28Julie – 3 Augustus 2014

Dinsdagaand nooi ons ’n paartjie wat besoekers is. Wel eintlik is hulle sendelinge wat in die gemeenskap bly, Bella Vista. Jonk getroud nog nie eens ’n jaar nie. Hulle stories is uitsonderlik en hulle is baie braaf om in sulke omstandighede te leef.
Ons doen ’n program met die kinders in die middae om hulle besig te hou en goed te leer wat hulle nou nie juis in die skool leer nie. Ons het ’n leerling educator wat  net soos ons voel (nie dat die educators nie help nie), dat die kinders te min weet van wiskunde en lees. Hy het regtig die week sy kant gebring het, maar die kinders kla en wil nie meer programme na skool doen nie. Gelukkig sluit die skool die einde van die week.
Home group was oor ’n woord wat jy kies om op te konsentreer vir ’n tydperk tydens jou stilte tye. Daar is ook woorde uitgedeel en as jy wil, kan jy die woord gebruik of self een kies. Alta kry so die woord ‘boldness’ en Pertus ‘shh…’ Daar is nogal goed wat mens op die hart het en nie altyd die plek of veral moed het om te sê nie, dis nou vir Alta en baie snaaks, Petrus wat redelik min praat kry die woord om stil te bly, hy besluit om op luister te fokus aangesien hy moet stil bly. Voorbidding vir die sal waardeer word.

Een van ons klein seuntjies het waterpokkies, min en ver uit mekaar, 3 in die gesig, 3 op elke bene en vier op sy lyf en dit lyk ook nie of daar nuwes by kom nie. Dis ongeveer 3 weke sedert die laaste geval. Hy verstaan nie mooi waarom hy in isolasie geplaas is nie en is baie eensaam. Bid asseblief dat almal in die camarata beskerm sal word teen siektes en veral vir die kinders wat HIV positief is, is dit ’n groot risiko.



21 – 27 Julie 2014

Dinsdag het ons ’n vergadering met die base en die administrateur van die sentrum oor die dokumente wat ons nodig het vir verblyf permitte. Die proses is feitlik tot stil stand gebring deur nuwe wetgewing en ’n kantoor wat nie voorbereid is op al die ekstra werk nie. Daar is talle mense wat deur die proses geraak word en besoekers word terug gestuur of weggewys by lughawens op ’n daaglikse basis. Die sendelinge kry ook al minder verlenging vir visas.
Een van die seuns het vir die besoekers ’n ander naam as sy eie gegee, wat toe op hom boemerang. Hulle, ’n man en vrou van Amerika, koop toe ’n bal vir hulle en soek die kind en niemand weet van so ’n kind nie. Hulle kom saam camarata toe en help met ’n middag program en sy sê vir my dis dié kind en sê toe ook dat hy vir die kinders gesê het dat hulle almal in die camarata gaan neem vir pizza. Wel ons kan dit nie toe laat nie en hy word dus gestraf met geen verversings vir ’n week nie en hy moes almal om verskoning vra. Hy loop heel week met ’n suur gesig rond omdat hy nie snoepgoed kry nie.
Die groot seuns kom elke aand vir hulle snoepgoed. Hulle kom eet ’n brood en ’n half  met margarien, grondbonebotter en soek dan ook iets om te drink en dit alles na hulle aandete gehad het. Die 7 van hulle neem behoorlik die kombuis oor en jy kan nie glo hoe hulle kan mors nie. Hulle vee elke aand die kombuis, maar vergeet om die tafel skoon te maak en as hulle die skottelgoed was, is dit erg half en word dit nat weg gepak.
Vrydagmiddag bak Alta en een van die klein seuntjies, koek want Saterdag was dit sy verjaarsdag. Die Saterdag is daar ook sokker en ander spelletjies gereël en die partyjie is vroeg en vinnig verby, sodat hulle ook by die ander goed kan wees.
Dit gaan redelik met meeste van die kroniese siek kinders, daar is ’n paar wat nie beter word nie, maar dit gaan darem ook nie slegter nie. Bid asseblief vir die kinders wat ly as gevolg van hul ouers se sondes.

