(P008) Lewe van oorvloed in goeie gesondheid

Om ‘n lewe van oorvloed te kan geniet moet jy ook gesond wees.

Is jy gesond of word jy aangeval met siekte?

Hoeveel dra jy by tot die siekte wat jy ondervind?



Jesus belowe ons lewe en in oorvloed.

Joh 10:10 AOV Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.

Die ‘hulle’ waarna Jesus verwys, is ons wat weergebore is en al hier op die aarde die ewige lewe ontvang om in te lewe.

Joh 5:24 AOV Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.

Ons wat weergebore is, het alreeds die ewige lewe nou hier op die aarde, want ons het uit die dood in die sonde waarin ons was, oorgegaan na die lewe in Jesus. (Joh 17:3)

Waarop dit neerkom is dat ons ‘n lewe van oorvloed nou al hier op aarde kan geniet, indien ons weet hoe om binne God se waardestelsel (geestelike reêls) te lewe en wat se mag ons teen die duiwel en sy invloed het.

Lewe van oorvloed sluit in ‘n lewe met goeie gesondheid in.

Die eerste faset om in oorvloed te lewe, is met goeie gesondheid, liggaamlik en geestelik.

Belangrik, dit is nie God wat ons ‘n siekte gee om ons te straf, omdat ons verkeerde dinge (sonde) doen nie of te toets om te kyk of ons betroubaar of goed is nie of om ons iets te leer nie.

Daar is egter verskillende omstandighede wat ons gesondheid kan beïnvloed en dit is soos volg:

God se waardestelsel vir die mens:

God het die menslike liggaam ontwerp om op ‘n sekere manier goed te funksioneer en die mens kan dit nie verander nie.

Hierdie ontwerp vir die liggaam, is dieselfde vir almal en is goed, want God maak nie foute nie en doen nie halwe werk nie.

Gén 1:31 AOV Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en—dit was baie goed.

Almal kan liggaamlik en geestelik gesond wees tot ‘n hoë ouderdom wanneer die liggaam hier op die aarde sterf en die siel en gees oorgaan na die geestelike wêreld waar God en Jesus is, indien jy weergebore is, of andersins die hel van ewige verlorenheid.

Die mens kan egter die liggaam en siel beïnvloed om nie goed te funksioneer soos God dit gemaak het nie, wanneer die balans wat nodig is nie nagevolg word nie.

Wanneer dit gebeur en die liggaam of siel begin wanfunksioneer, sê ons die liggaam is siek of daar is ‘n geestelike afwyking.

Hoe kan die mens sy liggaam of siel beïnvloed?

Ons eetgewoontes en die kos wat ons eet of dit wat ons drink:

  • Die liggaam ontvang sekere stowwe wat benodig word uit die kos wat ons eet en om van ‘n redelike dieet af te wyk kan die liggaam benadeel. Dit is nie nodig om elke dieet wat aan jou voorgehou word, slaafs  te probeer na volg nie, dit is gewoonlik ook nie gebalanseer soos beweer word nie. Aan die anderkant moet jy darem jou gesonde verstand gebruik om te weet dat gemorskos wat lekker smaak, nie elke dag geëet kan word nie, want dit bevat nie wat die liggaam nodig het nie.
  • Voedsel word vandag gegroei of gemaak vir die massamark op maniere wat vir ons onbekend is en dalk nie altyd so voedsaam is as wat ons nodig het nie, maar God sê vir ons in –

1Ti 4:3-5 ANV Hulle [dit is dwaalleraars] verbied mense om te trou en om bepaalde soorte kos te eet. Maar God het die voedsel gemaak, sodat dié wat glo en tot die kennis van die waarheid gekom het, dit met danksegging kan gebruik. Alles wat God gemaak het, is immers goed. Niks wat met danksegging ontvang word, is verwerplik nie, want dit word deur die woord van God en deur die gebed geheilig.

Dit is hoekom ons altyd voor ons eet, God dank vir die kos en vra dat dit geseën word. Dan weet ons dat die kos wat ons gaan eet die nodige voeding sal gee, al is die inhoud in die kos onbekend, want God sal daarvoor sorg. Hierdie sluit gemorskos en roomys in, maar ons moet die balans hou en dit nie elke dag eet nie.

  • Dieselfde is van toepassing op wat ons drink. Daar word baie gepraat dat ons genoeg water moet drink, maar is die water wat by ons uitkom gesond of nie? Ons drink dit in die geloof dat God dit sal seën in die liggaam. Mense drink koffie, tee, koeldrank en alkoholiese drankies. Hierdie drinkgoed is nie ‘n probleem nie, solank dit gebalanseerd gebruik word, maar die oomblik wanneer dit in oormaat gebruik word, is dit negatief vir die liggaam.
  • Die hoeveelheid wat ons eet het ook ‘n direkte invloed op die liggaam. Ons liggaam is ontwerp om aan sekere vereistes te voldoen om goed te funksioneer, dit sluit ons gewig in. Wanneer jy ondergewig is, kry die liggaam nie genoeg van die stowwe wat dit nodig het nie en wanneer jy oorgewig is kry die liggaam meer stowwe wat dit nodig het en word dit wat nie nodig is nie, in bv vet omgesit. In beide gevalle is dit negatief vir die liggaam en kan dit wanfunksie veroorsaak wat tot siektes ly. Voorbeeld: met oorgewig moet die hart harder werk om die bloed deur die liggaam te sirkuleer wat die hart negatief beïnvloed, daar is baie siektes wat deur oorgewig veroorsaak word en voorkom kan word indien jy jou inname van kos beheer, deur die hoeveelheid en soorte kos.

Inkort jou liggaam waarsku jou wanneer dit iets nodig het, kos of drinkgoed en waarsku jou ook wanneer dit genoeg gekry het. Maw. Hou op eet wanneer jy versadig is en drink veral water wanneer dit warm is en jy begin sleg voel.

Die volgende is oefening:

  • Oefening is baie nodig vir die liggaam, maar daar moet ook ‘n balans hiermee wees.
  • Teveel oefening en ‘n oormaat van sport beoefening, kan jou liggaamsdele soos gewrigte en spiere beskadig. Dit kan ook verslawend wees, die liggaam stel adrenalien vry met oefening en wanneer die oefening gestaak word dan veroorsaak die tekort aan adrenalien negatiewe reaksies by die persoon net soos ondervind word met verslawing aan dwelmmiddels.
  • Te min oefening is ook nie goed nie, oefening help om die liggaam se spiere en gewrigte te ontwikkel en soepel te hou. Gebalanseerde oefening verbrand stowwe wat teveel ingeneem is en die liggaam nie nodig het nie. Oefening kan voorkom dat jy moeilik beweeg en of oorgewig raak.

Nodige rus vir die liggaam en siel:

  • Die liggaam en siel (brein/bewussyn) is ontwerp om elke dag vir ‘n sekere tyd (6-8ure) te rus.
  • Daar is nie so-iets, soos ek het net 2 of 3 ure slaap nodig, nie.
  • As mens na die lengte van ‘n nag kyk wat God gemaak het, is dit gemiddeld so tussen 8 tot 12 ure afhangende van die seisoen en waar op die aarde jy is. Dit is die tyd wat God voorsien het vir ons om te rus, want daar was in die begin nie voldoende lig in die nag om iets te doen nie. Dit was eers na elektriese ligte onwikkel is, dat dit moontlik was om die nagte korter te maak.
  • Die liggaam en siel moet ook rus om ‘n gesonde liggaam en geestelike lewe te hê.
  • Verder het God ook bepaal dat die mens elke sewende dag uit ‘n week nie met sy normale werk aangaan nie en rus of ander dinge doen. Dit is hoekom daar 7 dae in ‘n week is soos God dit geskep het in Genesis, ses dae om te werk en een om te rus.

Enige afwyking van hierdie voorskrifte oor langer tydperke gaan die gesondheid van die liggaam en siel ernstig benadeel, veral op die mens se geestelike vlak.

Lewe van spanning ook genoem stres:

  • God het elkeen uniek ontwerp en het vir elkeen ‘n doel hier op die aarde. Hy het verder vir elkeen die regte talente gegee om hierdie werk of doel vir Hom uit te voer. Wanneer jy dus gaan begin om self dinge vir jou op te laai, wat God nie vir jou beplan het nie, gaan daar spanning in jou begin opbou omdat jy sukkel om suksesvol te wees. Die algemeenste voorbeeld is, jy is in die verkeerde werk en kan nie byhou nie of jou werk geniet nie.
  • ‘n Ander vlak van spanning, is jou bekommernis (vrees) oor wat om jou gebeur; by die huis, jou omgewing, jou land en die wêreld. Hierdie is buite jou beheer en jy is bang vir wat kan gebeur en dat dit ‘n direkte invloed op jou lewe gaan hê.
  • Al hierdie soorte van spanning gaan jou liggaamlik en geestelik, negatief beïnvloed met gesondheidsprobleme wat gaan volg. Niemand kan in spanning lewe oor ‘n lang tydperk en nie een of ander siekte ontwikkel nie.

Al wat jy hieraan kan doen is om eerste God se doel vir jou te bepaal en dan daarmee aan te gaan.

Met alles wat om jou gebeur kan jy slegs jou vertroue in God plaas om jou te beskerm. Kyk minder TV en luister en lees minder nuusberigte. Lees meer God se Woord en laat die wêreld se probleme aan Hom oor om te hanteer.

Sonde wat ons doen of ons voorgeslagte gedoen het:

  • Wanneer daar gepraat word dat siekte deur sonde veroorsaak word, wil niemand dit hoor nie en gryp dadelik na Joh 9:2-3, waar Jesus sê die man wat blind gebore is, was nie agv hy of sy ouers wat gesondig het nie.

Daar is egter baie Skrifgedeeltes waar Jesus iemand gesond gemaak het en hulle sonde vergewe het. Joh 5:2-14, Mar 2:5-12, Mat 9:2-7, ens.

Dan ook in die brief wat Jakobus geskryf het –

Jak 5:14-16 AOV Is daar iemand siek onder julle? Laat hom die ouderlinge van die gemeente inroep, en laat hulle oor hom bid nadat hulle hom in die Naam van die Here met olie gesalf het. 15 En die gebed van die geloof sal die kranke red, en die Here sal hom oprig. Selfs as hy sonde gedoen het, sal dit hom vergewe word. 16 Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag.

Die laaste gedeelte van vers 15 wys dat siekte kan ook aan sonde gekoppel word en vers 16 koppel weer siekte direk aan sonde.

  • Nie alle siekte word kan aan sonde gekoppel word nie, soos ons vroeër gesien het dat liggaamlike en geestelike siekte kan voorkom wanneer ons nie binne God se waardestelsel vir die mens bly nie.
  • In 1 Joh 1:8-9 word vir ons gesê, dat na ons weergebore is, sal ons steeds sondig, maar as ons dit bely sal God ons vergewe. Waarop hierdie neerkom is, ons gaan steeds verkeerde dinge doen na weergeboorte, maar as ons hardnekkig aangaan met die verkeerde dinge en nie omdraai terug na God toe nie, gaan ons God se seën verloor, want God kan nie sonde seën nie.

Om buite God se seën te wees beteken, dat ons buite God se beskerming is en die duiwel kry toegang om ons direk aan te val, waarvan siekte een manier van aanval is.  

