(K005) Bedrukte of vrolike lewe – Spr 15:15

Hoe is jou lewe tans? Is jy bedruk en depressief of is jy gelukkig en lewe ‘n vrolike lewe? Leef jy in donkerte met alles wat gebeur in die wêreld om jou of lewe jy in die lig van Jesus? Kyk wat sê die Woord van God



Spreuke 15:15 NLV “Vir die bedrukte mens bring elke dag net probleme. Vir die blymoedige mens is die hele lewe ’n fees.”

Bedrukte mens – magtelose (AFR20) – vir hierdie mense is die lewe sleg en vol probleme maw donker – hulle probleme word elke dag net meer en daar is nie enige vooruitsig op iets beter in die toekoms nie.

Blymoedige mens – vrolikheid van hart (AFR20) – vir hierdie mense is die lewe een groot fees maw lig – hulle geniet die lewe, het goeie verwagtinge vir die toekoms.

Kom ons gaan kyk na die Bybelse donker en lig

Luk 11:34 Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan reg is, is jou hele liggaam ook verlig; maar as dit verkeerd is, is jou liggaam ook donker.

Wat sien jy met jou oë – liggaamlike oë en geestelike oë?

  • Sien jy net donker?

Jy kyk in die nuusmedia en sien die hele wêreld en jou eie land is in chaos, daar is geen toekoms vir die mens nie.

  • Of sien jy lig?

Die Here se goedheid en ‘n gelukkig lewe vol vrede en voorspoed.

Wie is die donker in die wêreld?

Efs 6:12  Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.

Die duiwel is die donkerte in die wêreld.

Die duiwel is in beheer van die wêreld hier op die aarde, hy het die beheer van Adam en Eva gesteel deur hulle te verlei.

Dit is sy doel om almal in die wêreld te onderdruk en weg van God te hou.

Wanneer kinders van God se aandag op die donker gefokus word, breek dit hulle af en hulle sien net die donker en verloor hulle, hulle fokus wat op God behoort wees.

Wie is die lig in die wêreld?

Joh 1:4-5  In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense. En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie.

Hierdie gedeelte gaan oor Jesus en ons sien ook in –

Joh 8:12  En Jesus het weer met hulle gespreek en gesê: Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.

Jesus is die lig in die wêreld.

Waar Jesus is, is daar lig. Soos wanneer ‘n lig aangeskakel word verdryf dit die donker, so is dit ook in die wêreld wat ons lewe, waar Jesus is, is daar lig en die duiwel vlug.

Wat is Jesus se waarskuwings vir ons oor die duisternis?

Joh 12:35  En Jesus sê vir hulle: Nog ‘n klein tydjie is die lig by julle. Wandel so lank as julle die lig het, sodat die duisternis julle nie oorval nie. En wie in die duisternis wandel, weet nie waar hy gaan nie.

Jesus maak dit baie duidelik dat ons in Hom moet wandel as ons van die duisternis wil wegkom.

Die ongelowiges struikel rond in wanhoop in die donker, maar die wat in Jesus is, loop in vreugde in Sy lig.

Hoe kom jy van die donker na die lig?

Joh 12:46  Ek het as ‘n lig in die wêreld gekom, sodat elkeen wat in My glo, nie in die duisternis sou bly nie.

Daar is slegs een pad, deur Jesus.

Jy moet weergebore word deur te glo en te verklaar dat Jesus vir ons sonde op die kruis gesterf het en dat God Hom weer uit die dood lewend gemaak het.

Ons sien dit ook in Jesus se opdrag aan Paulus met sy bekering –

Hnd 26:18 ANVJy moet hulle oë oopmaak sodat hulle hulle van die duisternis tot die lig en van die mag van die Satan tot God kan bekeer. Deur in My te glo, sal hulle sondes vergewe word en sal hulle deel word van die volk van God.’

Daarby ontvang ons die volgende waarskuwings –

2Ko 6:14  Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis?

Ons moet waaksaam wees dat dit wat in die wêreld gebeur en met wie ons kontak het, ons nie beïnvloed en weg van die Here en Sy lig trek nie.

Ons kom dit nie altyd agter dat ons weggetrek word nie, maar skielik sit ons in wanhoop omdat die Here se lig in ons gedoof is en verstaan ons nie hoekom ons so bedruk is nie.

Waar is ons basis?

Ons moet egter vashou aan die beloftes dat God ons altyd sal beskerm –

2Pe 2:9 ANV Die Here weet dus om dié wat Hom dien, uit beproewing te red, maar om die goddeloses te straf en vir die oordeelsdag gevange te hou.

Heb 13:6 Daarom kan ons met alle vrymoedigheid sê: Die Here is vir my ‘n Helper, en ek sal nie vrees nie; wat sal ‘n mens aan my doen?

Lees en verklaar ook Ps 91 oor jou wanneer jy bedruk voel.

In kort:

  • Vertrou op die Here en geniet die lewe. Joh 10:10
  • Skud die las wat die duiwel op jou wil lê van jou skouers af en geniet die lewe saam met die ander gelowiges. Hand 2:44
  • Praat mekaar moed in wanneer een se oë van Jesus afdwaal. 1 Thes 5:11
  • Wys die ongelowiges dat dit moontlik is om die lewe werklik te geniet en wen hulle vir Jesus.

Gebed

Vader U is groot, so groot dat dit bo ons verstand is

U is liefde

In 1Joh 1:5 verseker U ons dat U die lig is en daar geen duisternis in U is nie.

Dankie VADER vir U onbeskryflike liefde vir ons.

Dankie dat ons altyd op U kan staatmaak.

Dankie dat ons weet wanneer die wêreld se donker ons wil oorweldig, ons slegs na U kan kom vir ondersteuning om weer die lig ten volle te kan sien en belewe.

Dankie Vader

Amen