Bid asseblief ook vir die seun wat leuns vertel en dat hy sal besef dat dit hom nêrens gaan bring nie en dat ’n gees van waarheid met hom en al die ander sal wees.





7 – 20 Julie 2014

Daar word steeds geverf, die beddens is klaar en die vensterrame word begin. Ons het  positiewe kommentaar van een bestuurder oor hoe die dorm lyk, gekry.
Daar is probleme met die internetkoppelling en die spoed is stadig.
Die verblyfpermitte is verder ook ’n probleem, die konsulaat in Nelspruit wil toestemming vanaf Immigrasie in Maputo hê voor hulle ’n visa uitreik en die briewe is tans by Immigrasie vir goedkeuring. Mosambiek het begin vasskop oor toegang tot Mosambiek. Daar is probleme met instroming van mense na Mosambiek want daar is nou geld te maak in Mosambiek.
’n Besoekende pastoor van Australië praat interessant oor uitbranding Maandagaand en Woensdagaand gee ’n pastoor van America ’n praatjie. Hy vertel ons dat hy op 16 ’n gelowige geword het na ’n lewe van dwelms en alles wat daarmee gepaard gaan. Maar die intreressante is dat sy hele gesin, oupa en ouma ingesluit binne 3 maande hulle lewens aan Jesus gee.
’n Sendelingpaartjie van Noorweë met hulle 2 kinders is gedurende die week vir ’n paar dae Nelspruit toe. Daar het hy egter siek geword en die hospitaal beland. Ons het aangebied om hulle hierdie naweek, wat ons terug moet terug gaan SA toe, in Nelspruit  te gaan haal. Gevolglik is ons Donderdag hier weg SA toe en Vrydagoggend deur Nelspruit toe om hulle te kry en weer terug Marloth toe waar hulle die naweek saam met ons deurgebring het. Hulle kon nie regtig vasstel wat hom makeer nie. Hy vertel dat van hulle vriende in Noorweë hom laar weet het dat een ’n visioen gehad het waar ’n engel hom weg ruk van demone en ’n ander een dat hy ’n stem gehoor het wat sê dat hy gesond is. Byde het met hom binne ’n uur gekontak nadat hul die ervaarings gehad het en daarna het hy ’n verligting ervaar en begin om beter te voel. ( Hy het die vorige week of twee vir mense gebid en demone uitgedryf.)

Die kinders se reaksie was interresante, Donderdagmiddag terwyl ons pak daag die kinders by ons op en wil weet watter sendeling staan in vir ons by die dorm. ‘n Groot betoog gaan op na hulle hoor wie die sendeling is, want hierdie sendeling gee nie snoepgoed nie (die maag is die belangrikste en hulle is deeglik bewus wie gee en wie nie.)



30 Junie – 6 Julie 2014

Dit was ’n baie besige week. Die jong Suid-Afrikaners verf steeds beddens in die camarata. Daar is ook hulp van ’n paar meisies van Engeland en Amerika (dink dis  die jong boertjies wat die eintlike trekpleister is.) So tussen deur gaan hulle ook op uitreike en daar is nog ’n paar beddens wat verf benodig teen die einde van die week. Daar is hoop vir Suid-Afrika as alle jong mense van hulle kalliber is.
Ons het ook ’n noodhulplesing Dinsdagaand gehad van ’n besoeker. Die sendelinge was op hulle stukke en ons lê soos ons lag.
Donderdagaand is dit ons beurt om by die Oasis-span (die span van Natal) te eet. Voor ete bid hulle vir ons. Daarna was dit kerk en aan die einde van die diens word al die besoekers (± 30) gevra om vir elke kind, pastoor en sendeling te bid, ons vorm ’n ry en elke besoeker bid vir elk van ons. Dit is ’n ongelooflike ervaring behalwe vir die agtergrond musiek wat oorverdowend was en dit moeilik gemaak het om al die gebede te hoor.
Ons nooi al die Suid-Afrikaners om Vrydagmiddag saam te kom braai, enigste tyd wat oop is, aangesien die ouer groep (Oasis) elke aand etes voorsien aan sendelinge. Die grootbaas gee ook ’n bydrae vir ekstra vleis. Al is meeste van die klomp Engelssprekend, kuier ons soos net Afrikaners kan. Vrydagaand eet al die sendelinge saam met Oasis.
Die wat siek is raak bietjie minder, soos die waterpokkies en maagvirus die wyk neem. Ons bid steeds vir ’n paar ander wat kroniese siektes het en ook vir die dogterjie Lucia wat laas jaar so siek was. Daar steek ’n paar simptome kop uit wat ons op ons hoede plaas aangaande haar gesondheid.
Een van die grootseuns het Dinsdag verjaar en het ’n ete bestel saam met 10 van sy maats en ons het besluit om dit Vrydagaand te doen.
Ons word weer gevra om Sondag nog ’n ete vir so 50 mense te hanteer hier by ons huis.
Sondagoggend preek Amy Lancaster en sy hou tot die kleintjies se aandag met haar preek. Sondagaand het ons worship in die prayer room met wonderlike ondervindinge.
Dus het die week ernstige beplanning geverg om alles glad te laat verloop.