  • Die duiwel val jou aan deur jou siel (gedagtes). Hy vertel jou leuens of hits jou aan om jou gedagtes van God af weg te neem en om minder liefde aan jou medegelowiges te bewys. Jou gedagtes, veral as jy heeldag daaroor tob, kan jou liggaam so beïnvloed dat siektes in die liggaam kan manifesteer.

‘n Voorbeeld is: onvergewensgesindheid teenoor iemand wat iets verkeerd aan jou of iemand naby aan jou  gedoen het. Wie is jy om nie te vergewe nie, ongeag wat die persoon gedoen het, God het al jou sondes vergewe deur Jesus wat vir jou sonde gesterf het. Hierdie onvergewensgesindheid veroorsaak spanning in jou en gaan aan jou vreet soos kanker en jy gaan heel moontlik opeindig met kanker wat jou gaan doodmaak.

Ander voorbeelde is:

  • die gebruik van dwelmmiddels en dit wat jy doen wanneer jy onder die invloed is,
  • dronkbestuur en ‘n ongeluk wat moontlik kan gebeur waar jy en ander dood kan wees of geskend vir die res van jou of hulle lewe,
  • Wilde lewe van vrye seks met baie ander en eindig met geslagsiektes of VIGS.

Daar is nog vele voorbeelde, maar die eindpunt is, of jy weergebore is of nie, jy gaan die gevolge dra vir wat jy doen – dit wat jy saai gaan jy oes.

  • Wanneer dit by kinders kom wat gestrem gebore is of ‘n ernstige siekte, soos kanker kry, hoekom gebeur dit?

Een ding is seker, dit is nie God wat verantwoordelik daarvoor is nie, God maak nie foute nie en straf nie onskuldige kinders nie.

Voorbeelde van optrede deur ouers wat kinders se gesondheid kan beïnvloed:

  • Ma wat baie alkohol gebruik met swangerskap kan veroorsaak die kind met die alkoholsindroom gebore word.
  • Ma wat dwelmmiddels gebruik gedurende swangerskap kan ernstige afwykings by die baba veroorsaak.
  • Ouers wat nie behoorlik na die kinders omsien nie, swak voeding, kind in gewelddadige huishouding, kind wat verwaarloos word, kind wat mishandel word, ens. gaan nie ‘n normale kind, liggaamlik en geestelik meebring nie.

Niemand weet wat ‘n ander in die donker doen of in die verlede gedoen het nie, behalwe God. Die enigste moontlikheid om ‘n antwoord te kry hoekom jou kind ‘n vloek dra, is om die Heilige Gees te vra indien jy nie reeds weet nie.

Ons weet of verstaan ook nie altyd hoe groot invloed ons optrede en lewens op ons kinders se lewe het nie en dat baie dinge waarmee hulle sukkel eintlik kom as gevolg van ons en die voorgeslagte se optrede.

Ons weet ook dat Jesus alle vloeke vir ons aan die kruis gedra het en dat ons wat weergebore is vry van enige vloek van die verlede is en die ouer staan in vir die kind tot die kind oud genoeg is om self verantwoordelikheid vir julle lewe te neem. Gal 3:13

Hoe om siekte te hanteer en daarvan ontslae te raak:

  • Soek die oorsaak van die siekte, elke siekte het ‘n oorsaak, bv. lewensstyl van rook, longkanker of kort aan asem, ens.
  • Maak veranderinge om oorsaak van siekte te verwyder, bv. verander lewensstyl (eet minder), hou op rook, begin oefen, ens.
  • Wanneer daar sonde betrokke is, hou op daarmee, bely dit teenoor God en vra vergiffenis (1Joh 1:8-9).
  • Jesus het klaar vir ons sonde aan die kruis gesterf en hierdie sonde sluit siekte in (1 Pet 2:24). Dit is in die verlede tyd, so ons moet dit net glo en bevestig met ons mond, dat Jesus al ons siekte weggeneem het.  Spreek die siekte aan om ons liggaam te verlaat. Jesus het ons die mag daarvoor gegee (Mar 16:17-18)
  • Omdat die liggaam van Jesus vir ons gebreek is, kan ons daagliks nagmaal gebruik (soos medisyne) om ons geloof te versterk vir genesing wanneer ons met ‘n siekte sukkel.

Ter afsluiting:

As jy ‘n lewe van oorvloed in goeie gesondheid wil hê:

  • Lewe volgens God se waardestelsel,
  • Vermy sonde en indien jy verkeerd doen, stop dit en bely dit teenoor God,
  • Probeer om ‘n goeie voorbeeld vir jou kinders te wees binne God se waardestelsel.
  • Gebruik die magte wat Jesus vir jou gegee het om siekte uit jou lewe te verwyder.

 Gebed:

  • Danie Vader vir U liefde,
  • Dankie Vader vir Jesus, wie vir ons sonde en siekte gesterf het,
  • Dankie dat ons die mag ontvang het om siekte en die duiwel teen te staan,
  • Dankie dat ons ‘n lewe van oorvloed al hier op die aarde kan lewe,
  • Lei ons deur U Gees om volgens U waardestelsel te lewe,
  • Ons vra dit in die Naam van Jesus Christus,
  • Amen



(P007) Lewe van oorvloed

Jy is weergebore en ‘n kind van God maar jy het nie ‘n lewe in oorvloed nie. Wat beteken dit om ‘n lewe van oorvloed te hê.

Jou gesondheid is nie na wense nie, daar is min liefde, baie konflik en geen plesier in jou lewe nie, saam met altyd ‘n te kort aan geld.

Jy lewe nie ‘n lewe van oorvloed nie.



Jesus belowe ons lewe en ‘n lewe in oorvloed.

Joh 10:10 ANV ‘n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.

Die ‘hulle’ waarna Jesus verwys, is ons wat weergebore is en al hier op die aarde die ewige lewe ontvang om in te lewe.

Joh 5:24 ANV Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie, maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan.

Ons wat weergebore is, het alreeds die ewige lewe nou hier op die aarde, want ons het uit die dood in die sonde waarin ons was, oorgegaan na die lewe in Jesus.

Waarop dit neerkom is dat ons ‘n lewe van oorvloed nou hier op aarde al kan geniet, indien ons God se opdrag nakom, weet hoe om binne God se waardestelsel te lewe en wat se mag ons teen die duiwel en sy invloed het.

God se opdrag aan ons Sy weergebore kinders:

Ons word weergebore en kinders van God (Gal 3:26) wanneer ons Jesus as ons verlosser aanneem deur te glo in ons hart en te bely met ons mond dat Jesus vir ons sonde aan die kruis gesterf het en dat God Hom uit die dood opgewek het.

God het dan ‘n opdrag aan ons wat ons sien in 1 Joh 3:23-24

NLV En dit is sy opdrag: Ons moet glo in die persoon van sy Seun, Jesus Christus, en ons moet mekaar liefhê, net soos Hy aan ons die opdrag gegee het. Wie sy opdragte gehoorsaam, leef in ’n hegte verhouding met God en Hy op sy beurt met daardie persoon. Hieraan weet ons dat Hy in ’n hegte verhouding met ons leef: aan die Gees wat Hy aan ons gegee het.

Hier sien ons God se opdrag aan ons is, om te glo in Jesus Christus en om mekaar, mede gelowiges, lief te hê.

Wanneer ons dit doen, leef ons in ‘n hegte verhouding met God en dit is ook wat God verlang. Deur Jesus se offer word ons nie net gered van ons sonde nie, maar die verhouding tussen God en ons word herstel.

Wat is God se waardestelsel of geestelike wette?

God het alles, die mens en die natuur ontwerp. Die mens en natuur funksioneer binne sekere reëls en niemand kan dit verander nie. Voorbeelde:

  • In die natuur is water nodig vir plante om te groei, mense en diere lewe van die plante as voedsel en het ook water nodig om te lewe. So water is nodig vir alles om te lewe, vat water weg en alles sterf of besoedel die water en alles word siek en sterf ook aan die einde. Teveel of te min water het ook ‘n invloed op die gesondheid van alles, daar is ‘n balans wat gehandhaaf moet word om suksesvol te funksioneer.
  • Vir die mens en ook vir diere is daar ‘n balans nodig om suksesvol te lewe, wanneer hierdie balans versteur word begin daar probleme ontstaan.
  • Fisiese balans by die mens is die liggaam wat fisies uitgeput word en dan moet rus. Jy kan nie onbeperk beweeg sonder rus nie, want jou liggaam gaan ingee en wanneer jy net rus sonder enige beweging dan kwyn jou spiere, daar is ‘n balans tussen beweging en rus.
  • Geestelik is daar ook ‘n balans tussen die aanbidding van God en die geniet van die wêreldse dinge, soos om vis te vang, wanneer visvang meer aandag as God in jou lewe kry, dan word visvang jou afgod.

Watter mag het ons teen die duiwel en sy invloed op ons:

  • Die duiwel is steeds besig om ons te mislei en aan te val waar ons vir hom ‘n opening gee, maar baie gelowiges weet baie min van die invloed wat die duiwel op ons het, omdat hulle dit nie geleer word deur geestelike leiers nie en self ook nie verstaan wat hulle oor die duiwel in die Skrif lees nie.
  • Dan is daar die wat glo dat die duiwel nie regtig bestaan nie, hulle ken en verstaan glad nie die Woord van God nie, kan selfs sê hulle glo nie regtig die Bybel is God se Woord wat deur die Heilige Gees geïnspireer is nie en hulle verstaan ook nie dat daar ‘n geestelike dimensie is nie.
  • Jesus het ons, die gelowiges wat weergebore is, mag oor die duiwel gegee want Hy het die duiwel oorwin met Sy dood aan die kruis en opstanding uit die dood.
  • Ons lees wat Jesus gesê het in Mar 16:17-18

(ANV) Die volgende wondertekens sal voorkom by dié wat glo: in my Naam sal hulle bose geeste uitdrywe; in ander tale sal hulle praat; met hulle hande sal hulle slange optel, en as hulle iets drink wat dodelik giftig is, sal dit hulle geen kwaad doen nie; hulle sal siekes die hande oplê, en dié sal gesond word.”

en Joh 14:12

(ANV) Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan.

Baie gelowiges glo dit nie of beweer dat hierdie magte saam met die Apostels uitgesterf het, wat nie die waarheid is nie, dit staan nêrens in God se Woord dat hierdie magte gaan ophou solank ons op die aarde lewe nie.

Wie is reg, die hierdie gelowiges of die Woord van God? Ek glo die Woord van God en nie die van mense nie. Die Woord sê as ek glo, sal ek in die naam van Jesus dieselfde mag hê as wat Hy hier op die aarde gehad het en selfs meer.

  • Indien ons hierdie mag wat Jesus ons gegee het nie gebruik nie, laat ons die duiwel toe om ons te beheer waar daar ‘n opening vir hom kom. Jesus het ons die mag gegee om die duiwel teen te staan en ons moet self besluit of ons daardie mag gaan gebruik of nie.

Wat is alles betrokke by ‘n lewe van oorvloed?

