrum. Daar het sy geld getrek en ons is na die Super Spar daar naby wat ’n aangename verassing was, want dit is baie groter en baie koeler in die winkel as Shoprite.
Saterdagaand hou ons braaivleis, Petrus het die braaier en houtskool van SA saam gebring. Laura van VSA (Alta skakel baie met haar) en Catherine was uitgenooi om saam met ons te braai. Voor ons nog begin daag Celia van Brazilië (basies 2de inbevel van die basis) op om Alta te kom vra oor gordyne vir die gebedskamer en sy bly ook vir die braai. Dit was die 3 babbelbekke bymekaar en ons het dit geniet. Dit was nogal interessant om die vrouens om die braaivleisvuur te sien staan i.p.v. net mans soos dit in SA gebeur. Ek was die enigste man en blykbaar het Laura en Celia (albei al 10 jaar hier) nie baie bloodstelling aan vleisbraai nie, want ek moes redelik verduidelik wat gedoen word. Ek het omtrent die hele basis uitgerook/laat ruik met die wors wat se vet op die vuur beland het, maar daar het nie nog gaste opgedaag nie. Aan tafel was dit nogal lekker want ons het die 2 Afrikaans geleer. 



25 tot 29 Januarie 2013

Ons was Suid Afrika toe en Petrus kon vleisbraai!
Ons was vinnig in Middelburg vir dokumente wat geteken moes word vir die besigheid. Ons is nie kwaad vir julle as ons nie by julle ‘n draai gemaak het nie, die tyd was min. Ons het Maandag vroeg gery vanaf Marloth en het die middag weer terug gery. Ons moes ook soveel moontlik by al die winkels uitkom vir inkopies wat dringend was.
Dinsdag-oggend is ons weer terug Zimpeto toe.
Aan die begin was ons bang oor wat vertel is van hoe jy voorgekeer word deur verkeersbeamptes en polisie en dat omkopery aan die orde van die dag was. Ek wil net vir julle sê dit is nie so nie, ons is tot nou nog nie voorgekeer nie, en selfs by die grenspos gaan dit goed, van ons weet wat gedoen moet word. Dis net jy moet baie geduld hê om hier te bestuur.

Verder vra ons julle om vir Zimpeto, die kinders, sendelinge en personeel te bid. Hier word ook mense benodig vir die kliniek en ander plekke om te help.

Dit voel of ons vordering met die kinders maak, ten spyte van die kommunikasie-stryd. Hulle het een of ander onderlinge stryer wat ons nog nie mooi verstaan nie.

O, in verband met die vloede, ons het nie toegang tot nuus nie en is onbewus van die vloede, maar ons is veilig, klaarblyklik is dit meer noord.




23 & 24 Januarie 2013

Donderdag reël ons, Alta en Ouma, om saam met die groep uit te gaan op die hospitaal uitreik. Hulle gaan bid vir  die pasiënte in die hospitaal. Ons ry in een van Iris se bussies hospitaal toe, ons is so 10 mense. 2 pastors, 4 sendelinge, 2 besoekers en 2 mans, wat ons vermoed, van die Bible School wat saam gaan.
Ons verwag dat die hospitaal verwaarloos is, maar wat ons daar aantref is moeilik om te beskryf, ek dink mens moet dit sien om te kan glo. Ek beskryf dit so goed ek kan.
By die hek hou ons stil en een gaan koop piesangs by die stalletjie voor die hospitaal. Ons ry in en stop by die dermatologiese afdeling. Ons klim uit en doen ‘n gebed, deel in 2 spanne op en stap aan na die ingang. Ek wys vir Ouma hoe dik die mure is, ‘n outyd se voet dik. Muskietgaas is voor die vensters aan die buitekant en die muur is so dik die vensters maak daar binne oop. Binne moet ons eers wag sodat papierwerk en toestemming afgehandel word. Die plek ruik muwerig en is oud. Ons gaan die trappe op, houttrappe wat so half onder ons gewig mee gee en hol geloop is. Ons loop tot by die verste kamers, daar is 2 vroue in die saal, die beddens is van stainless steel so ook die trollies aan die voet-en-ent van die bed en die bedkassie is net ‘n dubbele rak van stainless steel, daar is 2 meer moderne stoele in die kamer, die vensterbank is hoër as my kop en die dak doer ver bo. Die mure is stowerig, daar is geen ander toerusting in die kamers nie, nie eers ‘n gordyn tussen elke pasiënt nie. Die lakens is gelerig-bruin of lig bruin en met donkerder bruin is in die lengte in groot letters ‘hospital’ op gedruk, geen kussings nie, lyk  of die pasiënte self daarvoor moet sorg, daar was net 2 kussings by die 6 beddens waar ons was. Die vloere op die eerste verdieping is van hout. Dit lyk of dit dubbele lae was, party plekke is die hout gevrot en sag, ander plekke is daar stukke uit en in die gang was daar eens op ‘n tyd blokkies houtvloere en later het hul iets rubberig daaroor gesit met plastiek teëls wat nou dele van uitgebreek het.