Woensdagaand hoor ons van ’n groep Amerikaners oppad na die Pemba Iris basis, wat by Pemba Lughawe toegang tot Mosambiek geweier is omdat hulle nie visums het nie. Al die lande waar Mosambiek konsulate het moet die besoekers hul visums daar kry voor hulle Mosambiek toe kom. Slegs besoekers van lande waar daar nie konsalate is nie mag tot in Mosambiek vlieg en by die lughawens visums kry. Donderdag word hulle op vliegtuig Suid Afrika toe en ons word ingelig dat die span by ons moes kom kuier vanaf Sondag tot Woensdag. 





23 – 29 Junie 2014

Dit gaan beter met die maaggriep en waterpokkies. Wil lyk of die meeste nou gesond is en nuwe gevalle is baie minder. Die baba wat in die hospitaal was, is ook terug en ook Kenssane is ontslaan uit die hospitaal, maar hulle is nog nie weer 100% nie en het nog gebede nodig.
Die kinders was baie opgewonde die hele week, hulle is genooi om Vrydag, by die presidentsvrou te gaan eet. Alta was besig om veral die skoen situasie uit te sorteer, vir die besoek, hulle klere wat hulle kinderdag gekry het, is goed vir die besoek. Wanneer hulle skoene nog goed is en hulle sien een kry ’n paar, dan breek hulle hulle sin sodat hulle ook nuwes kan kry. Ons kan nie sulke gedrag toelaat nie en die wat dit doen kry dan net nie skoene nie, maar ons kan hulle ook nie met vlenters na die presidentsvrou toe stuur nie. (Het Salomo se wysheid nodig.) 80 van die jonger kinders is saam met die educators en een van die sendelinge met die bus weg. Hulle is nie die dag skooltoe nie en het lekker geëet en is toe nog met speelgoed ook bederf.
Hier is ’n groepie van 6 jong Suid-Afrikaners van die Kaap waar hulle studeer, maar klink of meeste oorspronklik in Natal op plase gebly het. Hulle het aangebied om te help met verfwerk in die camarata en het begin om beddens te verf en dit sal gaaf wees as  hulle ook nog by van die vensterrame kan uitkom. Dan het daar ook ’n ander Suid-Afrikaansespan gekom. Hulle is van Howick en is ouer mense en hulle maak kos en dan kan die sendelinge saam eet. Een is ‘n ‘Auto Electrician’ en het aangebied om met die voertuie te help wat probleme in sy veld gee.

Die sendeling wat vir die kinders Engels geleer het, gaan vir so 3 maande huis toe. Die kinders is baie lief vir haar en sy bederf hulle baie. Almal is jammer om haar te sien gaan, maar ook baie bly dat sy bereid is om terug te kom. 