Kom ons kyk na praktiese dinge in ons lewe, wat ‘n lewe van oorvloed kan keer:

  • Jou gesondheid, wanneer jy enige siekte of gebrek het,
  • ‘n Gebrek aan liefde van of aan ander en eensaamheid,
  • As daar geen of min vrede in jou lewe is,  
  • Geen of min plesier in jou lewe,
  • Jy het ‘n tekort aan lewensmiddele.

In lesings wat op hierdie een volg sal daar in meer diepte na elkeen van hierdie 5 punte gekyk word.

Gebed:

  • Dankie Vader vir U liefde,
  • Dankie dat ons deur Jesus gered is van sonde,
  • Dankie dat ons verhouding met U herstel is,
  • Dankie dat ons deur U Woord weet, dat ons die ewige lewe saam met U ontvang het en dat dit al hier op die aarde begin terwyl ons nog hier lewe,
  • Dankie dat U vir ons ‘n lewe van oorvloed gee,
  • Dankie Vader,
  • Amen



(P006) Nuwe Testamentiese Kerk en wette

Wat is God se wil vir jou? Ontvang jy die korrekte opleiding van wat God van jou verlang en wat Sy waardestelsel is of is dit vals ideologieë wat deur geestelike leiers uitgedink is wat nie na die Heilige Gees luister nie?



Hierdie is ‘n opvolg oor dwaalleringe wat vandag in die kerke voorkom en teengestaan moet word.

Waarvoor staan elke kerk huidig hier op die aarde en is dit waarvoor hulle staan, volgens Jesus se wil?

Hierdie vraag moet elke gelowige homself vra oor die kerk wat hy of sy bewoon.

Ek gaan gereeld deur verskeie geestelike publikasies om te sien wat gebeur in kerke deur die wêreld. My oog vang die volgende opskrif in The Christian Post van 26/11/2023 “Pastor apologizes for allowing male speaker with long hair”.

Dit het onmiddellik my aandag getrek – wat het langhare te doen om in ‘n kerk te kan praat en hoekom vra die pastoor verskoning daaroor?

Die storie steek soos volg aanmekaar –

Daar is ‘n groep wat bestaan, uit mense van verskeie kerkgroepe, met die doel om die evolusieleer verkeerd te bewys. Die groep word deur verskillende kerke genooi om hulle standpunte te kom verduidelik. So het dit gebeur dat hulle opgetree het by ‘n gemeente, van een van die grootste kerkgroepe in Amerika. Een van die sprekers was ‘n 18 jarige jongman met langhare. ‘n Pastoor van ‘n ander gemeente uit dieselfde kerkgroep, wat blykbaar nie eens teenwoordig was nie, het daarna afgegaan oor die jongman se langhare en dat dit nie mag gebeur het nie, omdat vir ‘n man met langhare mag nie in die kerk vanaf die preekstoel praat nie, want dit is in direk teenstrydig met die Skrif – 1 Kor 11:14. Sy standpunt verder is, langhare vir ‘n man is ‘n skande.

Wat verder verontrustend was, is die pastoor wie die groep uitgenooi het, het verskoning gevra aan sy gemeente en die kerkgroep, omdat hy nie beter voorsiening gemaak het om te voorkom dat ‘n man met langhare optree nie en Skriftekste uit die ‘NIV’ gebruik het nie (Die NIV aanhalings was deel van die aanval, maar die arme jongman het nie eens Skrif-verwysings gebruik nie).

Wat sê hierdie skrifgedeelte

1 Kor 11:14 AOV Of leer ook die natuur self julle nie dat as ‘n man lang hare dra, dit vir hom ‘n oneer is nie;

Om te verstaan waaroor hierdie gaan moet jy 1 Kor 11:2-16 gaan lees.

In hierdie gedeelte verduidelik Paulus dat Christus die hoogste gesag is in die kerk en in elkeen se lewe. Hy gebruik die illustrasies van haarlengte en kopbedekking om ons onderwerping as mans en vroue aan Christus en die vrou wat haar moet onderwerp aan haar man in die huwelik te verduidelik. Hierdie illustrasies was die gebruik in daardie tyd om so vlakke van gesag duidelik te maak.

Paulus het Christus se gesag verduidelik en nie ‘n gedragskode nie.

Die vraag verder is hoe lank is langhare volgens hierdie persoon wat die jongman veroordeel?

Volgens navorsing was die haarlengte daardie tyd tot op die skouers en ons sien dit steeds by Rabbi’s wat tans op TV gesien word.

Ek weet ek beklemtoon gereeld wette wat nie meer van toepassings is nie en steeds in kerke afgedwing word, maar hierdie is weereens ‘n voorbeeld daarvan.

In hierdie geval word alle mans met langhare veroordeel en in die hel gewerp volgens hierdie geestelike leier.

Wat verwag God van ons as mense hier op die aarde?

  1. Eerste om te glo met ons hart en te bely met ons mond dat Jesus vir ons sonde gesterf het en dat God Hom uit die dood opgewek het. So word ons weergebore. Rom 10:9-10
  2. Na ons weergeboorte is ons kinders van God. 1 Joh 3:1
  3. God se opdrag aan ons is om Hom en ons naaste lief te hê.

Luk 10:27 AOV Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele krag en uit jou hele verstand; en jou naaste soos jouself.

God se opdrag word verder aan ons as volg verduidelik:

1 Joh 3:23 NLV “En dit is sy opdrag: Ons moet glo in die persoon van sy Seun, Jesus Christus, en ons moet mekaar liefhê, net soos Hy aan ons die opdrag gegee het.”

  • God wil ‘n hegte verhouding met ons elkeen hê en dit gebeur wanneer ons sy opdrag uitvoer:

1 Joh 3:24 NLV “Wie sy opdragte gehoorsaam, leef in ’n hegte verhouding met God en Hy op sy beurt met daardie persoon. Hieraan weet ons dat Hy in ’n hegte verhouding met ons leef: aan die Gees wat Hy aan ons gegee het.”

  • Die liefde wat hier beskrywe word is ‘n opofferende liefde en wanneer ons iets doen wat nie tot opbou van God of ons naaste is nie, dan oortree ons God se opdragte. Ons het dus nie ‘n vryhand om te doen soos ons wil nie, sonder om eers te bepaal of die invloed positief of negatief gaan wees op ons verhouding met God en/of ons naaste nie.

Hoe lewe ons hierdie liefde aan God en ons naaste uit?

Kom ons kyk na die storie van langhare – hoe beïnvloed my langhare my liefde vir God en my naaste?

Volgens my het dit geen invloed op God of my naaste nie, of my hare lank of kort is gaan nie bepaal of ek God of my naaste lief het of nie.

Dit is dieselfde of ek maer of groot is of mooi of lelik, dit gaan geen invloed hê op my liefde wat ek uitlewe vir God of my naaste nie.

Gal 5:18 sê vir ons dat ons vry is van die wet (die wette wat God aan Israel deur Moses gegee het) en dat die Heilige Gees ons lei en waarsku wanneer ons teen God se wil optree.

Die wil van God is, dit wat God daar gestel het vir ons, om volgens te lewe sodat ons ‘n gebalanseerde lewe van oorvloed hier op aarde te kan hê en Hom en ons naaste te dien.

God het ‘n waardestelsel daar gestel wat vir almal, gelowiges en ongelowiges, van toe passings is.

Een is, wat jy saai, gaan jy oes – in alle fasette van die lewe, voorbeelde –

  • Die persoon wat ander aanval en beroof, hy gaan een of ander tyd gevang word en betaal vir wat hy gedoen het en hierdie persoon het in elk geval nie ‘n lewe van vrede en voorspoed nie.
  • Die persoon wat rondloop en kwaad saai tussen mense, deur kwaadwillige en verdraaide skinderstories, gaan eensaamheid oes, want mense gaan hom vermy en daar kan moontlik reeds selfverwerping in hom wees wat hom dryf om hierdie saad te saai en hy het al op daardie stadium nie ‘n gelukkig lewe nie.
  • Onvergewensgesindheid teenoor ander wat jou te na gekom het – jy loop met ‘n wrok teen iemand en weier om te vergewe soos God van ons verlang. Jy gaan heel moontlik opeindig met gesondheidsprobleme as die oes van jou onvergewensgesindheid en in elk geval gaan jy ook nooit ‘n gelukkig en vredevolle lewe geniet nie, want jy gaan gereeld dink aan dit wat jou seermaak.

Die vraag is gaan jy na die Heilige Gees luister wanneer Hy jou waarsku deur God se Woord of deur jou gewete of gaan jy jou eie wil en verdraaide siening volg en oes wat jy gesaai het.

Wanneer geestelike leiers begin om nuwe wette op te stel, deur foutiewe verklarings uit God se Woord, omdat hulle nie die Woord bestudeer het onder die leiding van die Heilige Gees nie en skrifgedeeltes verkeerd verstaan saam met die onkunde van wat God vir ons wil gee en van ons verlang, dan dryf hulle gelowiges en selfs ongelowiges wat moontlik Jesus sou aanvaar het, weg van Jesus se kerk. Die wat agterbly by die kerk, lewe ook onder die juk van wette wat nie van God is nie.

Ter afsluiting:

  1. Gelowiges moet nie dat jou geestelike leier jou onder die juk van sy eie wette plaas wat hy verkeerd verstaan uit die Woord van God nie.
  2. Die vraag wat jy moet vra vir elke gebruik of wet wat aan jou voorgehou word, is dit God wat dit van jou verlang en wat is die doel daarvan. God hou ons nie vas aan wette wat geen voordeel vir ons of ons naaste het nie. Ons kan nie God tevrede stel om wette na te kom nie, Jesus het die verhouding tussen God en ons herstel en God wil ‘n verhouding met ons hê.
  3. Om buite God se waardestelsel vir ons te lewe, beweeg ons weg van God se seën en Hy sal ons nie keer nie, maar ons sal die gevolge daarvan moet dra.
  4. Geestelike leiers, maak seker dat julle God se wil en liefde aan julle volgelinge verkondig en nie julle eie verdraaide verklarings wat nie van God is nie. Julle gaan aan Jesus moet antwoord oor die leiding wat julle gegee het. Jak 3:1

Gebed:

  • Dankie Vader vir U liefde vir ons sonder enige voorwaardes,
  • Dankie vir U geduld met ons,
  • Dankie vir ‘n lewe van vrede en voorspoed wat U al hier op aarde vir ons voorsien,
  • Vader beskerm ons deur die leiding van U Gees teen gebruike en wette wat nie van U is nie,
  • Ons vra dit in die Naam van Jesus Christus
  • Amen



(K013) Die Gelowige en die wêreld – Rom 12:9-19

Hoe hanteer jy alles wat jy op sosiale media en die TV sien?

Hoe moet jy deelneem aan gesprekke persoon tot persoon en op sosiale media?

Hoe behou jy jou vrede met alles wat gesê word?



  • Tot ongeveer 1970 het ons gelewe in ‘n wêreld waar jou kontak met ander mense beperk was tot jou onmiddellike omgewing en dit wat jy oor die radio gehoor het. Die invloed op elkeen was klein en mense het meestal in vrede en liefde met mekaar gelewe.
  • Daarna het die TV gekom, toe internet en nou sosiale media. Die invloed van buite jou lewensomgewing het enorme geword, dit sluit die vryheid in om jou siening met die wêreld te deel dmv WhatsApp, X, FaceBook, ens.
  • Jy word gebombardeer deur elkeen se siening oor ‘n saak waar hy glo net hy is reg en ander is verkeerd en ipv om die saak te stel en stil te bly, gaan hy net aan en aan en val almal aan met wie hy nie saamstem nie.
  • Dan saam met hierdie is daar ook nog hulle wat verkeerde inligting en blatante valshede versprei.