Die eerste vrou waar ons by kom slaap en ons praat toe met die ander een in die kamer, sy was besig om te eet aan ‘n bord kos was ons nie voor kans gesien het nie, baie onaptytlik. Sy lyk vreesbevange toe ons met haar begin praat, en sê sy kan nie kos kan inkry nie en  dat haar familie haar verwerp het. Sy het swartkolle op haar vel. Ons bid vir haar en die ander vrou word wakker terwyl ons besig. Sy gooi haar half oop en het oral oor ronde sere waar bloederige sigwater uit loop. Die lakens lyk of dit nog nie die dag vervang is nie, waar daar nie oop sere is nie is letsels of  dop die vel af.  Sy is  dankbaar vir ons gebede en sê dat sy die Here ken. In tussen het die vorige vrou haar kos smaaklik ge-eet. Die piesangs word by elke pasient gelos, asook traktaatjies. By die volgende kamer lê ‘n kind en sy ma sit op die stoel, ‘n vrot reuk hang in die kamer. Altwee die voete is verbind die bene is dik geswel en knopperig en die hande en arms ook. Die laaste 2 gevalle is nie ‘n mooi gesig nie. Die volgende kamer het 2 pasiente en hul bring nog een terwyl ons daar is. Die eerste een is ‘n ou vrou met talle letsels op die vel, dis droë skubberige plekke en wit waar die skubbe afgedop het en sy is verskriklik maer, sy wil nie eintlik hê dat ons vir haar moet bid nie, ons lei af dat sy Hindo verbindtenise het, maar hulle bid nie te min vir haar. Die volgende is ‘n albino meisie met ‘n verband oor die helfte van haar gesig en oor, ons vermoed dis sonbrand. Die ander groep kom daar om vir haar te bid, haar ma lê in ‘n ander saal en het gevra dat hul vir haar ook sal bid, hulle ken die Here. Intussen is daar nog iemand wat opgeneem is met ‘n drup. Ons tyd is eintlik verstreke, maar die een sendeling het ‘n gesig gekry wat gesê het sy moet vir iemand bid wat ‘n immuniteits probleem het en ons bid ook vir haar. Voor meeste beddens lê ‘n buisie van dieselfde soort blou en geel antiseptiese salf. Dit voel vir ons as enige een hier genees, dit opsigself  ‘n wonderwerk is. Ons kom onder die besef dat ons vreeslik baie het om voor dankbaar te wees en kan nie glo dat enige iemand velprobleme kan toe laat om sulke afmetings aan te neem nie. Al wat ons kan dink is dat hul waarskynlik eers toordokters se hulp inroep en die hospitaal as die laaste opsie oorweeg.

Verskoon asseblief enige spel-, taalfoute en Engels wat ons ingooi, ons skryf hierdie gewoonlik laat aande.




20 tot 22 Januarie 2012

Sondag begin soos gewoonlik met die kerkdiens 10:00 en is net 2 ure lank. Onder is twee foto’s wat geneem is gedurende die lofprysing en neem kennis van die klein bankies waarop ons sit, moet nie weer kla oor julle kerkbanke nie.

Sondagmiddag was die groot gebeurtenis waar die 8 seuns (8-10jaar en waarvoor ons verantwoordelik is) van een dorm (camerada) na die nuwe kamer in die groot seuns se dorm verskuif (die voorbereiding is in die vorige dae hieronder vertel). Dit loop goed af met verversings na die tyd. Onder is foto’s, jammer party is dof maar die klomp kom nie stil staan nie.