9 – 15 Junie 2014

Dis ’n bedrywige week, met die internet wat nie lekker werk nie en voorbereidings om die sokkerwêreldbekker opgestel te kry sodat die kinders die sokker op die grootskerm in die saal te kan kyk.
Kensanne, die Downsindroom dogterjie wat laas jaar die hartoperasie gehad het, het longontstekking en is in die hospitaal. Sy is baie swak en ons bid vir haar om gesond te word en goeie behandeling te kry. Almal se vriende, ondersteuners en familie bid saam.
Sommige van die kinders is erg opstroppelis en hou ons en die ‘educators’ besig. Bid asseblief vir insig en wysheid om hulle so te hanteer, dat hulle wyser uit die situasie sal kom.
Alta neem die nuutse sendelinggesin om ’n paar inkopies te gaan doen. Hulle kom van Noorweë met ’n dogterjie wat pas 2 geword het en ’n seuntjie van 7maande. Inkopies met die bus en twee klein kindertjies met net 1uur tyd in die winkels, is ’n uitdaging op sy eie, wat nog van taal en goed wat onbekend is en etikette wat alles eers gelees moet word in ’n ander taal as jou moedertaal.
Woensdagoggend kom Alta toe eindelik 11uur by die verf uit en laat die laaste venster oorstaan vir Saterdag. By Home Groep praat ons oor vergiffenis en hoe dit in verskillende kulture werk, met arbiters of nie. Een van die Mosambiekers vertel toe dat daar baie moeilike situasies is, wat hulle ondervind met voorvadergeeste en bindings. Hy vertel dat as die ouers op ’n stadium nie skuld kon betaal nie, ’n dogter as bruid belowe word en dat sy nooit daarvan weet nie. As sy dan trou werk die huwelik nie, omdat daar ’n spirituele huwelik was, wat dan probleme gee. Laat mens wonder wat alles oor die kinders is, waarvan ons geen benul het nie en wat die invloede daarvan is.
Donderdagaand na kerk begin die sokker en ons kyk die openingserimonie en die wedstryd tussen Brasil en Cameroen? Dis koud in die saal en kom laat in die bed, eers na 00:30. Vrydagaand begin die sokker vroeër en hou darem ook vroeër op.

Saterdagoggend is dit skoonmaak van die tuin en huis. Sondag is die ete vir die borge en die studente, wat hulle ondersteun en ons tuin en huis is die plek waar dit alles gebeur. Die kombuis het kos gemaak en ons het ’n slaai gemaak, tafels gedek en bedien en skottelgoed gewas. Daar bly baie kos oor veral vleis (hoender) en ons nooi al die sendelinge om Sondagaand te kom help minder te maak. Dis ’n heerlike kuier met net enkles wat nie kon kom nie.



16 – 22 Junie 2014

Kensanne is nog in die hospitaal en waterpokkies is oral tussen veral die kleiner kinders. Daar is ook opgooiery  en diaree by die babas. Hier is heelwat besoekers, maar die ‘Baby House’ en ‘Nursery’ is in afsondering, hulle mag nie by die babas en kleinkindertjies kom nie, dis om te voorkom dat dit verder versprei en veral die HIV kinders te probeer beskerm. Daar is ook ander kinders wat baie siek is en ons bid voortdurend vir hulle.

Die ‘missionary’ wat laas jaar in Oktober getroud is en haar Mosambiekse man, is terug nadat hulle ’n tyd lank in Oos Londen gewerk en opleiding gedoen het. Hulle wil spesifiek vir die kinders help. Hulle beplan om ’n program van berading, begeleiding, gebed en dissipelskap met die kinders te doen. Hulle praat veral met kinders wat sosiale- en gedragsprobleme het. Daar is ’n leemte op die gebiede en ons bid dat hulle met sy Mosabiekse agtergrond, beter begrip sal hê en so van groot hulp sal kan wees. Donderdag oggend ry ons saam met ’n ander paartjie Suid Afrika toe. Daar is ’n klomp goed wat gedoen moet word. Ons moet na die Mosambiek se konsulaat in Nelspruit toe gaan om verblyf permitte te probeer kry. Die plan is ook om die paartjie Wildtuin toe te neem, hulle was al 4 of 5 keer saam met ons uit, maar nog nooit in die wildtuin nie. Ons is baie geseën met baie diere en sien al die groot 5 behalwe ’n luiperd, maar sien darem jagluiperde en hiënas. Die enigste rus was Sondag.