Waar bring dit ons as gelowiges en wat staan ons te doen?

Rom 12:9-19 AFR20

Julle liefde moet ongeveins wees. Verafsku die kwaad; hou vas aan die goeie.

Die gelowige moet opreg wees in sy lewe en die kwaad in die wêreld teenstaan en hom onttrek daarvan. Verder vasstaan vir die waarheid en die goeie,

Julle moet mekaar liefhê met innige broederliefde. Gaan mekaar voor in eerbetoning. Moenie traag wees in julle toewyding nie; bly geesdriftig; hou vol om die Here te dien.

Die gelowiges moet mekaar ondersteun, respekteer en saam aanhou om die Here te dien deur die leiding van die Heilige Gees,

Verbly julle in die hoop; wees standvastig wanneer julle swaarkry; volhard in die gebed.

Staan in die hoop wat ons ontvang het van redding uit sonde en verlossing van die wêreld. Moenie dat enige aanvalle deur die duiwel jou ontmoedig nie en bid aanmekaar vir groei in jou geloof in die Here,

Betoon meelewing met die behoeftes van die heiliges; lê julle toe op gasvryheid.

Gee om vir die ander gelowiges om jou en ondersteun hulle,

Seën julle vervolgers; ja, seën hulle, moet hulle nie vervloek nie.

Gelowiges mag net ander seën en hulle nie vervolg nie,

Wees bly saam met diegene wat bly is; treur saam met diegene wat treur.

Die gelowige moet saam almal bly wees in hulle vreugde en ook saam met hulle treur wanneer hulle treur,

Wees eensgesind onder mekaar; moenie hoogmoedig wees nie, maar skaar julle by die nederiges. Moenie wys wees in julle eie oë nie.

Werk saam met die ander in nederigheid en moet nie jouself meerwaardig hou nie,

Moet niemand kwaad met kwaad vergeld nie, maar rig julle gedagtes op dit wat vir alle mense goed is. As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.

Wees versigtig om nie ‘n ander te wil terug te kry oor wat hy gedoen het nie, doen wat goed is vir almal en lewe in vrede met hulle,

Geliefdes, moet julle nie wreek nie, maar laat ruimte vir die oordeel. Daar staan immers geskryf: “Aan My kom die wraak toe; Ek sal vergeld,” sê die Here.

Dit is nie die gelowige se plek om wraak te neem op die een wat hom te nagekom het nie, laat die wraak aan God oor.

Opsommend ter afsluiting:

  1. Lewe opreg, verdedig die waarheid en verwerp die leuens van die duiwel wat hy opdis.
  2. Deur leiding van die Heilige Gees moet gelowiges in ‘n noue verband van versorging op alle vlakke met mekaar lewe en saam die Here dien.
  3. Ons as gelowiges weet ons deur ons weergeboorte is ons gered van ons sonde en hierdie wêreld. Ons moet die duiwel teenstaan en ons geloof in die Here deurentyd versterk.
  4. Ondersteun en respekteer ook die ongelowiges en wen hulle so vir Jesus.
  5. Wanneer dit kom by gesprekke op sosiale media en self ook in direkte kontak met ander:
  6. Vermy twis met ander en behou jou vrede –  

Spr 20:3 AFR20 Dit is ‘n eer vir ‘n mens om van ‘n woordewisseling weg te bly, maar elke sot laat ‘n stryery losbreek.

  • Moenie in die strik beland en ander toelaat om jou aan te val nie, draai om en loop weg –

Spr 27:3 AFR20 ‘n Klip is swaar en sand het gewig, maar teistering deur ‘n sot is swaarder as albei.

  • Moenie met ander in argumente betrokke raak nie, jy gaan jouself verlaag na hulle vlak en hulle gaan in elk geval nie na jou luister nie –

Spr 26:4 AFR20 “Moenie ‘n dwaas antwoord in ooreenstemming met sy sotheid nie, anders word jy ook dieselfde as hy.

  • Luister ook na Paulus se raad aan Timoteus –

2 Tim 2:16-17 NLV Vermy goddelose en dwase gepraat wat net tot verdere goddeloosheid lei. Hierdie soort praatjies versprei soos kanker. ……

Ek hoop hierdie sal jou help om die wêreld elke dag te hanteer en sodoende meer vrede te ondervind.

Kom ons bid:

  • Dankie Vader vir U liefde,
  • Dankie dat ons altyd op U kan staatmaak vir leiding,
  • Dankie dat ons U kinders kan ondersteun waar en wanneer nodig,
  • Dankie dat ons U kan grootmaak in die wêreld deur ons optrede,
  • Vader lei ons deur die Heilige Gees om altyd reg op te tree,
  • Lei ons ook deur die Heilige Gees om te sien wanneer die duiwel ons wil intrek in argumente wat nie tot opbou van U en Jesus se offer, vir almal, is nie,
  • Ons vra dit in die naam van Jesus Christus
  • Amen



(P005) Vryheid in Jesus – Dwaalleringe

Moenie dat geestelike leiers met dwaalleringe jou vryheid wat Jesus vir jou gegee het van jou wegneem nie.

Wat is dwaalleringe en hoe identifiseer jy dit?



Hierdie gaan spesifiek oor wat in Jesus se Kerk oor die jare gebeur en ek glo nie Sy goedkeuring wegdra nie.

Wat verlang God van ons?

Jesus het aarde toegekom om ons te verlos van ons sonde en ons verhouding met God te herstel, soos dit was voor die sondeval.

God wil hê dat ons in ‘n verhouding met hom moet lewe –

1 Joh 3:24 NLV “Wie sy opdragte gehoorsaam, leef in ’n hegte verhouding met God en Hy op sy beurt met daardie persoon. Hieraan weet ons dat Hy in ’n hegte verhouding met ons leef: aan die Gees wat Hy aan ons gegee het.”
Wat is God se opdragte waarvan hier gepraat word –

1 Joh 3:23 NLV “En dit is sy opdrag: Ons moet glo in die persoon van sy Seun, Jesus Christus, en ons moet mekaar liefhê, net soos Hy aan ons die opdrag gegee het.”
Jesus sê vir ons in Luk 10:27 dat ons God moet liefhê met ons hele hart, siel, krag en verstand en ons naaste soos ons self.

Wat is die liefde wat God verlang?

1 Joh 4:10 NLV “Dít is volmaakte liefde: nie dat ons vir God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun as versoeningsoffer gestuur het om ons sondes weg te neem.”
1 Joh 5:2-3 NLV “Hieraan weet ons dat ons moet aanhou om die kinders van God lief te hê: wanneer ons God liefhet en sy opdragte uitvoer. Die liefde vir God bestaan daaruit dat ons sy opdragte gehoorsaam, en sy opdragte is nie moeilik nie,”
Die liefde hier is nie ‘n gevoel nie, dit is ‘n opofferende liefde, maw, ‘n aksie wat ons moet neem om God en mekaar te dien. Dit is dieselfde liefde, aksie, wat God geneem het om Jesus aarde toe te stuur om vir ons te sterf. 

Wanneer ons in hierdie liefde lewe onder die leiding van die Heilige Gees, wat ons in ons ontvang het met weergeboorte, dan lewe ons in ‘n hegte verhouding met God.

Vals-profete/leraars en dwaalleraars.

Vals-profete en leraars word in die Skrif beskrywe as mense wat Jesus en wat Hy aan die kruis gedoen het ontken. Daar is al hoe meer tekens dat hulle stadig besig is om deur liberale-leringe terug te kom in die Kerk.

Hierdie gaan egter oor dwaalleraars (dit is my benaming) wat invloed in die Kerk oor die jare ingebring het en dit steeds doen en handhaaf.

Hierdie mense verwerp nie Jesus nie, maar hulle plaas mens-verklaarde laste op gelowiges wat nie van God afkom nie.

Dit kan vergelyk word met die wette, wat ons ken as Moses-wette, wat die Skrifgeleerdes en Fariseërs uitgebrei het, oor hulle vrees dat hulle dalk ‘n wet van God sal oortree, omdat hulle die wette kon misverstaan het.

In Luk 6:1-11 sien ons waar Jesus se dissipels graan gepluk het op die Sabbat en geëet het en Jesus ‘n man met ‘n uitgedorde hand genees het. Die Skrifgeleerdes en Fariseërs het hulle veroordeel dat hulle werk op die Sabbatdag.

Dit gebeur ook in ons tyd waar leiers in kerke vassteek by dit wat hulle glo die Skrif sê en die volgelinge moet dit net aanvaar.

Die algemeenste voorbeelde hiervan is:

  1. Dit word in jou ingedril, dat jy moet besef dat jy in sonde ontvang en gebore is en ‘n sondaar is.

Daar word vasgesteek by die wet (10 gebooie) wat jy ten alle koste moet probeer nakom.

Dit alles ongeag of Jesus vir jou gesterf het en jou vrygemaak het van die wet –

Gal 5:18 AOV Maar as julle julle deur die Gees laat lei, staan julle nie meer onder die wet nie.

Dit beteken met jou weergeboorte kom die Heilige Gees in jou en jy lewe deur die leiding van die Heilige Gees. Jy kyk nie na die wet nie, jy luister na die Heilige Gees wat jou waarsku, deur die Skrif en jou gewete.

Jy is ook vrygemaak van al die ander voorskrifte wat God aan die Jode gegee het, voor Jesus se koms –

Kol 2:16-17 ANV Daarom moet julle nie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet en drink nie, of dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbatdag moet vier nie. Dit is alles maar net die skaduwee van wat sou kom; die werklikheid is Christus.

Die verskillende wette en gebruike was slegs ‘n skadubeeld van Christus was, wat sou kom en is deur Christus aan die kruis volbring. Enigiets wat weer bygevoeg word by dit wat Christus gedoen het, kanselleer die genade van God.

  • Dan kom ons by die Heilige Gees, hulle erken dat dit Heilige Gees bestaan, maar dit is waar dit eindig. Hulle aanvaar nie die doop met die Heilige Gees nie, ook nie dat die krag wat ontvang word van die Heilige Gees nie. Dat die gawes van profeteer, woord van wysheid, woord van kennis, gesondmaking, spreek in tale, ens nog bestaan word ook nie erken nie. Die verklaring is dat dit nie meer nodig is nie en uitgesterf het saam met die Apostels, want dit is met God se woord vervang. Daar is niks in die Skrif wat hierdie verklaring bevestig nie en as Jesus en die Apostels dit gebruik het om mense se aandag te trek, wat maak ons beter om sonder dit te wil werk?

Die grootste probleem hier is, volgens my mening, dat hierdie leiers nie die geestelike wêreld verstaan of glo dat dit bestaan nie, want dit is buite ons 5 sintuie.

  • Finansies bring ons by die volgende wanopvatting. Hulle glo jy kan nie na rykdom uitsien nie, want dit is ‘n euwel en sal jou laat sondig.

Joh 10:10 word geïgnoreer waar Jesus ons ‘n lewe van oorvloed belowe waarvan geld ‘n deel is.