Maandag is Alta vroeg dorm toe om te sien of die Tia (skoonmaker/versorger) opgedaag het en weet wat gedoen moet word (sy kan net Portugees praat en Alta basies geen Portugees praat nie, nogal ‘n interresante kombinasie). Ons is hard besig om Portugees te leer. Petrus is vir die eerste keer na die voertuie toe. Hy wou 08:00 daar wees maar kom eers 08:20 daaraan net om uit te vind die Mosambieker wat in beheer is eers 08:30 werk toe kom en hy is ook net Portugees magtig. Daar moet elke keer ‘n tolk gesoek word om te kan kommunikeer. Sy mening is dat Petrus daar is om te help met elektriese probleme op die voertuie en Petrus los dit toe maar eers daar sodat hulle kans kry om hom te leer ken en hy vir hulle, want hy is veronderstel om ook te help met die bestuur van die afdeling. In elk geval moet hy toe een van die busse se temperatuurmeter regmaak en daarna die brandstofmeter van ‘n bakkie. Eenuur het hy besluit dis genoeg en is terug huistoe.
 Die seuns daag die middag al van 12 uur af by ons huis op in plaas van eers 14:00. Die Mosambieker wat moet help is besig met paspoort uitsoteer nadat die gesteel is en hy oor ‘n maand na ‘n konferensie gaan, en daag dus nie op nie. Dus is dit Alta en ouma, sonder ‘n tolk. Daar kom ‘n ander seun van die camerada saam wat so bietjie help tolk. Die seuns is opgewonde en gaan soos vinke aan. Ons lees ‘n boekie met Portugees en Engelsewoorde en in Engels the Lion King. Alta word reg gehelp met die uitspraak van Simba en die koning se name. Hulle is ‘n handvol en ons is uitgeput teen die tyd dat hulle weg is.

Dinsdag is Petrus 08:30 by die voertuie en hy en die werktuigkundige begin 09:00 met ‘n 2 ton trok waarvan die battery nie laai nie. Die proses was soos volg: Kry ‘n ander trok aan die gang en laat dit luier, ruil die trok se battery wat gelaai is om met die ander trok se battery wat pap is, laat die trok wat luier die pap battery laai en gaan verder aan om die fout op die trok te soek wat weer onderbreek word want die olie stroom by die oliefilter uit. Hierdie battery-laaiproses neem een en ‘n halfuur en niks positief het nog gebeur nie. ‘n Nuwe oliefilter moet gekoop word en die persoon in beheer het nog nie opgedaag om geld te reel nie. Petrus   gaan 11:00 terug om die probleem op die trok wat steeds luier, om die battery te laai, na te kyk. Die trok wil nie afskakel nie. Die probleem word gevind maar daar is nie onderdele beskikbaar nie en die persoon in beheer is steeds nog nie beskikbaar nie. 14:00 kom haal ‘n pastoor vir Petrus by die huis om na die pastore se trokkie te gaan kyk wat Saterdag gaan staan het na dit deur diep water gery het. Eers moet die battery geruil word want dit is pap gekaring, gelukkig staan die trokkie voor die onderhoud se gebou en kollega John wat in beheer van onderhoud is weet gelukkig meer van dieselengins en help Petrus om dit aan die gang te kry. Petrus sal teen hierdie pas een van die dae ‘n outo-elektrisien en diesel-werktuigkundige wees.

By die huis daag  net een 14:00 op. Ons stuur hom om die ander te gaan haal, nog een daag op en ons loop om die ander te gaan haal. Ons lees uit die Engelse Bybel en hulle volg niks, beur al om hul eie ding te doen. Ons vou vliegtuigies uit papier. Een van hulle is besonder oulik en vou ‘n vliegtuigie wat tot op die huis se dak land. Dit was nie eers presies gevou nie, sommer so lossies en skeef, maar dit vlieg goed.
Nadat hul weg is daag Petrus op en ons ry om by die kwekery te gaan kyk hoe dit daar lyk. Langs die pad sien ons ‘n paar plante en daar is papajaboompies, ons stop en vra. Hy verstaan bietjie Engels en skryf op die grond dat dit 25metikas een is, ons vra watter is manlike plante en watter dra vrugte, hy weet nie maar sê ons moet al 4 vat omdat hy nie weet nie vir 50metikas. Terwyl ons nog daar staan daag Joao (ons gids van die vorige naweek) daarop en hy ry saam na die kwekery, maar ons kry nie waarna ons soek nie. Ons soek nog na ‘n vrugte- en groentemark en hy laat ons ‘n bietjie verder noord ry. Dis sommer so langs die pad en op die grond wat hul ware uitgestal word en hul skermpie se dak is ‘n paslaken wat oor stokke gehak is. Ons koop ‘n klapper of kokosneut (die wat klapperhaar matrasse van gemaak is en die witklapper wat gerasper is en vir koekies gebruik word) en sulke witterige patattas wat ons dieselfde aand eet en nogal lekker is.