2 Junie – 8 Junie 2014

Maandag en Dinsdag is die groot opruim en wegpak en skoonmaak na kinderdag. Daar is ook broeke wat korter en die bene wat nouer gewerk moet word. Ons eie goed kry ook die nodige aandag nadat dit ’n ruk lank met tweede plek te vrede moes wees. Die Dinsdagmiddag se program met die kinders was vir ten minste een ’n deurbraak. Ons doen somme met ’n legkaart. Alta verduidelik en hulle wil kortpad vat  en opgee maar sy sê nee, doen dit reg. Hulle kry koeldrank doppies om die tellery te doen, vir een het die doppies nie gewerk nie. Alta het eers nie verstaan wat aangaan nie, want hy duik kort-kort onder die tafel in, maar vir hom het sy vingers en tone beter gewerk en toe die  verstaan kom, blom die gesiggie.
Woensdagoggend word Alta gevra om een van die sendelinge na die Trauma Sentrum toe te neem, dit lyk of sy met nierstene sukkel en verduur baie pyn. Die hele dag word daar gespandeer van 9uur die oggend tot 8uur die aand en sy nog steeds pyn gehad. Ons was ook genooi vir die middag na ’n verjaarsdagviering van die sendeling wat in die gemeenskap woon se huis. Alta mis dié met die hospitaal storie, maar Petrus verteenwoordig ons en kry sy sny koek. Home group is ’n film van ’n ware verhaal van vergiffenis, ‘Railway Man’
Woensdagmiddag begin die rekenaarnetwerk probleme gee en Petrus sukkel 2 dae om dit weer behoorlik te laat werk.

Saterdagoggend kry Alta uit eindelik tyd om die vensters en die deur se roeskolle te verf, maar die witverf  is toe blou. Maar die deur kry toe eerste kans om ’n laag ligbruin verf te kry. Teen 5uur is die meeste geverf en dit moet eers oorstaan tot Maandag vir die tweede laag. ’n Besoekende span  reël ’n spelletjiesaand vir die sendelinge Saterdagaand. Ons geniet dit en lag lekker



26 Mei – 1 Junie 2014

Na ’n kort kuiertjie saam met van ons eie kinders, keer ons Maandag terug Zimpeto toe. Vanaf aankoms 2 uur word ons besig gehou, die netwerk en internet is van die naweek af (net 1 punt was af), die kinders soek aandag, ens.
Die res van die week gaan oor voorbereiding vir Kinderdag, 1Junie, ’n groot gebeurtenis in Mosambiek (net soos Kersfees). Die kinders kry presente bestaande uit ’n speelding of twee en klere, die dorms word opgemaak met ballonne ens. Op die dag word die kinders vermaak en getrakteer met ’n spesiale ete (rys, gebraaide hoender en slaaiblare).

Ons dorm word egter uitgenooi na die Afrikaanse kerk in Matola vir die oggend en ons kry toestemming om hulle te vat, want die grootste gedeelte van Kinderdag vind eers die middag na kerk plaas. So vertrek ons Sondagoggend 08:00 met 3 voertuie, 22 kinders, 2 personeellede en ons 3 sendelinge. Die oggend se gebeure vind plaas by die nuwe terrein, waarheen die kerk binnekort verskuif, onder groot bome in ’n groot tuin. Daar is pragtige koelte waar ons sit, maar ongelukkig waai daar ’n windjie en die meeste sit en koud kry tot die wind gaan lê, waarna almal sweet want die temperatuur klim na 31°C. Die meeste van die geleentheid word in Engels gedoen en vertaal na Portugees. Daar is ’n poppekas en ‘n geleentheid vir die kinders om ’n spieëltjie of 2 of 3 te versier na die kort preek oor die Woord wat jou spieël as Christen is. Daarna kry almal koek (’n Mosambiek-tradisie), worsbroodjies vir die kleiner kinders en hamburgers vir die res. Die groot seuns trek hulle neuse op vir die hamburgers en eet net een, maar die kleintjies laat nie op hulle wag nie en verslind ook ’n hamburger na die worsbroodjie. Ons het die kinders die Afrikaanse liedjie ‘Ons sê baie dankie, vir die lekker dag’ geleer en dit het groot reaksie by die Suid Afrikaners uitgelok. Moet sê die uitspraak was nogal redelik goed. Oppad terug kry ons probleme met een bakkie se koppelaar wat nie altyd wil werk nie, jy moet jou voet onder die pedaal in haak en dit terugruk sodat dit weer hak en werk. Die jong Irse sendelinkie kry haar opleiding hoe om ’n halfwerkende voertuig van Africa in Africa te bestuur. Dit was ’n baie geseënde dag vir almal, met nog feesvierings toe onsterug kom en ’n ete van hoender, rys en slaai. Die besoek aan die camerata loop ook goed af en Petrus se verjaarsdag word nie vergeet nie en hy word op ‘n bankie in die lug gehou, gelukkig nie op-en-af geskud nie.