Hulle gee ook geen verklaring oor wat die Skrif sê oor saai en oes en ander gedeeltes oor geld nie. Hulle leer ook nie die wat hulle volg dat indien hulle God en ander seën met wat hulle ontvang, hulle ook ryklik geseën sal word nie.

Hulle sê ook nie waar Christene wat baie geld het, inpas nie.

My vraag is, moet almal in armoede soos hulle lewe weens hulle verkeerde sienings, is dit ‘n sonde om ‘n gemaklike lewe te lei, wat van Abraham, Dawid en Salomo?

  • Dan ons gesondheid, hulle verklaar dat ons gesondheidsprobleme het, omdat ons verkeerde goed gedoen het en God ons nou straf of ons wil leer of toets.

Ja ons gesondheidsprobleme kan kom van dit wat ons oor onsself bring deur ons lewenswyse en optrede, maar dit is nie God wat ons siekte gee nie. Dit kan nêrens in die Skrif onder die Nuwe Verbond gevind word nie.

Wat wel gebeur ons verloor God se seën en beskerming, want Hy kan nie verkeerde optrede seën nie. Onthou daar is ‘n duiwel wat kyk wanneer hy kans kan kry om ons aan te val (Joh 10:10).

Verder sê hulle God sal jou gesond maak as dit Sy wil is. Jesus het klaar vir ons siekte gesterf (1 Pet 2:24), ons moet net ons sonde bely en God sal dit vergewe (1 Joh 1:8-9) en daarna glo dat ons genees is. Die volgende gedeelte verduidelik dit ook –

Jak 5:14-16 NLV “Is daar van julle wat siek is? Dan moet julle die ouderlinge van die gemeente laat kom. Nadat die ouderlinge die siekes met olyfolie in die Naam van die Here gesalf het, moet hulle vir hulle bid. En ’n gelowige gebed sal die siek mens gesond laat word; die Here sal hom laat opstaan. En watter sondes die sieke ook al gedoen het, dit sal hom vergewe word. Daarom moet julle julle sondes teenoor mekaar bely en vir mekaar bid sodat julle gesond kan word. Die gebed van iemand wie se saak met God reg is, het ’n kragtige werking.”

Hoekom gebeur hierdie nie in alle kerke nie?

  • Wanneer ons kom by die liggaam wat sterf hier op die aarde, dan beweer hierdie mense dat dit God se wil was of dat God besluit het dit is tyd om hom of haar weg te neem. Hierdie bewerings is die oorsaak dat baie mense van God wegdraai wanneer hulle ‘n geliefde verloor.

Weereens kan niks hiervan gevind word in die Skrif onder die Nuwe Verbond nie, inteendeel Jesus het almal gesond gemaak en ander berispe, maar niemand doodgemaak nie en Sy verklaring was dat Hy net doen wat Hy die Vader sien doen.

Die enigste wat gevind word oor afsterwe van die liggaam is in Joh 10:10 waar Jesus sê die duiwel kom om siek en dood te maak.

Ons sal nooit altyd verstaan wanneer iemand sterf nie, maar ons kan nie God beskuldig nie.

Ter afsluiting

  • Moenie dat gebruike of verklarings deur mense oor jou geestelike lewe en verhouding met God, jou weg van God dryf nie.
  • Gaan toets alles wat vir jou gesê word of wat hulle wil hê jy moet doen, aan die Skrif onder die leiding van die Heilige Gees.
  • Gesels ook met ander gelowiges en vra dat hulle jou leiding uit die Skrif gee oor vrae wat jy het.
  • Moenie dat mense en hulle gebruike jou beïnvloed en jou lewe moeilik maak nie, Jesus se offer het ons vryheid gebring en lewe daarin om ‘n lewe van oorvloed te kan geniet soos Hy belowe het.
  • Aan geestelike leiers maak seker wat jy preek, moet nie laste op jou volgelinge plaas nie. Antwoord vrae uit die Skrif en nie uit dit wat jy dink nie.

Gebed

  • Dankie Vader vir U liefde,
  • Dankie vir Jesus wat U gestuur het om vir ons sonde te sterf en ons vryheid te bring wat nou al hier op die aarde begin,
  • Vader lei ons deur U Gees sodat ons die aanvalle van die duiwel deur dwaalleraars kan herken wat laste op ons wil lê en nie van U is nie.
  • Heilige Gees help en lei ons, om ons verhouding met God daagliks hegter te maak,
  • Dankie Vader vir U beskermde hand wat U oor ons hou en aanvalle van die duiwel afweer.
  • Ons vra hierdie in die naam van Jesus Christus
  • Amen



(P003) Vryheid in Jesus (Deel 2) – Luk 4:17-19

Jy is ‘n weergebore kind van God maar jy ervaar nie die vryheid wat Jesus vir ons gebring het, hier op die aarde nie.

Jy is siek, het nie genoeg om van te lewe nie, lewe in konfrontasie met almal en vrees wat om jou en in die wêreld gebeur.



Hierdie is vir almal, maar in die besonder vir die wat elke Sondag in die kerk sit of voorheen kerk toe gegaan het en twyfel oor baie dinge en baie probleme ondervind.

Luk 4:17-19 En die boek van die profeet Jesaja is aan Hom oorhandig; en toe Hy die boek oopmaak, kry Hy die plek waar geskrywe is: (Jes61:1-2) Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees; om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig.

Jesus het gekom om die duisternis van hierdie wêreld, wat deur die duiwel beheer word, met Sy lig te vervang en vryheid te bring vir diѐ wat in Hom glo.

Die eerste deel het gegaan oor ontdek jou vryheid in Jesus mbt tot jou geestelike lewe (jy kan na die eerste deel kyk P002 Vryheid in Jesus Deel 1 indien jy dit gemis het), hierdie tweede deel gaan oor ontdek jou vryheid in Jesus mbt jou fisiese lewe.

Jy is ‘n weergebore kind van God, maar jy lewe steeds ‘n lewe van hel hier op die aarde:

  • Jou gesondheid is swak, jy drink ‘n handvol pille elke dag en jy vrees die dood.
  • Jy moet met min geld klaar kom of jy vrees dat jou geld gaan opraak.
  • Jou verhouding met ander mense is swak en vol konflik.
  • Jy vrees dit wat om jou in die wêreld gebeur, misdaad, oorloë en swak regerings.

Wat sê Jesus egter vir jou:

  • Wanneer dit by jou gesondheid kom, moet jy besef siekte is die begin van die dood van jou liggaam. Daar is ‘n oorsaak vir die siektes wat jy ondervind en die meerderheid van dit is, as gevolg van jou eie optrede. Dit is nie God wat jou siekte gee om jou te straf of te toets of iets te leer nie. So gaan kyk ‘n bietjie wat veroorsaak die siektes wat jy het en hoeveel het jou optrede bygedra tot hierdie siektes. Kyk dan verder wat kan jy verander of self doen om hierdie siektes teen te staan en daarvan ontslae te raak.

Terwyl Jesus op aarde was het Hy almal wat sy pad gekruis het en siek was, gesond gemaak. Hierdie siektes was meesal agv sonde (Mar 2:5, Joh 5:14, Jak 5:16 en daar is nog baie meer) of invloed van die duiwel (Mat 4:24, Mat 8:16, Hand 10:38 en nog baie meer).

Die probleem is dat die mense nie glo of verantwoordelikheid wil neem, dat hulle siekte toegeskryf kan word oor sondes wat hulle het nie. Die oomblik wat jy dit noem dan haal hulle (Joh 9:3) aan waar Jesus gesê die man was nie blind agv enige sonde wat hy of sy ouers gedoen het nie, maar hulle kyk al die ander teksverse mis, waar siekte aan sonde en die duiwel gekoppel word.

Jesus het vir ons sonde aan die kruis gesterf en dit sluit in vir die siektes wat ons in ons liggaam ondervind, fisies (liggaam) en geestelik (siel).

Mat 8:16-17 AOV En toe dit aand geword het, het hulle baie na Hom gebring, wat van duiwels besete was; en Hy het die geeste met ‘n woord uitgedrywe; en almal wat ongesteld was, het Hy gesond gemaak, sodat vervul sou word wat gespreek is deur Jesaja, die profeet, toe hy gesê het: Hy het ons krankhede op Hom geneem en ons siektes gedra.

Hierdie kom uit die profesie van Jesaja wat oor Jesus handel

Jes 53:4-5 Tog het hy óns lyding op hom geneem, óns siektes het hy gedra. Maar ons het hom beskou as een wat gestraf word, wat deur God geslaan en gepynig word. Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom.

Dan sien ons ook, waar Jesus die nagmaal instel, dat Hy verwys na eet van sy liggaam. Die brood verwys na Sy liggaam en wonde wat  vir ons genesing bring en die uitstorting van sy bloed (wyn) is die vergifnis van ons sonde –  

Mat 26:26 En terwyl hulle eet, neem Jesus die brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan sy dissipels en sê: Neem, eet, dit is my liggaam.

Mat 26:28 Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes.

Ons sien dus dat Jesus se liggaam gebreek is en deur Sy wonde, is ons genees. Dit loop saam met die vergewing van sonde, want sondes bring siektes, bv wanneer jy te veel eet raak jy oorgewig wat mediese probleme meebring, gebruik van dwelms voer gevaarlike stowwe in wat die liggaam afbreek en siektes veroorsaak, bekommernis veroorsaak spanning wat ‘n hartaanval kan veroorsaak, ens.

Siekte is ‘n vloek van die duiwel en Jesus het dit aan die kruis vir ons weggeneem, ons moet net daarop staan.

Gaan kyk ook na my ander lesing onder die naam(K004) ‘n Gesonde Liggaam’.

Jy lewe ook in vrees om liggaamlik te sterf, omdat jy nie seker is jy is gered en dat wanneer jy sterf jou siel en gees na God en Jesus toe sal gaan nie.

Soos reeds vroeër gesê, as jy glo en bely (sê, verklaar) dat Jesus vir jou sonde gesterf het en deur God weer uit die dood opgewek is, dan is jy weergebore en gaan jou siel en gees na God en Christus toe wanneer jou liggaam sterwe. Glo dit net.

  • Wanneer dit by versorging in lewensmiddele kom en jy vrees dat dit wat jy ontvang of het, gaan nie genoeg wees nie, dan vertrou en ken jy nie vir God nie.

Fil 4:6 Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.

Die eerste vraag wat jy moet antwoord is: Hoe lewe jy met dit wat God jou gee?

Gee jy geld uit so vinnig jy dit kry op enigiets wat jou oë sien of bestuur jy jou finansies oordeelkundig?

Luk 16:10-11 sê vir ons, wie met die minste getrou is sal ook met baie getrou wees, kan God jou vertrou met dit wat Hy vir jou gee?

Fil 4:11 sê Paulus, dat hy geleer het om tevrede te wees met dit wat hy ontvang, is jy tevrede met wat jy ontvang?

Na jy hierdie verse gelees het, vra of gesels jy met God oor wat jy nodig het om van te lewe?

Fil 4:19 En my God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus.

God belowe Hy sal in elke behoefte voorsien, maar daar is egter ook ‘n gesindheid en optrede van jou kant betrokke om te kan ontvang.