18 & 19 Januarie 2013

Vrydag is nog warmer as Donderdag. Alta is nog besig met die gordyne en die goed wat moet reg om vir die kinders te gee. Dis handoeke, lakens, komberse ens. Dan is daar ook nog beplanning hoe en waarmee om hul in die middae besig te hou. Gelukkig is Mama Laura, hulle huidige huis ma, baie hulpvaardig en saam met die goed wat Mama Ros (bestuurdes) en sy gegee het en die goed wat uit die donasiekamer kom, amper genoeg vir elkeen. Kort nog net 1 kombers en ‘n houer vir vuil wasgoed. Die kombers kom uit dit wat ons saam gebring het. Daar is ook ‘n klompie skryfbehoeftes en speelgoed. Hulle kry hul klere wat hul het en daarmee sal Maandag na skool oorgetrek word na die nuwe bly plek vir hulle.

Van nouaf is ons verantwoordelik vir hulle klere, onderklere, kouse, skoene, badhandoeke en slaapgoed. Ons sal dit waardeer as julle kan bymekaar waar julle sulke goed raakloop en ons laat weet. Boeke veral opvoedkundig en ‘n paar tydskrifte is ook welkom.

Vrydagmiddag 14:00 is Shoprite tyd en ons besluit om dit saam met die klomp van hier, op die bussie van Iris aan te pak. Met die staan en wag sien ek almal het ekstra sakke gebring en ek wonder of ons genoeg voorbereid is vir die sessie. Aankope gaan redelik vlot so tussen die uitwerk wat dit nou eintlik kos deur. Ons het toe die meeste winkelsakkies wat dit nou nie eintlik wil hou nie.

Laat aand begin dit reen en Saterdag is lekker koel. Ons gaan weer saam met ‘n klop besoekende Brasiliane na die markte en uiteet. Die markte is toe glad nie wat ons verwag het nie, ons wil groente en vrugte hê, vat tot sakkies saam. Ons eindig toe op by ‘n toeriste mark, met beeldjies, armbande, krale en allerande lappe en maskers, glad nie wat ons ingedagte gehad het nie. Ons  stop oppad eers by die lughawe, een van die Brasilaners moet terug en ons kom eers 14:30 by die huis en ons wou nog op die hospitaaluitreik gegaan het 14:00. Almal lekker pê.

Hier is ‘n paar foto’s wat ons geneem het terwyl ons in die bussies gery het:

Ooral langs die paaie is daar winkeltjies.

    


















Die paaie lyk soos Witbank s’n en dis die watergate waar ons deurgery het verlede naweek:

 Die toeriste-mark in die middestad:

 Die see:

 Daar is groot verskil in inkomstevlakte soos gesien kan word, een oomblik is dit mooi huise dan weer bouvalige huise of gewone huise

 Hierdie is ‘n standaard karretjie wat hulle gebruik om goed te vervoer:


Hierdie is Samora Marchel se graf, dit is in ‘n sirkel met pad regom

 Hier is die lughawegebou, hierdie foto is ongeveer 13:30 Saterdag geneem en dit was doodstil by die lughawe, nie soos by ons nie:




16 en 17 Januarie 2013

Woensdag was ons besig met die gordyne ens. vir die dorm se kamer, dit is dorm 4 quarto 4 (huis 4, kamer 4 – quarto beteken ook 4, lekker verwarend). Die seuns, van die nuwe kamer, het van ons uitgevind en begin nou hier by die huis kom kuier. Dit is warm met hoë humiditeit. Die aand het ons homegroup, dit is waar al die permanente sendelinge by mekaar kom vir ondersteuning van mekaar. Elke sendeling kry ‘n geleentheid om dit aan te bied in die vorm wat hy/sy/hulle wil. Hierdie keer is besluit dat ons ‘n saoky-aand gaan hê, dit werk so: daar word ‘n stuk gelees, uit ‘n boek hierdie keer, en daarna speel daar musiek vir ‘n uur ononderbroke waar jy ontspan en God se teenwoordigheid ervaar, jy kan doen wat jy voel die Heilige Gees lei jou om te doen – lees in die Bybel, bid hardop of sit net stil en geniet God se teenwoordigheid.

Donderdag begin en dis vroeg reeds warm. Petrus sit die hangers vir die gordyne op en Alta kan finaal meet om die gordyne klaar te maak. Die geselligheid vir die kinders om die intrek te vier word uitgestel van Donderdagaand na Sondag. Die middag gaan warm en stadig verby. Die aand het ons weer kerk. Gedurende lofprysing is die kinders gewoonlik die saal vol en daar kom toe so ‘n 2 jarige by Petrus uit wat op sy skoot klim en sy se baard ontdek, dan verlang mens nogal nou jou kleinkinders. Die boodskap word deur Joao, ons gids verlede Vrydag en Sondag, gebring, hy preek nogal indrukwekkend.
Dit is net moeilik om te volg wanneer die tolk nie byhou en alles oordra nie. Na die preek lewer drie mense getuienis van wat die middag met hospitaal-uitreiking gebeur het. Die eerste 2 praat Portugees en ons verloor hulle weer met die tolk, die laaste een praat in Engels en haar vertelling gaan so –
‘n Paar maande gelede het sy en ‘n Mosambiekse sendeling by ‘n dogter in die hospitaal gekom wie se linker arm verlam was, hulle het vir haar en haar ma die boodskap van Jesus gebring en vir Jesus in gebed gevra om haar arm gesond te maak. Jesus het aan hulle versoek voldoen en die kind se arm gesond gemaak. Daar is die dogter en ma gered. Hierdie Donderdag kom hulle by ‘n baba uit wat verlam is, hulle vertel die ma van Jesus en vra weer vir Jesus in gebed om soos die vorige keer ook hierdie baba gesond te maak en weer verhoor Jesus hulle gebed, die baba begin sy bene en voetjies beweeg tot groot vreugde van die ma. Hulle vertel verder dat terwyl hulle vir die ma daarna bid was sy besig om in die een van hulle se Bybel te lees met die gevolg dat hulle die Bybel by haar gelos het. Hoe groot is God nie.




14 en 15 Januarie 2013

Ons begin ‘n bietjie besig raak, maar hier lyk dit of daar eers  9 uur begin werk word, want jy kry niemand in die hande voor 9 uur nie en dan na 1 uur is almal weer soek. Maandag 10 uur ‘n personeelkerkdiens gehad, Petrus is weggeroep na ‘n halfuur, Alta en Ma het na ‘n uur geloop, toe was hulle nog besig om te sing, wat ons kom hoor was hulle tot 12 uur besig. Maandagmiddag het ons ‘n vergadering gehad met almal betrokke oor die verandering in die een huis waar Alta verantwoordelikheid gaan neem vir 8 seuntjies. Maandagaand het ons die weeklikse personeelvergadering gehad waar ons drie  so ‘n groot ‘slab choclate’ gekry het omdat ons nuut is en hulle kan nie van der Merwe reg uitspreek nie. Daarna het die Afrikaanse meisie by ons kom eet aan die vis wat ons Sondag in die ‘doggiebag’ teruggebring het. Alta het van die maroelas van die boom in ons tuin konfyt gemaak, heel lekker.
Dinsdag het ons die dag begin met hoë humiditeit, later met die rondbeweeg op die terrein het Petrus so 2 keer natgereent maar dit het nie werklik ‘n verskil gemaak aan die hitte nie  en dit help nie om droog aan te trek nie, jy bly maar nat. Daar was so 2 donderslae en 12 uur trek hier ‘n bui reen los wat vir ‘n uur plus net val. Later het ons eers gesien hoe alles verspoel het. Alta is ook besig om gordyne te maak vir die kamer waarna die 8 seuns verskuif word.