12 – 18 Mei 2014

Maandag en Dinsdag verloop normaal met die gewone dinge.
Daar is ’n groot naambord met ligte voor die sentrum deur ’n kontrakteur opgesit. Daar is elke keer iets met die woorde verkeerd na dit opgesit is en die laaste keer het net ‘n gedeelte se ligte geflikker en die res het geen lig gehad nie. Hierdie keer toe hulle dit afgehaal het en oopgemaak het, roep die onderhoudsbestuur Petrus om te kom kyk na die elektriese werk. Dit is ’n interresante opset en hulle verklaring, dat die ligte nie almal werk nie, is dat die spanning te laag is. Voor daar iets aan gedoen kan word, het hulle die bord weer aan mekaar en opgesit en enige verdere probleme is nou die sentrum sin. 
Met Donderdagaande se dienste gee hulle ’n teksvers wat die kinders moet memoriseer. Meeste van die tyd doen hulle dit in ’n soort van aflos-wedren-styl tussen die seuns en meisies. Ons kry elke keer die eer om  agter te staan om die kinders wat vorentoe te moet hardloop te beheer. Donderdagaand was die vers agter harte op 2 borde versteek en 8 dogters en 8 seuns moet die harte verwyder totdat die vers leesbaar is en die kompetiesie is sterk. Die dogters wil elke keer wen en dis ’n taak om hulle te laat stil staan totdat die een wat vorentoe is, terug is, voordat die volgende een kan hardloop. Die dogters begin al hardloop as die ander een omdraai, maar daar is geen manier wat Alta hulle kry om te wag tot die een by hulle is nie met die gevolg dat die seuns, wat dit reg doen, altyd verloor.
Saterdagoggend is daar ’n doopgeleentheid gerëel in die see, daar sou 8 uur gery word, maar selfs die pastore was nie betyds nie. Dis koud met ’n ysige wind wat waai. Teen 9uur vertrek die bus, maar die verkeer is druk en ons ry staan staan en is teen 10:15 op die strand. Op die strand is die wind nog kouer en hulle begin eers sing en bid en bietjie inligting word gegee voordat hulle die see in loop. Dis nogal ver wat hulle moet loop, hooggety was 6uur die oggend. Daar is so 20 wat gedoop wil word. Hulle staan in ’n ry en loop nader tot waar die pastore so 70cm diep in die water gestaan het. As hulle terug loop staan daar nog ’n pastoor en sy vrou reg om weer vir hulle te bid. Hulle bibber en trek weer net daar op die strand voor almal uit en aan.
Terug by die sentrum na ons ’n draai in die winkels gaan maak het, maak ons reg vir die braai en spelletjies saam met die sendelinge.

Sondagoggend preek ’n besoeker en dit is ’n baie goeie preek. Daar is ’n sokkerwedstryd in die naby geleë stadium en daar is kaartjies vir ’n klompie en van die groot seun gaan kyk na die wedstryd tussen Mosambiek en Suid Sudan. Mosambiek het 5 – 0 gewen.

Die elektriese werk

 Die doop