2Ko 9:6-7 Maar dink daaraan: Wie spaarsaamlik saai, sal ook spaarsaamlik maai; en wie volop saai, sal ook volop maai. [7] Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het ‘n blymoedige gewer lief.

Dan kom die vraag, hoeveel van dit wat jy ontvang, gee jy terug vir God uit dankbaarheid vir dit wat Hy vir jou gee? Ja, al kom dit van jou werkgewer of die regering of pensioen kom dit eerstens van God.

As jy spaarsamig saai gaan jy spaarsamig oes, dit wat jy saai of teruggee aan God en weer daarna oes of ontvang van God.

As jy volop saai, gaan jy volop oes, van God ontvang. Dit is solank jy nie gee, met die hoofdoel (gesindheid) om terug te kry nie. Wanneer jy gee met die gesindheid om terug te kry, gaan jy bedroë daarvan afkom.

Waar moet jy saai? Gee vir Jesus se kerk, die uitdra van Jesus se boodskap, kinderhuise, voedingsprogramme, ens., alles waar hulp nodig is en die liefde van Jesus gewys kan word.

2Ko 9:10 En mag Hy wat saad verskaf aan die saaier, ook brood verskaf om te eet en julle saad vermeerder en die vrug van julle geregtigheid laat toeneem, sodat julle in alles ryk kan word tot alle milddadigheid, wat danksegging aan God deur ons bewerk.

Dan sien ons verder dat God vir ons saad gee om te saai en brood om te eet, dit beteken van dit wat jy ontvang, is ‘n deel saad wat jy moet saai en die res brood, waarvan jy moet lewe.

Wanneer jy nie genoeg het om van te lewe nie, eet jy ook die saad ipv om dit te saai? In hierdie geval gaan God spaarsamig voorsien omdat jy nie dit wat Hy voorsien om te saai gebruik om te saai nie, maar dit self eet.

Hoeveel moet jy saai van dit wat God jou gee? Soveel as wat die Heilige Gees in jou hart lê (2 Kor 9:7) en ‘n basiese riglyn uit die Woord is 10%, maar daar word baie daaroor geredeneer, die punt bly by hoeveel jy saai en met watter gesindheid.

Gaan kyk ook na my ander lesing onder die naam(K002) Beskerm jou inkomste.

  • Jou verhouding met ander bepaal ook lewensvreugde. Indien jy aanmekaar in konflik met ander lewe gaan jy voortdurend ongelukkig en negatief wees.

God het ons almal verskillend van mekaar gemaak, so jy dink is nie soos ‘n ander dink nie. Elkeen het sy eie benadering tot ‘n saak en elkeen mag reg wees, al stem jy nie saam met die ander een se benadering nie. Om jou wil op ander af te dwing veroorsaak konflik.

Indien jy alles met ‘n negatiewe gesindheid benader, gaan niks aan jou verwagting voldoen nie, met die gevolg dat mense moedeloos gaan word met jou, omdat jy alles veroordeel.

Spr 4:23 Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe.

Konflik met ander bring mee dat die partye mekaar moet vergewe. Dit veroorsaak weer verdere spanning, want elke party glo hy is reg en die iemand moet erken hy is verkeerd en verskoning vra, voor hy vergewe kan word. Verhoudings word geskaad deur onvergewensgesindheid.

Mat 18:21-22 Toe kom Petrus na Hom en sê: Here, hoe dikwels sal my broeder teen my sondig en ek hom vergewe? Tot sewe maal toe? Jesus antwoord hom: Ek sê vir jou, nie tot sewe maal toe nie, maar tot sewentig maal sewe toe.

Volg die volgende verse en lewe in vrede met almal om jou –

Efs 4:32 Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het.

Jak 1:19 So dan, my geliefde broeders, elke mens moet gou wees om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word.

1Jo 4:11 Geliefdes, as God ons so liefgehad het, behoort ons ook mekaar lief te hê.

  • Gaan jy in vrees lewe vir alles wat die duiwel om jou in die wêreld mee besig is?

Dit lyk oorweldigend as jy kyk na wat alles om jou gebeur en jy het geen beheer daaroor nie. Wanneer jy nie iets kan beheer nie, bring dit vrees by jou.

Die vraag is wie is die sterkste God of die duiwel?

Jes 44:6 ANV So sê die Here, die Koning van Israel, sy Verlosser, die Here die Almagtige: Ek is die eerste en Ek is die laaste, buiten My is daar geen God nie.

God is die alfa en die omega, die begin en die einde en elke knieg sal voor Hom buig en erken Hy is die enigste God.

Daarom sê Skrif vir jou –

Jak 4:7 Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.

Jy kan slegs op God vertrou vir beskerming in hierdie wêreld –

Luk 21:17-18 ANV En julle sal ter wille van my Naam deur almal gehaat word, maar daar sal selfs nie eens ‘n haar van julle kop af val nie.

Staan vas in geloof in God om jou, deur die tydperk wat jy in hierdie wêreld is, te beskerm want –

Rom 8:31 As God vír ons is, wie kan teen ons wees?

As jy nog twyfel bou jou geloof op met Jes 54:17, Ps 34:7 en Ps 91

Gaan kyk ook na my ander lesings onder die name(P001) Vrede van God in ‘n gewelddadige wêreld en (K008) God, ons sy kinders en die wêreld.

Kom ons kyk opsommend na alles ter afsluiting:

  • Indien jy gesondheidsprobleme het, gaan sit en kyk hoekom jy die siekte het en indien jy nie weet nie vra die Heilige Gees om dit aan jou bekend te maak. Besluit dan wat jy daaraan gaan doen om van die siekte ontslae te raak behalwe om alleen medikasie daarvoor te gebruik.
  • As jy te min geld het om van te lewe, gaan kyk eerste na jou gesindheid en kyk dan hoe jy dit spandeer wat jy kry of dit redelik en wys is, wat insluit, dit wat jy saai vir God. Maak regstellings en gaan gesels dan met God oor ‘n hoër inkomste en wat jy moet doen daarvoor, God gaan nie vir jou geldnote uit die hemel gooi nie.
  • Vra God vir leiding om van aanhoudende twis en onvergewensgesindheid in jou lewe ontslae te raak, dit sal ook help met jou gesondheid.
  • Die wêreld val inmekaar, maar plaas jou vertroue slegs in God en nie ander mense of leiers nie. Dank God daagliks vir sy beskerming waar jy is en waar jy gaan. Leer om in daardie vertroue daagliks te lewe, maak nie saak wat om jou en met jou gebeur nie, Hy sal jou vashou en ondersteun.

Ek hoop hierdie sal jou help om jou vryheid in Jesus te ontdek en dit deel van jou lewe te maak.

Gebed:

  • Dankie Vader vir U onbeperkte liefde,
  • U is die begin en die einde,
  • U is groot en onbeperk,
  • Dankie vir Jesus wat vir ons gesterf het aan die kruis, sodat ons in vryheid al reeds hier op die aarde kan begin lewe,
  •   Vader lei ons asb deur U Gees om hierdie vryheid te kan verstaan, op te eis en die juk van die duiwel af te gooi,
  • Ons vra dit in die naam van ons Verlosser Jesus Christus,

Amen




(P002) Vryheid in Jesus (Deel 1) – Luk 4:17-19

Jy is ‘n weergebore kind van God maar:

  • Jy twyfel of jy steeds of jy gered is,
  • Jy weet nie of God jou lief het nie,
  • Jy lewe steeds onder wette en gebruike wat op jou afgedwing word deur die kerk.



Hierdie is vir almal, maar in die besonder vir die wat elke Sondag in die kerk sit of voorheen kerk toe gegaan het en twyfel oor baie dinge en baie probleme ondervind.

Luk 4:17-19 AOV En die boek van die profeet Jesaja is aan Hom oorhandig; en toe Hy die boek oopmaak, kry Hy die plek waar geskrywe is: (Jes61:1-2) Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees; om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig.

Jesus het gekom om die duisternis van hierdie wêreld, wat deur die duiwel beheer word, met Sy lig te vervang en vryheid te bring vir diѐ wat in Hom glo.

Hierdie eerste deel gaan oor: Ontdek jou vryheid wat Jesus vir jou gegee het, mbt ons geestelike lewe.

Jy is ‘n weergebore kind van God, maar jy lewe steeds in twyfel en onsekerheid:

  • Jy twyfel of jy werklik gered is en saam met God en Christus in die hemel sal wees wanneer jy sterf hier op die aarde.
  • Jy voel of glo nie dat jy goed genoeg is vir God om jou lief te hê nie.
  • Jy kan nie aan God se wette voldoen soos aan jou verkondig word nie.
  • Jou fokus bly op sonde – wat is sonde en wat doen jy alles verkeerd doen.

Wat sê Jesus egter vir jou:

  • Jy twyfel of jy werklik gered is – het jy gedoen wat in Rom 10:9-10 ANV staan?

As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered.”

As jy met jou mond bely het, dat Jesus vir jou sonde aan die kruis gesterf en in jou hart glo dat God Jesus uit die dood opgewek het, dan is jy weergebore en sal jy saam met God en Jesus in die hemel wees wanneer jou liggaam hier op die aarde sterf. Dit is so maklik.

Efs 2:8  AOV Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God;

Wanneer jy weergebore word ontvang jy God se genade, omdat jy glo en hierdie genade is vir almal beskikbaar, maar die voorwaarde is hulle moet glo in Jesus se sterwe en opstanding.

Gaan kyk ook na die lesings  “A001 Redding en weergeboorte asook “A005 Redding vir altyd onbeperk of nie

  • Jy twyfel of God jou lief het. God sê die volgende vir jou –

1Jo 4:10 AOV Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as ‘n versoening vir ons sondes.

God het almal lief en jy is nie die uitsondering nie, God het jou lief ongeag wat jy gedoen het of nog gaan doen, goed of sleg.

Wanneer jy weergebore word, word jou gees (jy bestaan uit gees, siel en liggaam – 1 Tes 5:23) nuut gemaak en ons staan dan sonder sonde in geregtigheid voor God –

2Kor 5:17+21 AOV [17] Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword. [21] Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.

Dis selde dat iemand iets ‘voel’ wanneer hy weergebore word, want dit is jou gees wat vernuwe word nie jou siel, waar jou gevoelens is nie. Jou siel word vernuwe deur die bestudering van die Woord van God (Rom 12:2) en moet nog leer om oop te maak sodat die Heilige Gees vanaf jou gees na jou siel kan deurvloei. Volgens my prentjie is dit wanneer jy met die Heilige Gees gedoop word.

Jy word ook ‘n kind van God met weergeboorte–

Rom 8:14-16 AOV Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God. Want julle het nie ontvang ‘n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader! Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is;

Hoe kan God jou nie liefhê nie, jy is dan sy kind en Hy het Jesus vir jou laat ly en sterf?

  • Daar word of was gereeld vir jou vertel jy moet doen wat die wet (10 gebooie Eks 20) sê, maar jy kan nie daarby hou nie en voel veroordeel omdat jy dit nie hierdie wette kan nakom nie. Wat sê God egter vir jou oor Sy wet –

Gal 5:16-18 AOV Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie; want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie. Maar as julle deur die Gees gelei word, dan is julle nie onder die wet nie.

Hou op om op die wet te konsentreer, al wat jy moet doen is om na die Heilige Gees te luister wat jou waarsku deur die Woord en deur jou gewete wanneer jy op die verkeerde pad is.

1 Joh 1:8-9 sê ons vlees gaan steeds sonde doen, maar as ons dit besef en bely sal God ons vergewe –

1Jo 1:8-9 ANV As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.

Jy is vry in Jesus:

  • God het jou lief ongeag wie jy is en wat jy gedoen het (Joh 3:16).
  • As jy na Jesus toe kom sal Hy jou nie wegwys nie (Joh 6:37)
  • Moenie dat mense geestelike laste (wette en gebruike) op jou lê, wat nie van God is nie.

Dit kom van die duiwel wat jou lewe wil moeilik maak, met die hoop dat jy van God sal wegbeweeg.

Jesus het ook die Skrifgeleerdes beskuldig dat hulle swaar laste op die mense geplaas het (Luk 11:46) en Jesus verklaar ook sy juk is lig (Mat 11:29-30).

  • Jy is ‘n kind van God (Rom 8:14-16).
  • God wil ’n verhouding met jou hê, daarom moet jy sy Woord lees onder die leiding van die Heilige Gees om Hom te leer ken (1 Joh 3:24 & Rom 12:2).
  • Deur dit wat God vir jou deur Jesus gedoen het, verlang God dat jy Hom ook moet liefhê en dit is om sy opdragte na te kom (1 Joh 5:3).
  • God se opdrag is om jou naaste lief te hê, dis ‘n aksie van ondersteun hulle met aandag, finansieel, hulpverlening, ens. maw help hulle waar jy kan in wat hulle nodig het. (1 Joh 3:23).
  • Vergeet van sonde, die Heilige Gees sal jou waarsku indien jy op die verkeerde pad is en waar jy afgedwaal  of verkeerd gedoen het, bely dit teenoor God en Hy sal jou vergewe.
  • In Jesus het jy die wêreld oorwin en leef in daardie vryheid –

1Jo 5:4-5 AOV Want alles wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof. Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?

Die tweede deel gaan oor: Ontdek jou vryheid wat Jesus vir jou gegee het, mbt jou fisiese lewe wat insluit gesondheid, finansies, ens.

Gebed –

  • Dankie Vader vir U onbeperkte liefde,
  • Dankie vir Jesus wat vir ons sonde gesterf het,
  • Dankie Vader dat ek weet dat ek U kind is,
  • Vader waarsku my deur U Heilige Gees van verkeerde lering wat my vryheid sal steel en vanaf U sal laat wegdwaal,
  • Maak ook asb my oë oop vir hulp wat U ander kinders benodig,
  • Ek vra dit in die naam van Jesus Christus

Amen




(A005) Redding vir altyd onbeperk of nie

Jy het Jesus as jou redder aangeneem, maar oor die tyd van die pad afgedwaal en sonde gedoen. Jy weet nie meer of jy nog gered is nie.



Die vraag kom baie op, ek glo en bely Jesus het vir my sonde gesterf en God het Hom weer uit die dood opgewek, so ek is gered, maar kan ek weer hierdie redding verloor deur dinge wat ek doen?

Kom ons werk deur die redding wat voorsien word deur God se genade wat ontvang word deur geloof:

  • God het Jesus aarde toegestuur om vir almal se sonde te sterf –

1Jo 2:2 AOV En Hy [Jesus Christus] is ‘n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.

  • Die wêreld is nie outomaties gered nie, daar is meer betrokke vir elkeen om gered te word. Die mens ontvang hierdie boodskap van redding wat die saad is en die Heilige Gees laat die saad ontkiem, maar die mens moet uiteindelik die besluit neem om te glo en te verklaar dat Jesus vir sy sonde gesterf het en weer deur God uit die dood opgewek is –

Rom 10:9-10 AOV As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.

  • Wanneer die mens hierdie aksie neem word sy gees nuutgemaak of weergebore en hy is nie meer verlore nie –

Joh 3:16 AOV Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

Dit is egter net God en die betrokke persoon wat weet of hy ernstig was met die belydenis en werklik weergebore is.

  • Die mens se siel word nie verander met redding nie en die siel, wat die verstand, wil en emosies is, moet vernuwe word deur die Woord en dissipelskap –

Rom 12:2 AOV En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.

Indien die persoon nie die Woord begin lees en deur ander geleer word wat God se wil is nie, gaan hy slegs aangaan met sy lewe soos hy nog altyd gelewe het, hy gaan nie van beter weet nie.

Beteken dit nou die mens is volmaak na hy weergebore is?

Soos reeds gesê die mens se gees is nuutgemaak met weergeboorte en geseël deur die Heilige Gees –

Efs 1:13 AOV in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,

Die mens se gees is nuutgemaak en God se saad is in die mens se gees en die mens se gees kan nie meer sondig nie –

1Jo 3:9 AOV Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie, omdat sy saad in hom bly; en hy kan nie sondig nie, want hy is uit God gebore.

God sê egter die mens gaan steeds sondig solank hy hier op die aarde is –

1Jo 1:8 AOV As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie.

Dit beteken die siel gaan steeds sondig solank die mens op die aarde is, maar die gees kan nie sondig nie.

Die Woord sê verder vir ons Christus het eenmaal vir altyd vir die mens se sonde gesterf –

Heb 9:11-12 AOV Maar Christus, wat opgetree het as Hoëpriester van die toekomstige weldade, het deur die groter en volmaakter tabernakel wat nie met hande gemaak is nie, dit wil sê, wat nie aan hierdie skepping behoort nie, ook nie met die bloed van bokke en kalwers nie, maar met sy eie bloed, een maal ingegaan in die heiligdom en ‘n ewige verlossing teweeggebring.

Israel moes gereeld diere offers vir hulle sonde bring, maar Christus se offer vir die mens sonde was slegs eenmaal vir altyd nodig.

Die vraag kom nou op, is Christus se offer vir die mens se sonde net vir die sonde wat gedoen is tot en met die mens se weergeboorte of is dit ook vir die mens se sondes na weergeboorte?

Die mens solank hy op die aarde is sal nie volmaak wees nie, maar Christus se offer het klaar al die sonde weggeneem vir eens en altyd.

1Jo 1:8 AOV As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie.

Die probleem is egter wanneer die mens weer sonde doen maak hy homself weer oop vir invloed van die duiwel en kan dit lei tot aanval op die liggaam bv siekte en die dood van die liggaam hier op die aarde –

Jak 1:14-15 AOV Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort.

God sê egter verder dat as die mens sy sonde aan Hom bely sal hy vergewe word en die invloed van die duiwel verbreek word –

1Jo 1: 9 AOV As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.

Nou kom ons weer by die vraag, kan ‘n wedergebore mens sy redding verloor deur sonde?

1 Joh 1:8 sê die mens is nie sondeloos na weergeboorte nie, sy siel en liggaam neig steeds na sonde maar hy sal sy redding behou.

Voorbeelde uit die Skrif is:

  • 1Ko 5:3-5 AOV ….. om hom wat so iets gedoen het, in die Naam van onse Here Jesus Christus, as julle vergader het en my gees saam met die krag van onse Here Jesus Christusom so iemand aan die Satan oor te lewer tot verderf van die vlees, sodat die gees gered kan word in die dag van die Here Jesus.

Hier gaan dit oor ‘n man wat saam met sy stiefma as man en vrou saamgeleef het en uit die gemeente verban moes word daaroor om nie die gemeente te beïnvloed nie. Die belangrike deel is verder dat sy liggaam liewer moet opgeoffer word sodat sy gees gered sal wees. Hierdie man se sonde was nie genoeg om sy redding te verloor nie.

  • 1Ko 3:10-15 AOV Volgens die genade van God wat aan my gegee is, het ek soos ‘n bekwame boumeester die fondament gelê, en ‘n ander bou daarop; maar elkeen moet oppas hoe hy daarop bou. Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels— elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.

Hier word verduidelik dat alles wat die mens doen, sleg of goed, na weergeboorte gaan hy oor verantwoording moet doen voor Christus en gaan hy daar volgens beloon word. Al was sy optrede baie sleg sal hy steeds gered wees.

Met weergeboorte kom die Heilige Gees in die mens woon en Hy gaan hom lei deur sy gewete, om te weet wat is reg en wat is verkeerd. Dit hang egter van die mens af of hy gaan luister na sy gewete of nie. Indien hy aangaan met sy lewe soos voor weergeboorte kan daar ‘n vraagteken wees of hy regtig gered is of nie.

Dit is egter ook moontlik om God te verwerp na die mens weergebore is –

Heb 6:4-6 AOV Want dit is onmoontlik om die wat eenmaal verlig geword het en die hemelse gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het, en die goeie woord van God gesmaak het en die kragte van die toekomstige wêreld, en afvallig geword het—om dié weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak.

In hierdie geval is die mens verlore en kan nie weer gered word nie.

Ter afsluiting –

  • God het elkeen lief en vergewe almal se sonde (2 Kor 5:18-19), maar elke persoon moet self besluit uit sy vrye wil of hy God se genade gaan aanvaar of nie.
  • Netso moet elkeen self besluit of hy met God en Jesus ‘n verhouding gaan bou of slegs voortploeter met sy lewe (Rom 12:2).
  • ‘n Mens kan nie net sommer sy redding verloor nie, al maak hy baie foute want Jesus doen vir ons voorspraak by God (1 Joh 2:1) en ons weergebore gees is sonder sonde (1 Joh 3:9).
  • Wanneer ‘n mens nie die sonde gaan teenstaan nie en teenoor God bely nie (1 Joh 1:9), gaan die sonde hom verhard wat kan lei na ‘n harde en moeilike lewe hier op die aarde (Rom 6:16) en selfs tot ‘n vlak om God te verwerp (Heb 6:4-6).
  • Solank die mens se gewete hom aanval is hy gered, want dit is God wat hom deur die Heilige Gees waarsku (1 Joh 3:19-22 & 1 Tim 1:18-19), maar wanneer hy God verwerp, sal daar nie meer ‘n gewete wees wat hom waarsku nie (Tit 1:15).
  • Dit kom daarop neer, die mens moet self besluit om redding te aanvaar en self weer besluit om van hierdie redding afstand toe doen met die opvolgende besluit om God te verwerp.

Gebed –

  • Dankie Vader vir U onbeperkte liefde vir ons,
  • Dankie vir Jesus wat vir ons sonde gesterf het,
  • Dankie dat ons nou toegang tot U het,
  • Dankie dat U nie toelaat dat ons U maklik weer kan verloor nie,
  • Dankie vir U woord wat ons lei in die pad wat U wil hê ons moet loop hier op aarde
  • Amen



(K012) Voorspoedige siel bring voorspoedige lewe.

Hoe voorspoedig is jou lewe?

In watter toestand is jou siel maw jou gemoed en emosies?

Waarmee voed jy jou siel – die wêreld se dinge of God se Woord?



3Jo 1:2 AOV Geliefde, ek wens dat dit met jou in alles goed mag gaan en dat jy gesond is, soos dit met jou siel goed gaan;

Wat is ons siel en waar pas dit in?

Ons as mens bestaan uit 3 dele – gees, siel en liggaam (1 Tes 5:23)

Jou gees is die deel wat weergebore word wanneer jy glo en verklaar dat Jesus jou verlosser is.

Jou siel is jou verstand, wil en emosies.

Jou liggaam is dit wat jy fisies kan sien en voel.

Wat is die doel van jou gees en siel?

Jou gees is die deel wat met God kommunikeer want God is Gees.

Joh 4:24 AOV God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.

Jou siel is in middel(die brug) tussen jou gees en jou liggaam.

Die Heilige Gees, ons trooster en leier (Joh 14:26), praat met jou gees wat dit dan weer deurgee na jou siel, maar jou siel moet oop wees om te ontvang en daarop te reageer.

Jou siel beïnvloed jou optrede en die stand van jou liggaam.

Voorbeelde –

  • Jou vrees vir armoede is so groot dat jy dag en nag werk vir ‘n goeie inkomste en dan ly jou gesondheid en gesinslewe daaronder, omdat jy nie voldoende rus en tyd met jou gesin kry nie. Jy glo waarskynlik nie God sal voorsien nie.
  • Wanneer die winter begin, vertel jy jouself jy gaan griep kry en dan kry jy griep. Indien jy positief was en vir jouself vertel jy gaan nie siek word nie, sal jy hoogswaarskynlik nie siek woord nie, toets dit ‘n bietjie in die toekoms. Jy glo waarskynlik nie God sal jou beskerm nie.
  • Dit gaan sleg met ons veiligheid, as jy heeldag met die geloof in jou rondloop dat dit net ‘n tyd is voor jy ook geroof gaan word, gaan dit moontlik gebeur want jy vertrou nie God nie en dat Hy jou sal beskerm nie.

Wat is in jou siel maw jou denke en emosies?

Is daar vrede en rustigheid of is daar onvergewensgesindheid, bitterheid, woede, gierigheid, vrees en bekommernis?

Dit wat in jou siel is, het ‘n direkte invloed op jou liggaam – positief of negatief

Positiewe invloed vanaf jou siel gee jou ‘n gesonde liggaam, maar negatiewe invloed maak jou liggaam siek en breek dit af.

Hoe voed jy jou siel?

Voed jy jou siel met die wêreld se probleme? Jesus verduidelik dit in Mar 4:18-19 met die gelykenis van die saaier wat die Woord saai en die verskillende grond waarin die saad val?

Mar 4:18-19 AOV En hulle by wie in die dorings gesaai word—dit is hulle wat die woord hoor, en die sorge van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom en die begeerlikhede in verband met die ander dinge kom in en verstik die woord, en dit word onvrugbaar.

Val jy prooi vir die dinge van hierdie wêreld, omdat jy na verkeerde flieks kyk en al die nuus glo wat jy deur TV en sosiale media ontvang?

Jaag jy so hard rykdom of finansiële oorlewing na, dat jy geen liggaamlike of geestelik rus kry nie?

Lewe jy in soveel vrees dat jy ook ‘n misdaad-slagoffer gaan word?

Is jou verhoudings met ander in ‘n swak toestand?

Wat moet jou siel voed?

Jesus sê jy moet na Hom toe kom en rus vir jou siel by Hom vind –

Mat 11:28-30 AOV Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig.

Dan sal jy die goeie grond wees vir die saad om vrugte te dra –

Mar 4:20 AOV En dit is hulle by wie in die goeie grond gesaai is—hulle wat die woord hoor en aanneem en vrugte dra: een dertig— en een sestig— en een honderdvoudig.

Voed jou siel met God se Woord, omdat jy aan Christus behoort en loop die pad met die Heilige Gees –  

Gal 5:24-25 AOV Maar die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig. As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel.

En dan sal jy doen wat reg is en in vrede en gesondheid lewe –

Fil 4:8 AOV Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is—watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.

Ter afsluiting –

  • Wanneer jou siel in rus en vrede is, sal jou liggaam gesond wees.
  • Vind die rus en vrede vir jou siel in God se Woord en nie wat in die wêreld gebeur nie.
  • Luister na die Heilig Gees vir vertroosting en leiding.

Gebed –

  • Dankie Vader vir U liefde vir ons,
  • Dankie Vader vir U geduld met ons,
  • Dankie dat ons sonder enige twyfel weet dat U daar is vir ons,
  • Help ons asb om ons siel oop te maak sodat ons leiding en troos van die Heilige Gees kan ontvang,
  • Ons vra dit in Jesus se naam
  • Amen



(P001) Vrede van God in ‘n gewelddadige wêreld

Is jy bekommerd of bang oor wat in die wêreld aangaan? Wil jy weet wat jy kan doen?



Wat gaan aan in die wêreld?

Hier naby in ons land is:

  • Daar geweld teen mense, haat teen verskillende mense-groepe word aangeblaas deur leiers.
  • Daar is geen respek vir wet en orde nie, elkeen wil sy eie sin kry of dit nou reg of verkeerd is en indien nodig met geweld.

In die res van die wêreld gaan dit net so erg:

  • Regeringsleiers maak besluite vir hulle onderdane wat nie goed is nie.
  • Daar is ‘n oorlog al vir maande aan die gang in Oos-Europa en die rede is nie duidelik nie, al wat seker is, is dat dit deur die duiwel begin en beheer word.
  • Daar is ‘n geloofsgroep wat mense doodeenvoudig net vermoor omdat dit deur hulle geloof voorgeskryf word.
  • ‘n Faksie van hierdie geloofsgroep het nou weer Israel vir die soveelste keer aangeval en die metodes wat hierdie keer gebruik word kan net deur mense wat totaal duiwelbesetenes is gedoen word. Daar is nou ‘n volskaalse oorlog tussen God se uitverkore volk en die duiwel se volgelinge veroorsaak en baie mense gaan sterf of hulle nou skuldig of onskuldig is.
  • Die self-verklaarde visie van hierdie geloofsgroep is om al die Jode en christene van die wêreld af te vee.

Baie Christen-leiers voorspel wat nou gebeur in die wêreld is die einde soos dit in God se Woord voorspel word.

Jesus het egter gesê net God weet hierdie datum.

Mar 13:32+33 AOV Maar van daardie dag en dié uur weet niemand nie, ook nie die engele in die hemel of die Seun nie, maar net die Vader. Pas op, waak en bid, want julle weet nie wanneer die tyd daar is nie.

Uit hierdie gedeelte (gaan lees die hele hoofstuk) wil dit so voorkom of dit nou die tyd is, maar steeds dit is net God wat weet, niemand anders nie. Ons opdrag is om te waak en te bid

Waar staan ons as weergebore kinders van God met alles wat in die wêreld gebeur?

  • Moet nie vreesbevange word nie –

Die duiwel wil ons bangmaak sodat ons in vrees moet lewe –

1Pe 5:8 AOV Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.

Wat kan die duiwel aan ons doen?

Hy kan slegs dat sy handlangers ons liggame doodmaak, maar dan is ons gees en siel by Jesus.

  • God belowe Hy sal ons beskerm –

Heb 13:5-6 AOV Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie. Daarom kan ons met alle vrymoedigheid sê: Die Here is vir my ‘n Helper, en ek sal nie vrees nie; wat sal ‘n mens aan my doen?

Gaan lees ook Ps 91, 1Pet 5:7, 2Pet 2:9, Mat 28:20, Jak 4:7 & Luk 21:18

  • Jesus het egter ook gewaarsku dat ons vir sy Naam vervolg sal word –

Mar 13:9&11 AOV Maar wees julle vir julleself op die hoede, want hulle sal julle oorlewer aan regbanke, en in sinagoges sal julle geslaan word en voor goewerneurs en konings gebring word om My ontwil, vir hulle tot ‘n getuienis. 11 En wanneer hulle jul weglei om julle oor te lewer, moenie julle vooraf kwel oor wat julle sal spreek nie, en moenie daaroor dink nie; maar wat julle in dié uur gegee word, dit moet julle spreek; want dit is nie julle wat spreek nie, maar die Heilige Gees.

Die Heilige Gees sal ons egter ondersteun wanneer dit gebeur en hoor ons nie baie getuienisse van gelowiges wat vervolg word en dan vasgestaan het vir Jesus nie, dit kan net die Heilige Gees wees wat hulle ondersteun het.

  • God het ook vir ons die wapenrusting gegee om teen die duiwel staande te bly –

Efs 6:11 AOV Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel.  

Lees tot by vers 18 waar die wapenrusting verduidelik word.

Die tragedie is egter daar sterf, soos nou in Israel, baie dalk die meerderheid wat nie Jesus as verlosser aanvaar het nie omdat hulle Hom nie ken nie of wil ken as verlosser nie en wie se gees en siel opeindig in die hel.

Wat kan ons daaraan doen?

  • Ons moet die boodskap van Jesus as verlosser op elke moontlike metode versprei. Vertel aan vriende, kennisse, mede werkers, veral oor die sosiale media waar dit ver kan versprei, ens.
  • Bid dat die Heilige Gees hulle sal aanraak en hulle self sal besluit om in Jesus as verlosser te glo en te bely.

Om mee af te sluit –

  1. Individueel kan ons niks doen, om dit wat in die wêreld gebeur te verander nie, maar ons kan nie op ‘n hopie gaan sit en wag vir Jesus se koms of om dood te gaan nie.
  2. Ons moet die goeie nuus van Jesus aan die wêreld te vertel sonder vrees soos in die Skrif aan ons vertel word –

2Ti 1:7-9 AOV Want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing. Skaam jou dan nie oor die getuienis van onse Here of oor my, sy gevangene nie, maar ly saam verdrukkinge vir die evangelie na die krag van God wat ons gered en geroep het met ‘n heilige roeping, ……

  • Ons moet gereed en waaksaam wees soos Jesus aan ons opgedra het –

Mar 13:32-33 AOV Maar van daardie dag en dié uur weet niemand nie, ook nie die engele in die hemel of die Seun nie, maar net die Vader. Pas op, waak en bid, want julle weet nie wanneer die tyd daar is nie.

  • Moenie in vrees lewe of bekommerd wees oor wat met ons gaan gebeur nie want die Skrif sê vir ons –

Fil 4:6-7 AOV Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.

Jes 41:10 AOV Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand.

Rom 8:31 AOV Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons wees?

1Pe 5:7 AOV Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle.

Waar kan ons meer rus en vrede vind met alles wat om ons en met ons gebeur, as hierdie bevestiging en bewys dat God na ons, as Sy weergebore kinders van Hom, sal omsien en beskerm.

Staan vas in die Heilige Gees indien dit oor ons pad kom dat ons vir Jesus se Naam moet ly.

Bemoedig mede-gelowiges met hierdie waarheid en help hulle om die duiwel teen te staan.

Gebed –

  • Vader ons loof en prys U, want U is die grootste en so groot dat dit bo ons verstand is,
  • Vader U woord verklaar U is liefde en dat U almal op aarde lief het, ook die ongelowiges,
  • Dankie vir Jesus wat U aarde toe gestuur het om, soos in U woord verklaar, dat almal wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie,
  • Vader plaas asb U hand van vertroosting op almal wat tans ly deur die werk van die duiwel en wys hulle die pad van vryheid in U deur U Gees,
  • Vader bring asb die goeie nuus van Jesus na die harte van almal wat die duiwel toelaat om die onmenslike werk deur hulle te doen en gee hulle die geleentheid om Jesus bo die duiwel te kies.
  • Ons vra dit in die Naam van Jesus

Amen